’n Dosent sê dis belangrik om kinders te leer om eksamens as positiewe uitdagings te sien
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Eksamens … Is daar enigiemand wat ooit daarna uitsien? Min mense, maar as dit vir jou soos ‘n onoorkomelike berg voel, kan daar probleme wees, aldus ‘n dosent.
Mandie Shean, ‘n dosent aan die Edith Cowan-universiteit in Australië, skryf op die webwerf www.theconversation.com dat talle Australiese leerders hul finalejaareksamen misloop en ander uitweë soek om skool te voltooi.
Dit kom te midde van ‘n hoër voorkoms van angstigheid en depressie onder jongmense en sielkundiges sê dat skole beter geestesgesondheidondersteuning moet bied.
Baie kenners meen dat eksamenstres depressie en angstigheid vir weerlose jongmense vererger.
Mandie sê dit help ook nie dat webwerwe eksamentyd as strestyd beskryf of noem dat jy dit moet “oorleef” nie. Sy glo dit dra tot die vreesfaktor by.
“Eksamens is uitdagend, maar hoe ons daaroor praat, het ‘n impak op jongmense. In plaas daarvan om kinders vir eksamens bang te maak, moet ons hulle eerder leer om eksamens as ‘n positiewe uitdaging te sien,” skryf Mandie.
Navorsers beskryf adolessensie al dekades lank as ‘n stresvolle tyd, maar dit lyk asof jongmense se geestesgesondheid oor die jare verswak. In Australië alleen het meer as 40% van Australiese jeug aangedui dat geestesgesondheid hul grootste kwessie was. Een in vier het volgens ‘n opname deur Mission Australia ‘n ernstige geestesgesondheidskwessie gehad.
Mandie skryf dat eksamens ‘n bedreiging vir studente se selfwaarde kan wees.
“Uitdagings is ‘n noodsaaklike en normale deel van ons ontwikkeling. Hoewel ons jongmense teen hoë-risiko-situasies soos mishandeling en trauma moet beskerm, kan bestuurbare uitdagings soos eksamens hulle geestelik en emosioneel laat ontwikkel. As jy jou kinders toelaat om ‘n eksamen as gevolg van stres mis te loop, beroof jy hulle ook van die geleentheid om daardie emosies te hanteer. Dit leer hulle ook dat jy dink hulle kan nie die uitdaging hanteer nie.
“Jongmense moet verstaan dat studies iets is wat hulle moet doen en dit definieer hulle nie as mens nie.”
Mandie sê jongmense wat normale eksamenstres hanteer, moet strategieë kry hoe om stres te bestuur. Hulle kan asemhalingsoefeninge probeer of byvoorbeeld na musiek luister.
Die lewe is stresvol, maar dis hoe ons hierdie stres sien wat angstigheid veroorsaak, voel sy.
“Volwassenes moet jongmense leer dat hulle self kan besluit hoe hulle uitdagings sien en daarop reageer. Hulle moet weet hulle het innerlike hulpbronnne om stres te hanteer en dat hulle iets werd is, maak nie saak wat hul eksamenresultate is nie.”
Klik hier vir die volledige artikel