Party ouers wonder oor die dag waarop hul kinders gaan ontdek Kersvader bestaan nie werklik nie. Moet jy jou kind dus enigsins aan ’n gawe Kersvader laat glo?
Deur KRISTEL LOOTS
Kinders sluk gou genoeg swaar aan ’n wolf wat ’n ouma sommer heel insluk en dat die ouma weer, kompleet met haar brilletjie nog op haar neus, ongeskonde uit sy maag kan klim. Tog luister hulle graag as jy vir hulle die storie van Rooikappie vertel, want hulle weet dis presies wat dit is – ’n storie.
Dis egter anders wanneer Kersvader ter sprake kom, veral wanneer hy as ’n werklikheid voorgehou word. Daar is net te veel “bewyse” vir sy bestaan om te ignoreer. Daar is ’n paar happe geneem uit die koekies wat jy oornag vir hom gelos het en die glas melk is opgedrink.
Tog is daar gewoonlik ’n tikkie twyfel en verwarring wanneer hy wel Oukersaand in lewende lywe opdaag. Hoekom het Kersvader Pappa se nuwe horlosie aan die arm? En terloops: Waar ís Pa? Hier is ’n vreemde man in die huis, een met ’n hengse sak oor die skouer en daar is geen teken van jou pa nie!
Ja, die waarheid oor Kersvader kan ’n skok wees, sê dr Diederi Kruger, opvoedkundige sielkundige van Worcester, en wys daarop dat ’n kleuter wat Kersvader “uitvang” ook trots is op sy of haar vermoë van selfontdekking.
As ouers erkenning hieraan gee, word kinders se geloof in hul eie onderskeidingsvermoë versterk en bevorder dit hul selfvertroue. In hierdie ontwikkelingsfase is dit belangrik dat kinders gesonde onderskeiding begin toon om hulle skoolgereed te maak waar hulle al hoe meer op hul eie oordeel moet staatmaak. Jy mag hulle dus nie probeer oortuig dat hulle verkeerd is nie. Die idee is nie om te klinies oor Kersvader te raak nie.
Een van die eerste lesse wat jy jou kind leer, is dan juis om nie leuens te vertel nie. ’n Mens doen dit net nie. En ’n supermens soos Mamma en Pappa? Natúúrlik nie! Ondenkbaar! En tog sit jy Oukersaand met ingehoue asem saam met jou kind en wag vir Kersvader om aan die deur te klop.
“Dis ’n noodleuentjie, niks om oor bekommerd te wees nie,” verseker die skrywer Melinda Moyerbut in ’n artikel in die Washington Post. Kinders het verbeelding nodig om kreatief te wees. Dit laat hulle toe om te droom en van die lelike dinge in die wêreld te ontsnap.
LEES OOK: Kersmites
Teen die tyd dat ’n kind sowat agt jaar oud is, kan hy of sy tussen fantasie en werklikheid onderskei, stel Jacqueline Woolley, ’n sielkundige aan die Universiteit van Texas ouers gerus. Hulle besef nou self dat dit waaraan hulle geglo het, nie waar kán wees nie. Maar hulle sal verstaan dat hul ouers nie uit wreedheid hulle onder ’n verkeerde indruk gebring het nie, maar juis omdat hulle nie wreed genoeg wou wees om hulle te ontneem van die genot wat Kersvader met hom saamdra nie.
Die Amerikaanse skrywer en filosoof David Kyle Johnson stem glad nie saam dat alles so onskuldig en skadeloos is nie. Vir die afgelope paar jaar al voer hy in Psychology Today ’n stryd teen die Kersvader-mite. Dit maak hom nie orals ewe gewild nie en hy kry gereeld haatpos omdat hy so ’n ou pretbederwer is wat Kersvader wil ontmasker.
Om kinders toe te laat om letterlik in Kersvader te glo, doen niks om hul verbeeldingskrag aan te moedig nie, skryf hy. Om Kersvader as ’n fantasie soos Superman en die Boogie-man te leer ken, maak meer sin. Jy gun jou kinders hul fantasieë, behalwe wanneer dit hulle kan seermaak. Fantasieë het ten doel dat kinders op ’n prettige manier leer om tussen werklikheid en dit wat nie werklik is nie te onderskei, verduidelik dr Diederi.
Loop ’n kind met ’n handdoek om sy skouers en spog daarmee dat hy kan vlieg, wens jy hom geluk daarmee. Maar as hy dit sou probeer doen, gaan jy inspring en keer dat hy hom nie des dinges val nie.
Net so behoort jy in te gryp wanneer jy sien die fantasie oor Kersvader word te ver gevoer.
Dr Diederi waarsku dat ouers dus bedag moet wees op die manier waarop hulle Kersvader vir hul kinders uitbeeld. Wanneer ouers probeer “bewys” dat Kersvader wel bestaan, neem hulle die fantasie te ver en kan dit skadelik vir die kind wees.
Ouers wat kinders aan ’n Kersvader laat glo wat duur en groot geskenke bring in ruil vir prestasie en gehoorsaamheid, skep ’n verkeerde beeld. As jou kind die enigste “domkop” buite ’n spotterskring van ingeligte tydgenote gaan wees, gaan hy of sy jou beslis nie bedank omdat jy hom of haar in die duister gelaat het nie.
Jou kind kan natuurlik steeds Kersvader se bestaan speel-speel erken. Omdat dit pret is en omdat dit natuurlik tot ’n mens se voordeel kan wees.
Daar word hoeka gewaarsku dat sodra jy ophou glo aan Kersvader, begin jy skoolkouse en onderklere in jou Kerskous kry. David Kyle Johnson gee toe dat nie alle kinders noodwendig iets “oorhou” van die ontnugtering oor Kersvader nie en Melinda wat die noodleuentjie aanbeveel, stem saam dat jou kinders se vertroue in jou kan afneem wanneer die waarheid tot hulle deurdring, maar maak dit steeds as onbelangrik af.
Dr Diederi voel ouers moet nastreef om hul kinders te bied wat hulself uit die Kersverhaal gekry het. Dan is die kanse minder dat dit skade kan doen. Die probleem is dat elke volgende geslag die Kersidee groter en beter wil maak. Die geskenke raak groter en duurder; die manier waarop Kersvader arriveer, moet meer aanskoulik wees as die bure, vriende of res van die familie s’n. Dit is gesonder as jou kinders weet hulle kry hul geskenkies by jou, nie by ’n vet omie wat net jou kredietkaart gebruik het nie. En dat jy die geskenkies gee omdat jý lief is vir jou kind, nie Kersvader wat hy net een keer ’n jaar te sien kry nie. Die dankbaarheid moet dus op die ouers gerig wees.
Stories het ’n plek in die grootmaak van kinders
Vir Christenouers is die grootste bekommernis seker dat die ware verhaal van Kersfees vir hul kinders tussen al die blink dinge en Kersvader se besoek verlore kan gaan. Juis omdat daar so baie ooreenkomste tussen hom en “liewe Jesus” is.
Maar volgens dr Diederi bepaal Christenouers self wat hul kinders oor Kersvader gaan glo. Wanneer die fokus van Kersfees val op die Geskenk wat God vir die wêreld gegee het en dat ons daarom geskenkies vir mekaar gee, hoef ouers nie oor Kersvader se invloed bekommerd te wees nie.
Kery Wyatt Kent, skrywer van verskeie Christen- en inspirerende boeke, kan weer glad nie verstaan waaroor die bekommernis en bohaai oor Kersvader gaan nie. Sy voel sterk daaroor dat die materialisme wat saam met Kersfees gaan, ontmoedig moet word, maar mites en legendes word leeftye lank al gebruik om waarhede oor te dra. Stories het ’n plek in die leer en grootmaak van kinders.
Sint Nicolaas was tog ook iemand wat ruimhartig teenoor vreemdelinge opgetree het. Dit staan, wat haar betref, tog nie teen Christelike beginsels nie, maar beklemtoon dit eerder. Mededeelsaamheid en gee eerder as ontvang, vreugde en liefde is alles prysenswaardige eienskappe om na te streef en word deur Kersvader en sy vrygewigheid onderstreep. Natuurlik moet daar ’n onderskeid tussen Kersvader en die Goeie Gewer gemaak word, want Kersvader is nou eenmaal nie goddelik nie. Sy ervaar egter die ooreenkomste tussen die twee figure, Kersvader en Christus, as positief eerder as andersom. Die kind leer selfs van vergewensgesindheid, want hy leer gou dat Kersvader tog vir hom iets bring, selfs al was hy nie die hele jaar stroopsoet en gehoorsaam nie.
Kersvader in die kuberruim
Die aanlyn-tydskrif Business Insider het berig oor Google wat ’n klompie jaar gelede ’n soektog van stapel gestuur het om Kersvader op te spoor en ’n land se kinders op hol gehad het. Daar is uit vele oorde kapsie gemaak omdat Google veronderstel is om inligting te verskaf, nie knolle vir sitroene te verkoop nie. Kinders sal nie ’n soekenjin vertrou of dit ernstig opneem as dit met promosie-veldtogte soos hierdie geassosieer word nie.