Kinders wat agterin ’n motor baklei terwyl jou nerwe dunner en dunner by die minuut raak. Klink dit bekend? Jip, menige ouer ken dit maar te goed …
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Kinders gaan baklei, dis ‘n feit. Dis verskillende individue wat saam in ‘n huis bly en dan is daar nog kompetisie ook, want sien, kinders ding vir hul ouers se aandag mee.
Waar dink jy kom: “Mamma, Sussie het dit …” en “Pappie, Johan het al weer …!” vandaan?
Dis so lekker vir ouers as hul kinders oor die weg kom, maar soms is dit meer ‘n geval van kat en hond as enigiets anders. Ons het ‘n paar wenke opgespoor wat met die alewige mededinging kan help.
- Kinders soek aandag en sê dinge soos: “Mamma, boetie het my pen gevat.” In plaas daarvan om te sê: “Gee dit terug, of hou op om ‘n klikkiebek te wees,” wees empaties: “O, het hy jou pen gevat? Dit het jou seker ontstel.” Kinders wil gewaardeer en gehoor word. Luister en probeer verstaan.
- Moenie net op hoorsê straf nie. As jy nie gesien het wat gebeur het nie, moet albei die gevolge dra. As hulle saam-saam skottelgoed was nadat hulle baklei het, kan dit ‘n lekker lessie oordra!
- Neem die goed weg waaroor hulle baklei. Sê byvoorbeeld: “As julle oor die afstandbeheer baklei, bêre ek dit maar eerder, want ek wil nie hê julle moet baklei nie.” Herinner hulle waarom dit weggevat word.
- Gee ‘n geskikte straf. Deesdae is een van die beste strafmaatreëls vir kinders om hul elektronika vir ‘n wyle weg te neem. Verduidelik hoekom dit gebeur.
- As ‘n boetie of sussie of boetie en boetie mekaar beledig, moet hulle daarna drie mooi dinge oor mekaar sê. Hulle gaan gou moeg word om mekaar te beledig!
- Leer jou kinders om konflik te hanteer en gee hulle die vaardighede om konflik op te los. Wees ook ‘n voorbeeld van konflikoplossing.
- Laat kinders meer tyd saam deurbring en lekker dinge saam doen sodat hulle hul verhouding kan bou. Dis ook goed om gereeld spesiale tyd afsonderlik met elke kind deur te bring. So voel elkeen geliefd.
- As jou kinders aanhoudend baklei, stuur hulle na verskillende plekke in die huis om af te koel. Laat elkeen vir ‘n halfuur in sy kamer sit en iets produktiefs doen.