Ons word geïnspireer deur mense, aanhalings, mooi woorde, artikels en dies meer. Maar jy kan self die inspirasie vir jou kinders wees, sê die kenner
Om geïnspireer te word, moet ons ander inspireer.
Dit wat ons vir ander leer, leer ons ook self. As jy dus jou kinders inspireer, is dit ’n wen-wen-situasie, sê Cindy Glass, direkteur en medestigter van die Step Up-onderrigsentrums.
“Dit wat jy gee, gaan jy ontvang. Ouers is geneig om te vergeet dat hulle net so gelukkig, vol vreugde en geïnspireerd soos hul kinders kan wees en ook verdien om te wees.
“As ’n ouer is jy jou kinders se eerste en langste onderwyser. Wanneer jy geïnspireerd is, gaan daar wêrelde vir jou oop en motiveer jy jouself en ook jou kinders. Liefde, geluk en vrede sal boustene word, wat weer ‘n klomp nuwe dinge moontlik maak,” vertel Carol.
Sy noem dat mense geen kwalifikasies nodig het om ’n inspirasie te word nie. Jy moet net iemand wees wat bereid is om vir ander mense die inspirasie te gee wat jy vir jouself toewens!
Cindy gee ses maklike maniere om jou kind te inspireer:
- Wees vriendelik. Dade van vriendelikheid, ’n sagte woord van aanmoediging, behulpsaamheid vir dié wat dit kort, ’n glimlag vir ’n vreemdeling en deur diere te help wanneer jy kan, is alles dinge wat jou kinders kan inspireer.
- Wees dankbaar. Maak dit ‘n daaglikse gewoonte om te wys hoe dankbaar jy is vir alles wat jy het. Ja, almal het probleme, dinge wat seermaak en uitdagings, maar kyk dieper – jy het baie om voor dankbaar te wees. Leer jou kinders die krag van dankbaarheid. Dit gaan jou en hul lewe verander!
- Wees vrygewig. Vind maniere om vrygewig te wees. Vrygewigheid hoef nie gemonitor te word nie, plant net die saadjie. Om liefde, vreugde, jou tyd en deernis te gee, sal jy jou kinders inspireer om dieselfde te doen.
- Luister. Luister om te verstaan, sonder om in die rede te wil val of iemand negatief te beïnvloed. Inspireer jou kinders om te luister sonder dat hulle mense vooroordeel.
- Kry vrede. Vind maniere om vrede in jou lewe te vind, soos joga, meditasie, oefening, die lees van opbouende boeke, wat ook al nodig is. Daar is nie ‘n beter geskenk as vrede nie.
- Wees passievol. Om opgewonde oor die lewe te wees, is aansteeklik. Wees jy self opgewonde en moedig jou kinders aan met elke klein positiewe vordering wat hulle maak. Jy en jou kinders sal floreer.
Besoek www.stepup.co.za en lees meer