Nie alle kinders het ’n oormaat selfvertroue nie. Party het ’n hupstoot in die regte rigting nodig. Hier is tien wenke
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Party kinders borrel oor van selfvertroue, terwyl ander se selfbeeld maar baie effentjies is. Die goeie nuus is dat ouers baie kan doen om hul kinders se selfbeeld te versterk.
Hier is ‘n paar wenke:
1. Prys pogings
Prys jou kinders as hulle hard werk om iets te bereik. “Mamma, sien jy werk so hard aan jou somme.”
2. Wees positief
Dis goed vir jou kinders om in die geselskap van positiewe mense te wees wat ‘n “ek kan”-houding het. Dis veral goed vir jou kind om mense te sien wat dieselfde probleme as hulle het, maar ‘n goeie benadering tot die lewe het.
3. Gee vir hulle takies
As jou kinders sien dat hulle jou met iets kan help en iets vir iemand beteken, sal dit hulle ‘n broodnodige hupstoot gee.
4. Moedig hulle aan om doelwitte te bereik
Help jou kinders om haalbare doelwitte te stel. Skryf dit neer en plak dit iewers op en help hulle aktief om dit te bereik.
LEES OOK: My kind is bang vir als!
5. Gee die bewyse
As jou kinders terneergedruk is, herinner hulle aan alles wat hulle goed doen en hoe geliefd hulle is.
6. Gaan sit voor die spieël
As jy ‘n dogtertjie het, wat kwessies oor haar voorkoms het, gaan sit voor die spieël en leer haar om iets te sê soos: “Ek is pragtig, ek het baie talente, ek is geliefd en vandag gaan ‘n fantastiese dag wees!”
7. Moenie jou kinders met mekaar vergelyk nie
As jy jou kinders in boksies plaas, leer hulle dat dit oukei is en dat hulle in daardie boksies hoort. Dit inhibeer hulle al bedoel jy dit dalk nie lelik nie.
8. Bestee alleentyd
LEES OOK: Is jou kind oorafhanklik van jou?
Laat jou kinders elkeen in eie reg spesiaal voel deur gehaltetyd met hulle deur te bring. Nes gesinstyd belangrik is, is dit ook lekker om nou en dan individuele tyd met elke kind deur te bring.
9. Leer hulle dat hulle nie perfek hoef te wees nie
Verseker jou kinders dat hulle kosbaar is en nie perfek hoef te wees nie en dat hulle net hul bes hoef te doen. Onthou, jou reaksie op jou kinders se mislukkings en prestasies speel ‘n groot rol in hul selfbeeld.
10. Moenie alles vir jou kinders doen nie
Dis soms net vinniger as jy iets doen, maar jou kinders moet vaardighede aanleer en leer hoe om dinge vir hulself te doen. As hulle dan iets regkry, beteken dit baie vir hul selfbeeld.
BRONNE: www.drrobynsilverman.com, www.parents.com