Shanda Luyt vra in hierdie week se uitgawe of kinders deeltydse werk moet kry. Ons kyk hier na voor- en nadele
Voordele:
- Dis goeie voorbereiding vir die grootmenslewe.
- Dit bied waardevolle werksondervinding en is iets om op jou CV te sit. Daar is immers sekere goed wat jy nie in boeke kan leer nie, maar net in ‘n werklike werksituasie kan leer hanteer.
- Dit kan dalk vir jou kind ‘n voet in die deur gee by ‘n besigheid en so die eerste sport op sy loopbaanleer wees.
- Jou kind leer die waarde van geld en hoe om sy finansies te bestuur.
- Dis ‘n geleentheid om nuwe vaardighede baas te raak soos hoe om met (moeilike) mense te werk, en ander interpersoonlike vaardighede en kommunikasievaardighede te verbeter.
- Dit help ontwikkel goeie werksetiek soos betroubaarheid, pligsgetrouheid en verantwoordelikheid. Jou kind leer ook dat daar bevrediging is in harde werk en die gepaardgaande sukses.
- Dit help jou tiener om beter tydsbestuur te beoefen om werk, skoolwerk, buitemuurs en sy sosiale lewe in te pas.
- Sy selfvertroue kry ‘n hupstoot namate hy leer dat hy die vermoë het om homself in die werksplek te handhaaf.
- Jou tiener het nou sy eie geld en is nie van jou afhanklik vir luukses nie.
- Hy het die geleentheid om nuwe vriendskappe te smee in die werksplek.
Nadele:
- Jou kind se tyd is meer beperk, so hy kan dalk minder tyd en energie vir huiswerk en ander skoolwerk hê wat tot swakker akademiese resultate kan lei.
- Jou tiener kan dalk van sy buitemuurse aktiwiteite prysgee om te kan werk of onder druk voel om dit te doen omdat hy te moeg voel.
- Jou kind kan minder sosialiseer en van sy tydgenote afgesny voel.
- As sy werkservaring negatief is, kan dit dalk sy houding teenoor werk oor die algemeen negatief maak.
- Verhoogde stresvlakke en druk, veral as die tyd min is en die skoolwerk baie.
- Dit kan vir sommige kinders belangriker raak as hulle akademie sodat hulle skoolwerk begin afskeep.
- Minder gesinstyd saam.
- Kennismaking met die realiteite van die grootmenslewe voor jy nog self ‘n volwassene is en minder tyd om net jou relatief sorgelose kinderjare te geniet.
Vra jouself af:
- Wil jou kind regtig graag werk?
- Hoeveel tyd sal die werk in beslag neem?
- Hoe vol is jou tiener se program? As jou kind reeds sukkel om alles in sy program in te pas, het hy werklik nog tyd en energie om deeltyds te werk?
- Hoe gaan hy na en van die werk af kom? As hy nog nie ‘n lisensie of voertuig het nie, sal jy hom moet rondry, wat weer ‘n ekstra las op jou skedule sit.
- Hoe buigsaam is die werkstye? Sal dit byvoorbeeld ‘n probleem wees as jou kind Saterdae sport doen?