Daar word kort-kort gekla dat jou kind nie wil stilsit by die skool nie, maar is dit nie dalk omdat hy juis nie genoeg beweeg nie? vra Zerelda Esterhuizen
Klagtes oor kinders wat nie in die klas wil stilsit nie, is niks ongewoons nie.
Die skrywer van die boek Balanced and Barefoot, Angela Hanscom is ook ʼn arbeidsterapeut en die stigter van Timbernook, ʼn natuurgegronde program wat internasionale aandag geniet.
Angela sê oor die afgelope dekade is meer en meer kinders met aandaggebrektoestande gediagnoseer.
Daar word van kinders verwag om vir lang tye in die klas stil te sit – selfs in kleuterskole.
“Kinders moet konstant kiertsregop sit en dis raar om vandag kinders te sien wat nog boomklim, in die rondte draai en van heuwels afrol. Pouses by skole word korter en korter en ja, kinders beweeg net nie genoeg nie,” sê sy.
Angela sê kinders kan veral nie lank in klasse stilsit nie omdat hulle swak balans en swak maagspiere (core strength) het. In ‘n opname wat sy gedoen het, het slegs een uit elke 12 kinders normale krag en balans gehad.
Kinders het volgens haar onderontwikkelde vestibulêre balans weens beperkte beweging.
“Kinders moet hul hele liggaam beweeg om ‘n sterk balans te kry en hulle moet dit meer as een keer per week doen om die voordele daarvan te geniet. Ons vra kinders in klasse om te fokus en hulle begin dan vroetel om daardie beweging te kry waarna hul liggame so desperaat soek. Dis daardie beweging wat hul brein ‘aanskakel’. Sodra hulle vroetel, word hulle egter aangesê om stil te sit en hul brein gaan dan weer terug na die slaapmodus.”
Wat is die oplossing?
Angela voel sterk daaroor dat pouses by skole langer moet wees en dat kinders in die middag ná skool buite moet speel. “Ouers dink as hul kinders 20 minute sport oefen, is dit genoeg, maar dit is nie. Kinders kan net leer as hulle leer om aandag te gee en as hulle aandag wil gee, moet hulle beweeg.”
Kry hulle buite
Wees ʼn rolmodel vir jou kinders. Aktiewe ouers het gewoonlik aktiewe kinders.
Speel ʼn speletjie met die kinders as julle gaan stap. Maak ʼn lysie van dinge waarna hulle moet soek: ʼn ronde klippie, ʼn huis met ʼn blou dak, ʼn poedel, ʼn huis met ʼn snaakse posbus, ensovoorts.
As julle as gesin TV kyk, sê dat as daar ʼn advertensie opkom moet almal beweeg, hardloop in die gang of doen ʼn dansie.
Gee vir jou kinders ʼn kindervriendelike erf waar hulle lekker buite kan speel.
Gee vir hulle ʼn hoekie waar hulle hul natuurskatte kan hou wat hulle graag wil bewaar.
Gee vir hulle “gereedskap” om te ontdek soos ʼn goggaboksie, ʼn vergrootglas, grafie, ens.
Vat kinders na parke en natuurgebiede toe soos botaniese tuine en laat hulle daar ontdek.
Moedig buitespel aan en beperk skermtyd.
Gaan stap met jul hond elke dag.
ʼn Trampolien is wonderlik vir beweging en dis iets wat selfs ʼn alleenkind baie sal geniet.
Ouers is besig, maar vind tyd om bal te skop en met hulle buite te speel.
Laai die Geocaching-toep af en kyk wat in jul omgewing is. Geocachingis ‘n buitemuurse aktiwiteit, waarin die deelnemers ‘n GPS- ontvanger of mobiele toestel en ander navigasietegnieke gebruik om houers, die sogenaamde geocaches of caches, oral in die wêreld weg te steek en te soek. Besoek geocaching.com om meer uit te vind.
Maak ʼn skattejag vir kinders in jul eie erf en steek dinge weg wat hulle moet soek en hulle aan die gang sal kry.
BRONNE: http://www.balancedandbarefoot.com, http://www.sparkpeople.com, http://www.livescience.com, www.metro.co.uk