Dis iets waaraan baie ouers liefs nie wil dink nie: dat hul tienerkind alkoholvergiftiging kan opdoen. Tog is dit iets wat gereeld gebeur, soms met noodlottige gevolge
Deur JACKIE PIENAAR-BRINK
Die 14-jarige meisie se ma het haar vroegaand by ’n vermaakkompleks in die Kaap afgelaai. Sy was houtgerus. Haar dogter sou vriende daar ontmoet en omdat sy geweet het dat haar kind nie ’n drinker is nie, het sy geen rede tot kommer gehad nie.
Toe sy haar dogter later die aand weer sien, was dit egter in ’n plaaslike hospitaal. Sy is inderhaas per ambulans daarheen gebring nadat sekerheidspersoneel haar so uit soos ’n kers aangetref het. Volgens ’n dokter wat anoniem wil bly, is sy diep komateus by die noodgevalleeenheid van die betrokke hospitaal aangebring.
“Op grond van neurologiese tekens was sy bykans dood.” Toetse het later getoon dat haar alkoholvlak aan die dodelike limiet gegrens het. “Sy is op ’n ventilator geplaas en na die waakeenheid oorgeplaas,” vertel die dokter. Ure later het dinge egter so rof geraak dat sy amper die saal afgebreek het. “Soos haar alkoholvlak gedaal het, het sy die stadium bereik waar sy nie meer diep komateus was nie, maar net plein dronk,” verduidelik hy.
Haar ma moes tot haar skok aanhoor dat haar “soet” dogter die betrokke aand die een na die ander “shooter” so vinnig moontlik in haar keel afgegooi het – iets wat jongmense alte graag doen, maar wat bitter gevaarlik is omdat die alkohol op een slag geabsorbeer word en nie geleidelik nie, sê die dokter. Dis dan wanneer iemand die een oomblik nog vrolik saamgesels, maar die volgende oomblik letterlik omval en bly lê.
Maar sê nou dieselfde gebeur by ’n partytjie by jou huis? Of jou bure se kind kom aangehardloop en smeek om hulp omdat ’n vriend(in) die een oomblik nog die siel van die partytjie was en die volgende oomblik oënskynlik leweloos op die badkamervoer lê?
Feit is: Alkoholvergiftiging kan die dood of permanente breinskade tot gevolg hê. ’n Baie hoë alkoholvlak kan daartoe lei dat die kritieke dele van die brein wat asemhaling, hartklop en liggaamstemperatuur beheer, afgesny word. Enigiemand wat komateus dronk raak, het ernstige etanol-vergiftiging en moet onmiddellik hospitaal toe geneem word, beklemtoon Carine Marks, hoof van die nasionale gifinligtingsentrum. “Let daarop dat slaap en koma verskil in dié opsig dat ’n persoon in ’n koma nie op eksterne stimuli reageer nie.”
Wat dinge kompliseer, is dat die beskonke persoon kan opgooi en in sy of haar eie braaksel kan verstik omdat die slukrefleks geaffekteer word. Carine wys daarop dat dronkenskap op sigself baie keer ook tot ’n traumatiese besering kan lei. Die tiener wat nou so stil daar lê, kon dalk geval en ’n hoofbesering opgedoen het of in ’n ongeluk gewees het. “Daarom is dit belangrik dat so ’n persoon hospitaal toe geneem word sodat ander oorsake uitgeskakel kan word.” Daar kan ook nie uit die oog verloor word nie dat jongmense dikwels ’n kombinasie van alkohol en ander dwelms saam gebruik en dit kan tot ’n koma lei,” sê Carine.
Oor die algemeen is alkohol ’n komplekse kwessie omdat die etanolvlak wat intoksikasie veroorsaak, van individu tot individu verskil. Baie faktore speel ’n rol, onder meer die konsentrasie van die etanol; hoeveel en hoe vinnig jy gedrink het; jou mediese toestand en of jy medikasie neem; of jy die dag geoefen het; en ook of jy geëet het. Volgens Aaron White van die National Institute on Alcohol Abuse and Alcoholism in die VSA, kan tieners meer as volwassenes drink sonder om hul balans te verloor of aan die slaap te raak – die liggaam se waarskuwingstekens om op te hou.
Alkohol het egter ’n baie klein vensterperiode wat veiligheid betref. “Omdat tieners nog nie klaar gegroei het nie, raak hulle makliker vergiftig. Hul toestand kan baie vinnig van opgewektheid na die dood oorgaan.” Dis egter nie net roekelose drinkgewoontes wat tot die dood onder tieners kan lei nie, voeg hy by. “Kinders, en selfs baie volwassenes, glo die beste kuur vir dronkenskap is om dit af te slaap. Dis ’n mite wat lewens kos omdat hulle in die proses in hul eie braaksel kan verdrink of daaraan kan verstik.” Swart koffie, ’n koue stort of om dit “af te stap”, beteken ewe min. Dis ook belangrik om te onthou dat iemand se bloedalkoholkonsentrasie kan styg selfs nadat hy of sy opgehou drink het.
“Alkohol kan steeds vanaf die maagdermkanaal die bloedstroom binnegaan en deur die liggaam sirkuleer,” verduidelik hy. En dan is daar ’n verdere probleem: Al besef tieners dat hulle ná of tydens ’n hewige drinksessie dringend hulp vir hulself of iemand anders benodig, is hulle huiwerig om op te tree omdat hulle in die eerste plek die wet oortree het deur te drink en nie met die gereg wil bots nie.
In Amerika, waar die wettige ouerdomsperk om drank te koop 21 is, word deesdae in heelwat state gepoog om hierdie kwessie deur Medical Amnesty te ondervang. Dit kom daarop neer dat die eerste minderjarige wat vir mediese hulp bel, in beperkte mate van vervolging gevrywaar word. Die beller moet net aandui hoe lank en hoeveel die betrokke persoon gedrink het en hoeveel hy/sy geëet het, aldus Aaron Letzeiser, uitvoerende direkteur van die Medical Amnesty Initiative, ’n organisasie sonder winsbejag.
Dril dit by jou kinders in dat jy 24/7 beskikbaar is in geval van ’n mediese noodgeval, selfs al het hulle die wet oortree deur te drink. Dit kan ’n lewe red
Hoeveel drank kan tot jou dood lei?
Bloedalkoholvlakke word tipies as milligram etanol per desiliter uitgedruk. ’n Vlak van 20-30 mg/ dL word tipies deur die inname van een of twee drankies bereik (een groot glas wyn of twee biere). Die limiet vir motoriste in Suid- Afrika is 50 mg/dL. ’n Bloedvlak van 200 mg/dL lei gewoonlik tot ’n koma. (Dit geld nie noodwendig vir alkoholiste nie, wat ’n hoë toleransie kan opbou.) ’n Vlak van 450 mg/dL sal gewoonlik tot die dood lei, sê Carine.
Tekens van alkoholvergiftiging sluit die volgende in:
- Die besopene reageer nie op eksterne stimuli soos jou stem of as jy hom/haar skud of knyp nie n Disoriëntering
- Deurlopende braking
- Stadige asemhaling (agt of minder per minuut)
- Onreëlmatige asemhaling (tien sekondes of meer tussen asemhalings)
- Stuiptrekkings
- Hipotermie (lae liggaamstemperatuur), blou velkleur, bleekheid
- Lae bloedsuiker, wat tot ’n koma kan lei
Wenke aan ouers
- Lig jou kinders in oor die gevaartekens van alkoholvergiftiging.
- Dril dit by jou kinders in dat jy 24/7 beskikbaar is in geval van ’n mediese noodgeval, selfs al het hulle die wet oortree deur te drink. Dit kan ’n lewe red.
- Bel die nasionale gifinligtingsentrum se noodlyn by 0861 555 777 as jy enigsins onrustig voel. Dit is ’n 24-uur-diens.
- As ’n besope tiener glad nie op eksterne stimuli reageer nie, ontbied dadelik ’n ambulans of ander mediese hulp.
- Draai die tiener onmiddellik op sy/ haar sy om die kans op verstikking in braaksel te verminder.
- Bly by die kind tot hulp opgedaag het en hou hom/haar warm.
- Probeer intussen by die ander tieners uitvind of die betrokke kind geëet het, wat en hoeveel hy/sy gedrink het, en ook oor watter tydperk sodat die inligting aan die mediese beamptes oorgedra kan word. u Probeer uitvind of ander dwelms saam met die alkohol gebruik is.
- As die tiener wel op eksterne stimuli reageer, moet hy of sy steeds dopgehou word omdat alkohol in die bloedstroom kan beland selfs nadat opgehou drink is.
- Moenie enige kos, vloeistof of medikasie aan die kind probeer gee nie.
Noodnommers:
- Nasionale gifinligtingsentrum: 0861 555 777
- Ambulans (nasionaal): 10177
- Noodnommer vanaf ’n selfoon: 112
- Netcare 911 (nasionale noodnommer): 082 911
- Nasionale polisiediens: 10111