‘n Kanadese blogger, Blair King, glo hedendaagse ouers is besig om hulpelose, egosentriese kinders groot te maak en ondermyn onderwysers in die proses.
Deur JACKIE PIENAAR-BRINK
Dr. Tienie Maritz, ‘n sielkundige van Pretoria, gee sý mening na aanleiding van ‘n klompie persoonlike lewenslesse wat Blair oor kind grootmaak met mede-ouers gedeel het.
Blair: ‘n Onderwyser kan nie ‘n ouer se rol in ‘n kind se opvoeding vervang nie.
Tienie: Die totale opvoedingsverantwoordelikheid lê by die ouer en die ouer kan dit nie op die onderwyser afskuif nie. Om ‘n kind optimaal te help ontwikkel, is die vennootskap tussen ouer en onderwyser baie noodsaaklik.
In die Onderwysreg word gepraat van in loco parentis – betekende “in die plek van die ouer”. Die onderwyser se rol is om ‘n “verlengstuk” van die ouer te word, hoofsaaklik om “leer” te laat gebeur. Hierdie is dus ‘n vennootskap tussen kind-ouer-onderwyser.
Die twee volwassenes in die vennootskap is altyd beskou as die “gesagsdraers” wat die kind “lei na volwassenheid en verantwoordelikheid”. Sodra die kind ‘n “gesagsdraer” word deur besluite te neem, is daar meer as dikwels wanbalans.
Die ontwikkelingsvlak van kinders bepaal hul vermoë om verantwoordelik op te tree. Hoeveel verantwoordelikheid kan gegee word aan ‘n kind wat byvoorbeeld nog nie die doel van huiswerk verstaan nie en wat ‘n “fuss” daaroor wil maak?
Blair: Ouers moet vir hulle kinders se regte opkom, maar daarmee saam kom die verantwoordelikheid om aan onderwysers die nodige ondersteuning te bied.
Tienie: In kort: Ouers is primêre opvoeders binne die etiese omgewing en die onderwyser is die sekondêre opvoeder binne die logies-analitiese/kennisomgewing. Daar is egter definitiewe oorvleuelings en ‘n goeie verhouding tussen ouer en onderwyser maak die ontwikkeling van die kind net soveel meer suksesvol. Behandel dus die onderwyser met die nodige respek om jou kind so te bevoordeel.
Blair: ‘n Ouer moet nie as ‘n kind se beste vriend optree nie.
Tienie: Wanneer ouers as die gesagsfigure aanvaar word, word daar geïmpliseer dat hul die kind kan lei tot verantwoordelikheid in elke ontwikkelingsfase en ouderdom. Ouers vergeet soms ongelukkig dat opvoeding primêr oor die losmaking van die kind gaan sodat selfverwesenliking bereik kan word. Dit is ‘n tydsame proses wat baie deursettingsvermoë en geduld verg.
As die ouer die primêre opvoeder is, is dit ook sielkundig so dat die ouer se invloed op die kind baie groot is. Die kind se eerste ontwikkelingsbehoefte lê daarin in om veilig te voel (vergelyk die werk van John Bowlby en die Attachment Theory). Die ouer vorm die kind se veiligheid wat binne die ouerhuis gevestig word.
Om ontwikkelingsbehoeftes te bevredig, verg ouerverantwoordelikheid. Ouers is dus die kind se eerste identifikasiefiguur en ouers se optrede moet dus respek afdwing. Die verhouding tussen ouer en kind is dus ‘n “kenverhouding, vertrouensverhouding en gesagsverhouding”.
Die vertrouensverhouding en kenverhouding impliseer mekaar – jy vertrou iemand wat jy ken. Die gesagsverhouding is meer kompleks. Kan die kind ‘n gesagsverhouding tot die ouer hê? Die oomblik wanneer die kind gesag kan uitoefen oor ‘n situasie, is die vraag – is dit paslik tot die ouderdom van die kind? Kan ‘n tienjarige ‘n baba oppas by die swembad en die volle verantwoordelikheid dra? Bietjie ekstreem, maar tog om te illustreer dat ouers ontoepaslike verantwoordelikheid kan toedig aan ‘n kind. Kan ‘n kind besluit om skool toe te gaan of nie? Kan ‘n kind besluit om te studeer al dan nie?
Die gesagsverhouding van die volwassene sal sekerlik toepaslik moet wees, aangesien die kind nie die volle verantwoordelikheid van die besluit kan dra nie. Die ouers as primêre opvoeders
moet hul ongelooflike invloed op die kind verstaan.
Blair: Die één swakheid by kinders waarvoor ouers die skuld moet dra, is aangeleerde hulpeloosheid.
Tienie: Die proses van “voordoen, saamdoen, selfdoen” is die basiese riglyn hier. Om ‘n vals beeld by die kind te vestig deur telkens die kind te wil “spaar” van swaarkry of mislukking, dien geen doel nie en veroorsaak ‘n oorafhanklikheid van die kind en op die lang duur inspanningsloosheid en aangeleerde hulpeloosheid.
Blair: Ouers moet erken wanneer hulle verkeerd was en seker maak hul kinders hoor hulle om verskoning vra.
Tienie: Ouers en kinders is mense wat foute maak. Die maklikste manier om die waarheid aan die kind oor te dra, is om nooit “heilig en onaantasbaar” op te tree nie, maar nederig om verskoning te vra indien dit nodig sal wees. So leer die kind ook om sy eie foute te erken, daarvoor om verskoning te vra en die foute te herstel.