Dit vat soms kopkrap om hierdie klein wesens te verstaan. JB Roux kyk na ‘n nuwe boek
Om ’n baba of peuter te hê, kan ingewikkeld wees. Daar is soveel moets en moenies, goedbedoelde raad van vriende en familielede en menings van kenners. In haar boek The Precious Years gee Jacqui Couper raad aan ouers en kleuterskoolonderwysers. Jacqui is ’n arbeidsterapeut met 25 jaar se ervaring. Sy is ook in neuro-ontwikkelingsterapie opgelei. In The Precious Years takel Jacqui onder meer ? par van die vrae waaroor ma’s met kinders jonger as drie jaar dikwels wonder.
Kan peuters verveeld raak?
Jong kinders is nuuskierig en selfgemotiveerd. Peuters en babas hou daarvan om te leer en speel dikwels met eenvoudige voorwerpe soos ’n stukkie lap, ’n blaar of leë kartonhouers. Wanneer kinders nie met “gewone” speelgoed speel of probeer om ’n nuwe speletjie of leerkonsep te verstaan nie, vermoed ouers soms dis omdat dié dinge hul kinders verveel. Ouers wie se kinders ’n volgepakte daaglikse roetine volg, met min tyd om te speel soos hulle wil, glo ook dikwels hul kinders raak verveeld as hulle nie hul “vrye tyd” benut nie. Die waarheid is dat sulke kinders nie geleer het hoe om hulself besig te hou nie.
“Verveling” is dikwels ook ’n manier vir jong kinders om oorstimulering te hanteer. Dis dalk ook ’n onvermoë om te verstaan hoe konvensionele speelgoed werk. Om jou kinders toe te laat om verveeld te wees, kan hulle dwing om meer kreatief te wees wanneer hulle vir hulleself speletjies moet uitdink.
Wen 1 eksemplaar van The precious years. Klik hier om in te skryf
Kan ouers hul kinders oorstimuleer met uitstappies en speletjies?
Volgens Jacqui kan jong kinders beslis deur te veel lig, te veel geraas en te veel beweging oorgestimuleer word. ’n Goeie voorbeeld is wanneer jy jou kind saamneem na ’n inkopiesentrum.
Onthou dat dit vir kinders moeilik is om te sê wanneer hulle genoeg gestimuleer is. Ouers moet daarom hul kinders se gedrag dophou, byvoorbeeld wanneer hulle hul oë vryf en gaap as hulle moeg is; of ’n vloermoer gooi, huil of hulself vóór ’n vloermoer onttrek. Daar moet ’n balans tussen stimulasie, rustiger speletjies en genoeg slaaptyd wees.
Moet kinders jonger as drie jaar toegelaat word om TV te kyk en tabletspeletjies te speel?
Volgens Jacqui word aanvaar dat kinders jonger as twee jaar nie aan TV blootgestel moet word nie. Met kinders ouer as twee moet skermtyd sinvol beperk en beheer word. Kinders leer deur ’n driedimensionele wêreld te verken. Hulle kan ’n speelding vashou, voel en manipuleer. Hulle moet aktief by spel betrokke wees om te kan leer. Dis ook belangrik vir jong kinders om te beweeg – dit ontwikkel hul spiere en koördinasie. Kinders wat te veel tyd voor ’n TV- of rekenaarskerm deurbring, loop die risiko dat hul ontwikkeling gestrem kan word.
Is dit aanvaarbaar as seuns met poppe speel en meisies met karretjies?
Seuns verkies oor die algemeen om met karretjies te speel en dogtertjies met poppe, maar alle kinders moet aan “geslaglose” speelgoed blootgestel word.
Kan speelgoed en speletjies my kind “slimmer” maak?
Opvoedkundige speelgoed, skryf Jacqui, kan kinders verskillende konsepte leer, maar speelgoed kan nie ’n kind slimmer maak nie – dis hóé hulle daarmee speel wat ’n verskil maak. Kinders kan kreatief wees en “slimmer” word deur met eenvoudige voorwerpe te speel, byvoorbeeld met klippe.
Wat is die normale ouderdom vir peuters om te begin loop?
Dit verskil van kind tot kind. As ’n kind op 18 maande nog nie loop nie, is daar rede tot kommer en moet ondersoek ingestel word.
Wat van ’n loopring?
Deesdae word algemeen aanvaar dat loopringe nie ’n goeie ding is nie. Dis nie altyd veilig nie en baie babas word beseer wanneer die loopring omval. Loopringe inhibeer ook ’n baba se ontwikkeling omdat dit te veel ondersteuning gee wanneer die kind beweeg. ’n Loopring kan ook probleme veroorsaak wanneer die kind later moet begin loop.
Word ’n “Jolly Jumper” aanbeveel?
Hoewel daar geen bewyse is dat dit ’n kind se ontwikkeling negatief beïnvloed nie, hou dit ook nie voordele in nie. Dit word nie aanbeveel vir kinders wat geneig is om op hul tone te staan of ’n styfheid in hul bene het nie.
Wat moet ek doen as my baba huil wanneer ek haar op haar magie neersit?
Daar is verskeie redes hoekom babas nie daarvan hou om op hul magies te wees nie, soos slukprobleme of swak ontwikkelde skouerspiere. Hulle hou dalk nie van die drukking op hul handpalms nie of weet eenvoudig nie hoe om dié posisie te hanteer nie. Dis ’n goeie idee om jou baba soms op haar magie neer te sit, al vind die baba dit ongemaklik. Babas moet geleentheid hê om hulself te verskuif en hul koppe te lig. Dit kan ook dien as voorbereiding vir die baba om te begin kruip.
Hoekom byt my tweejarige ander kinders?
Om te byt is tipiese gedrag onder kinders van hierdie ouderdom. Dis hoe kinders hul sin probeer kry. Sulke kinders beskou alles as “myne”. Sommige tweejariges het ook nie die taalvaardighede om hulself emosioneel uit te druk nie. Indien hulle wel sou kon, sou hulle sê dat hulle kwaad, honger, gefrustreerd, opgewonde, spelerig of moeg is of eenvoudig nie iets wil deel nie. Probeer om ’n bytery te voorkom deur op die uitkyk te wees na tekens van frustrasie, honger en moegheid en dan in te gryp deur die kind se aandag af te lei. As kinders ouer as twee jaar aanhou byt, het hulle dalk spesiale behoeftes en moet professionele hulp verkry word.
Die groot vraag: Wat doen ek wanneer my kind ’n vloermoer gooi?
’n Vloermoer is tipies van ’n tweejarige en is sy of haar manier om behoeftes oor te dra. Hulle het nog nie die taalvaardigheid om te sê wat hulle wil hê nie. Hul emosies raak buite beheer en hulle val op die grond neer en skop en skree.
’n Goeie wenk is om aan die kind te kommunikeer dat jy sy of haar behoeftes verstaan. Jy kan byvoorbeeld sê: “Maria, ek verstaan dat jy kwaad is omdat iemand jou speelding afgeneem het.”
Neem die kind na ’n stil plek om hom of haar gerus te laat voel; praat met hom of haar oor hoe om die “probleem” op te los, byvoorbeeld: “Kom ons gaan vra jou maatjie om die speelding terug te gee.”