Jy sou nie ’n 36-grootte jean aantrek as jy ’n 32 was nie, reg? Wanneer jy jou kind in ’n karstoeltjie sit met ’n bonkige winterbaadjie aan, doen jy eintlik presies dieselfde ding, maar met moontlik rampspoedige gevolge.
In ondersteuning van Nasionale Kinderbeskermingsweek, kyk 1st for Women ‘n bietjie nader na die verbintenis tussen karstoeltjies, winterbaadjies en jou kind se veiligheid.
“Bonkige baadjies skep die illusie dat jou kind veilig in hulle karstoeltjie vasgegespe is, terwyl die teenoorgestelde waar is. As jy jou kind se harnas rondom ‘n dik baadjie vasmaak, sal die baadjie tydens ‘n ongeluk saampers, wat weer die harnas los sal laat sit – iets wat die risiko van beserings verhoog”, verduidelik 1st for Women Insurance se woordvoerder, Casey Rosseau.
Die problem met ‘n dik baadjie is dat dit sal voorkom asof die harnas mooi styf aan die kind vas is, terwyl daar in werklikheid te veel ruimte geskep word deur die sagte material tussen die baadjie en die kind. Om ekstra speling in harnasse te vermy geld vir kinders in versterkte sitplekke (“booster seats”) ook.
Die knyptoets is ’n eenvoudige manier om hierdie teorie te toets:
Stap 1: Hou die groot winterbaadjie aan en gespe jou kind in hulle karstoeltjie vas. Maak die harnas so styf vas soos wat jy gewoonlik sou voordat julle vertrek.
Stap 2: Ontkoppel die harnas sonder om dit losser te maak en haal jou kind uit die karstoeltjie.
Stap 3: Trek die baadjie uit en laat jou kind weer in die karstoeltjie sit. Maak dan die harnas vas, sonder om dit te verstel.
Wanneer dit vasgegespe is, behoort jy nie die harnas by die skouergedeelte tussen jou vingers te kan vasknyp nie. Met ‘n harnas wat knus en veilig sit, moet jou vingers bloot van die harnas afgly wanneer jy probeer om dit vas te knyp. Die kans is groot dat jy die harnas stywer sal moet vasmaak om jou kind behoorlik te pas.
Plaas jou kind se veiligheid eerste en hou hulle warm met hierdie nuttige moets en moenies:
- Gaan jou kind se klere na voordat jy hulle vasgespe en maak seker dat hulle niks meer dra as wat hulle binneshuis sou nie.
- Maak seker dat jou kind knus vas is in hulle karstoeltjie.
- Moenie van die kynptoets vergeet om seker te maak dat die harnas styf genoeg vas is nie.
- Gebruik hulle baadjie as ‘n kombers. Dit word gedoen deur die baadjie om te draai en dit agterstevoor om aan te trek met hulle arms deur die moue.
- Moenie enige iets onder jou kind in die karstoeltjie – of tussen jou kind en die harnas – plaas nie.