Of dit nou ‘n vrees vir ‘n kwaai juffrou, dinge wat raas in die aand of ‘n slang is, kinders het vrese. Hoe help jy hulle om dit te hanteer?
Jul kind is bang vir veral insekte en donderweer. Die woorde op my vyfjarige se rapport was vir my besonder vreemd, hoekom sal ‘n onderwyseres dit noem? Ek stel beslis meer belang of hy vir graad R gereed is of nie. Desondanks, het dit my aan die dink laat sit. Is my kind te bang? En hoe moet ek sy vrese hanteer?
Tog sê soveel kenners dat vrese by kleuters algemeen is. Waarvoor is hulle bang? Vir hordes goed! Hulle is bang vir die donker, hulle is bang vir “monsters” of hulle is bang vir slange.
Nie alle vrese is sleg nie, sê Tamar E Chansky, die skrywer van die boek Freeing Your Child from Anxiety.
“Sonder vrees sal ‘n mens sommer net kop eerste induik waar jy nie moet nie,” sê sy.
Van die vrese is evolusionêr, meen Tamar. Baie kinders en volwassenes vrees dinge wat buite hul ervaringsveld is. Al het hulle nog nooit ‘n slang teëgekom nie, is hul breine só bedraad om hulle teen slange te beskerm.
Kinders se vrese verander met tyd. Hier is van die algemeenste vrese wat kinders op verskeie ontwikkelingsvlakke ervaar:
Peuters en babas
‘n Vrees vir …
… harde geluide of skielike bewegings
… vreemdelinge
… groot, vreemde voorwerpe
… skeiding van ouers
Kleuters
‘n Vrees vir …
… die donker
… monsters en spoke
… diere soos honde
Skoolkinders
Vrese vir …
… slange en spinnekoppe
… storms en natuurrampe
… misdaad
… om alleen tuis te wees
… slegte nuus op TV
… besering, siektes, dokters, inspuitings, die dood
… mislukking of verwerping
In ‘n ideale situasie, ervaar ‘n kind sekuriteit en vrede by die huis. Enigiets wat hierdie kalmte en gevoel van veiligheid bedreig, soos ‘n harde geluid of ‘n vreemdeling, kan vrees aanwakker. Al wat jy in so situasie kan doen, is om self rustig te bly en ‘n voorspelbare roetine te volg.
Sterk binding met jou kind, deur aanraking, oogkontak, en gesprekke, skep ‘n grondslag van vertroue en help jou kind om minder angstig te wees.
Soos kinders kleuterskool toe gaan en nuwe omgewings verken, sien hulle allerhande nuwe dinge en dit bring nuwe vrese na hul wêreld, verduidelik Tamar.
Van die vrese hou met ervaring verband, maar baie het ook met kinders se ontwikkelende verbeelding te doen. Teen hierdie ouderdom weet hulle ook nog nie hoe om hulself te kalmeer nie.
Kristin Lagattuta verbonde aan die Universiteit van Kalifornië bestudeer die verband tussen voorskoolse kinders se brein en emosies.
Sy noem dis vir vier- en vyfjariges baie moeilik om tussen verbeelding en die regte wêreld te onderskei as vrees daarby betrokke is.
Hoe kan ek my kind help?
- Breek die uitdaging in klein stappe op, sê Tamara. As jou kind byvoorbeeld bang vir ‘n donker kas is, verander dit in iets prettings en positiefs. Wees kreatief, lees ‘n boek met ‘n flitslig, trek snaakse gesigte en dies meer.
- As jou kind bang is vir honde, gee hom of haar geleentheid om ‘n hond veilig en gemaklik te leer ken. Besoek iemand met ‘n rustige hond en laat jou kind die hond vryf en ontmoet. Sê dinge soos: “Kyk, hoe waai sy stert. Die hond is baie vriendelik en hou baie van jou.”
- Moenie dink jy weet wat die bron van jou kind se vrees is nie, As jou kind bang vir ander mense se swembaddens is, is dit regtig die water? Vra jou kind uit.
- Kleiner kinders kan ook teken wat hulle bang maak. In die eerste prentjie kan hulle saam met iets wees wat hulle bang maak en hulle kan skryf wat hulle op daai oomblik dink. In die volgende geval kan hulle skryf hoe hulle dit behoort te hanteer.
- Kinders wat vir storms en natuurrampe bang is, kan dalk daaroor gesels en jy kan vir hulle vertel wat regtig gebeur en wat die gevolge daarvan is.
- Kinders wat fisiek gespanne word en sukkel om te slaap, kan baat vind by ontspanningstegnieke. Leer jou kinders hoe om diep asem te haal en hul spiere te ontspan.
Basiese riglyne om angstigheid te hanteer
- Moenie jou kind uit die vrees probeer praat nie.
- Bly kalm en vol selfvertroue en gesels oor die vrees.
- Help jou kind om die vrees te trotseer op ‘n vlak wat hy of sy gemaklik is. Moenie jou kind dwing nie.
- Probeer verskillende hanteringsmeganismes soos rolspel, teken en belonings.
- Moenie dat jou kind hierdie situasies of plekke vermy nie. Jou kind moet daaraan blootgestel word sodat hy of sy gemakliker kan raak. ‘n Kind wat byvoorbeeld bang is vir water, kan eers net die voetjies in die water te sit, dan die voete en bene, ensovoorts.
- Help jou kind verstaan dat dit belangrik is om vrese te hanteer.
https://www.anxietybc.com/parenting/helping-your-child-face-fears