Kommunikasiegapings tussen ouers en hul tienerkinders is nie ongewoon nie, sê Margaret Fourie, skrywer van Positiewe ouerskap (Metz Press).
“Aan die een kant ervaar die ma haar menopouse op presies dieselfde tyd as wat haar kinders hul tienerjare bereik. Albei het hormoonwanbalanse en dit laat die poppe dans. Dit kan nie maklik vermy word nie, buiten dat die ma mediese behandeling kry.”
Boonop ontwikkel ‘n tiener se brein nog in die tienerjare en dit bring nog ‘n stel probleme mee.
“Die tiener sal van tyd tot tyd soos ‘n normale mens voorkom en ander kere weer soos ‘n Neandertal wat amper nie woorde kan vorm nie. Ontspan. Dit is tydelik en sal verbygaan,” verseker Margaret.
“Maar wees gewaarsku, dit maak nie sin om met jou kind te probeer onderhandel as hy in ‘n ‘Neandertal-fase’ is nie. Dit sal bloot nie werk nie. Hy kan net nie. Wag tot hy weer ‘mens’ is en hy sal waarskynlik vriendeliker en oper met jou kan praat.”