Nes jy die leënessindroom afgeskud het, besluit jou kind om terug huis toe te trek. Hoe hanteer julle albei dit? vra Lindi Herbst
Dit was ’n hartseer dag toe jou jongste die nes verlaat het. Tog het jy daaraan gewoond geraak en geleer om die lewe op ’n nuwe manier te geniet. Jy het jou kind se kamer in ’n gastekamer of ’n plek waar jy jou lank vergete stokperdjie kan beoefen, omgeskep.
Dan kondig jou dogter skielik aan dat sy ’n finansiële krisis beleef – sy en haar kêrel het uitgemaak en sy kan nie die woonstel bekostig nie. Sy het ’n heenkome nodig, “net vir ’n paar maande …”
’n Opname deur die National Housing Federation in Brittanje toon dat daar tot drie miljoen ouerpare bo 50 is wat hul volwasse kinders huisves. In Amerika huisves tot 30% van ouerpare volwasse kinders en meestal is dié kinders 27 jaar en ouer.
“Hoewel ek nie syfers vir Suid-Afrika het nie, kan ek uit my professionele ervaring daarvan getuig dat heelwat volwasse kinders in hul ouerhuis aanbly,” sê Joanna Kleovoulou, ’n kliniese sielkundige in Johannesburg. Die meeste van dié kinders het in ’n stadium wel uit die huis getrek, maar moes dan noodgedwonge terugtrek. Die redes hiervoor sluit ’n finansiële krisis, werkloosheid en egskeiding in.
“Hoewel ouers hul kinders wil ondersteun, wil hulle hulle nie meer oor kinders in die huis bekommer en ’n ruimte met hulle deel nie, veral nie as hulle reeds afgetree het nie,” meen Sonja du Toit, ’n sielkundige van Pretoria wat in familiekwessies spesialiseer. “Dikwels kan ouers weens hul finansiële situasie ook nie meer vir ’n kind sorg nie. Dit alles veroorsaak spanning tussen die ouers en die kind.”
Kinders kan ook voel hulle is geregtig daarop om weer op hul ouers te steun vir ’n dak oor hul koppe, ’n bed om in te slaap en drie etes per dag. “Kinders moet egter nooit hul ouers se goedgunstigheid as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê Sonja. “As ’n kind terug huis toe trek, moet hy of sy weet dat dit ’n spesiale vergunning is en dat dinge beslis anders gaan wees as in hul kinderjare.”
Die positiewe kant
Hoewel dit nie die ideale situasie is as kinders terugtrek nie, kan hulle en hul ouers voordeel uit die situasie trek. “Solank as wat hulle steeds voltyds of deeltyds werk, kan hulle tot die huishouding bydra en só die druk op ouers verminder,” verduidelik Sonja.
Terselfdertyd kan die jongmense geld spaar, wat hulle in staat stel om ’n lekker neseier op te bou of om geld te belê. Dit sal hulle beslis ’n hupstoot in die lewe gee. “Hierdie situasie kan slegs suksesvol wees as kinders hulself daartoe verbind om geld te spaar – hulle moenie die tyd terug in hul ouerhuis as ’n vakansie sien nie,” meen Shaun Thompson, ’n finansiële adviseur. “As hulle hul kant bring en die geld eenkant sit in plaas daarvan om dit te bestee, sal dit hulle baie help wanneer die tyd aanbreek dat hulle moet uittrek.”
Met hul kinders terug in die huis kry ouers ook die geleentheid om die verhouding tussen hulle te versterk. “Dis die ideale geleentheid om gehaltetyd saam deur te bring, ou probleme uit te sorteer en vir oulaas as gesin saam te woon,” meen Sonja.
Hanteer die situasie só
BESPREEK DIE SITUASIE Voordat jou kind intrek, moet julle as ’n gesin gesels. Vind uit wat elkeen se verwagtinge is en watter moontlike probleme kan ontwikkel.
BESLUIT SAAM OOR DIE TYDPERK WAT KINDERS TUIS MAG BLY Moenie net wonder wanneer jou kind weer die huis gaan verlaat nie – bespreek hierdie kwessie selfs voordat jou kind terugtrek. Sê vir jou kind dat dit lekker is om hom weer in die huis te hê, maar dat dit slegs ’n tydelike reëling is. Kom ooreen dat hy slegs vir ’n maand of drie maande sal bly, afhangende van sy finansiële situasie. Selfs beter, besluit saam op ’n datum. Vra wat sy verblyfreëling is soos die datum nader kom, sodat hy weet dat jy nie sommer van die ooreengestemde datum sal vergeet nie. Jy kan wel besluit om die datum te verander. As hy byvoorbeeld sukkel om ’n werk te kry of finansieel noustrop trek, kan julle die situasie herevalueer.
MOENIE ALS DOEN NIE Vir kinders is hul ouerhuis dikwels ’n veilige heenkome – ’n plek waar hulle weet hulle liefde en ondersteuning sal ontvang. Dis goed as jou kinders hul ouerhuis in so ’n lig beskou, veral as hy of sy pas deur ’n egskeiding is en net ’n bietjie ouerlike liefde nodig het. Vir iemand wat om finansiële redes teruggetrek het, moet die verblyf nie te gemaklik raak nie. As alles vir hulle tuis gedoen word en hulle word op die hande gedra, gaan hulle beslis nie planne maak om uit te trek nie. Onthou, hulle kom huis toe om weer op hul eie bene te kan staan – julle as ouers moet hulle hieraan herinner.
KINDERS MOET HUL KANT BRING Jou kinders moet mooi verstaan dat dit nie ’n gratis vakansie is nie – hulle moet steeds ’n bydrae tot die huishouding lewer. Julle as ouers kan besluit om huur te vra, al is dit slegs ’n minimale bedrag. Dit sal julle nie net help om die finansiële las van ’n ekstra mens in die huis te verlig nie, dit sal hulle ook leer om spaarsamig te werk. Julle kan ook kinders versoek om sekere take in en om die huis te verrig – hulle kan byvoorbeeld een keer per week kos maak en hul eie klere was.
DAAR MOET VASGESTELDE REËLS WEES Huisreëls is nodig al is jou kinders volwasse, soos dat hulle jou moet laat weet as hulle nie by die huis eet nie of as hulle iewers oorslaap. As jou kind nie ’n motor het nie, moet daar vasgestelde tye wees wat hy of sy die motor mag leen.
BIED ONDERSTEUNING Jou kind gaan waarskynlik deur ’n moeilike tyd en het nou ook jul liefde en ondersteuning nodig. Gee raad waar nodig en moenie te krities oor hul omstandighede wees nie. Hulle moenie voel dat julle hulle vir hul situasie blameer nie. Laat jou kinders verstaan dat hoewel hulle nie vir ewig by julle kan bly nie, julle hulle steeds onvoorwaardelik liefhet en wil help om weer op hul eie bene te kan staan.
KOMMUNIKASIE IS BAIE BELANGRIK Maak dit ’n reël van die begin af dat as iets een van julle pla, julle daaroor sal praat. Opgekropte woede en frustrasie gaan maak dat een van julle eendag net ontplof. Ruim frustrasies dadelik uit die weg en probeer ’n goue middeweg vind as ’n kwessie pla.
‘Dit het vir ons gewerk’
Esmaré Greeff (32) het haar ouerhuis verlaat toe sy 19 was om saam met ’n vriendin in ’n woonstel in te trek. Nooit het sy gedink dat sy weer sou terugtrek nie, maar op 28-jarige ouderdom het haar lewe skielik drasties verander. “Ek het ’n paar jaar by ’n klein maatskappy gewerk, maar dit is onverwags bankrot verklaar. Skielik was ek werkloos en het nie geweet hoe ek huur sou betaal nie,” vertel sy. “My enigste heenkome was my ouerhuis.” Haar ouers het haar met ope arms verwelkom, maar het dit duidelik gemaak dat dit net sou wees totdat sy ’n nuwe werk kon kry. “Hoewel ek nie veel van ’n geldelike bydrae kon maak nie, het ek baie in die huis gedoen – ek het elke tweede aand kosgemaak, die huis help skoonmaak en my eie klere gewas en gestryk,” vertel sy. “Twee maande later het ek weer ’n werk gekry en ’n maand later kon ek uittrek. My ouers het my in ’n moeilike tyd gehelp en danksy hul ondersteuning kon ek vinnig weer my voete vind.”
Conraad Viljoen (36) het eers op 24-jarige ouderdom sy ouerhuis verlaat nadat hy sy studies voltooi het. Hy het begin werk, maar op 27-jarige ouderdom besluit om sy meestersgraad te doen. “Ek het besluit om die graad voltyds te doen, sodat ek dit vinniger kon voltooi. My ouers het aangebied dat ek by hulle kan kom bly terwyl ek my graad doen,” vertel Conraad. “Daar was van die begin af duidelike reëls – ek moes ’n klein bedrag huur betaal, met huishoudelike take help en my volle aandag aan my studies wy sodat ek nie langer sou studeer as wat nodig is nie.” Hy het ’n deeltydse werk as ’n kroegman gekry. Bedags het hy studeer en van die geld wat hy verdien het in ’n bankrekening gesit. “Ek het ná my meestersgraad maklik werk gekry. Toe kon ek met gemak weer my eie woonstel bekostig en ek het ook vir my ouers ’n bedrag gegee om dankie te sê dat hulle my gehuisves het.”