Sal jy oorweeg om jou kinders ’n pilletjie te laat sluk as dit hul punte sal laat opskiet? Sommige ouers sê ja
Jou kind ly nie aan aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) nie. Sy is gesond en kan op eie stoom bo in die klas wees. Maar tog kom jy agter haar 90% daal na ‘n 85% wanneer die kwartaal besig raak. Sal jy na iets soos Ritalin gryp om haar akademies “bo” te hou? Maretha Botes gesels met Christi Engelbrecht, ervare arbeidsterapeut, oor dié saak.
Rinda Lotriet sit met die situasie dat haar kind in graad 1 en 2 ‘n absolute uitskieter was, maar in graad 3 val die kind bietjie terug. Daar is hordes ekstra werk asook ekstra buitemuurse aktiwiteite. Watter raad het jy as ervare arbeidsterapeut, vir ma’s en pa’s wat nou dink die enigste roete is Ritalin of soortgelyke middels? Watter alternatiewe roetes kan hulle volg?
Christi: Neem die onderwyseres in jou vertroue. Gaan gesels met haar en hoor of daar enigiets is waaroor sy bekommerd is in die klas en hoe julle as ‘n span kan saamwerk om jou kind te ondersteun. Ouers moet baie versigtig in hul motivering en aanmoediging wees, dat die klem nie val op die uitslag, sooos punte behaal of posisie beklee, wen en so aan nie, maar op die toewyding en moeite wat die kind ingesit het om haar doelwit te bereik. Dink aan korttermynprestasie teenoor langtermynvaardighede! Die oomblik wat die klem op die “uitslag” val, kan die kind prestasie-angs ontwikkel, wat die vermoë om te leer belemmer.
LEES OOK: Selfmedikasie: goed of gevaarlik
Medisyne soos Ritalin help kinders onder andere met fokus, impulskontrole en selfbeheer, terwyl ouers kan help om meer struktuur aan ‘n kind te gee. Om die gewenste uitwerking op die kind se gedrag te hê, beteken soms dat die omgewing gemanipuleer moet word of dat struktuur geskep moet word wat die kind sal help om optimaal te kan funksioneer.
LEES OOK: ’n Lewe met AGHS
Klein dingetjies wat baie kan help sluit die volgende in:
- Soms is dit nodig om in ‘n oorvol buitemuurse program in te gryp.
- Voorspelbaarheid – die kind moet weet wat van hom verwag word en hoe sy/haar dag of klas min of meer gaan verloop.
- Bly georganiseerd. Roetine help baie.
- Beperk keuses en opsies vir ‘n makliker besluitnemingsproses.
- Realistiese positiewe terugvoering en erkenning is baie belangrik.
- Fokus op die kind se sterk punte en maak dit nog sterker – dit gee selfvertroue
- Hou die instruksies kort.
- Beperk dinge wat die kind se aandag kan aftrek. As die kind visueel afleibaar is, dink aan sy sitposisie in die klas. Waar gaan die minste dinge sy/haar aandag aftrek.
- As die outjie wat intern afleibaar is (dromer/lyk of hy nie hoor nie), bring sy gedagtes terug deur aan hom te raak of deur sy naam te noem en gee eenvoudige duidelike opdragte. Maak oogkontak met die kind en indien nodig, laat hy die opdrag herhaal voor hy met sy werk begin.
- Vir die outjie wat nie klaarkry met sy opdragte nie, kan ‘n wekker of horlosie gebruik word en byvoorbeeld vir hom gewys word: As die lang wyser hiér kom, moet jou wiskunde klaar wees.
- “Therabands”, vasgebind tussen die klasstoeltjie se pote, is ‘n baie oulike idee vir die kinders wat effens woelig is of dalk kinestetiese leerders is (beweging nodig het vir leer). Só hinder hulle nie hul maats of die klasjuffrou deur die tafelpoot te skop of te tik met die voet of bene rond te swaai nie. Hul behoefte om te beweeg, word op ‘n meer aanvaarbare manier bevredig.
- “Move-and-sit Cushions” werk ook goed op die kind se stoel. Die kind kry die hele tyd sensoriese terugvoer, want met elke beweging word posturele aanpassings gemaak ten einde balans in die sitposisie te herstel.
- “Weighted collars” – jy hang dit soos ‘n los kragie om die kind se skouers en die sensoriese terugvoering van die bietjie ekstra gewig op die skouers help ook dat die kind minder woelig en afleibaar is.