Nes Ma en Pa het kinders ook vrese en as hulle klein is, is dit soms baie moeilik om hulle te kalmeer. Hier is wenke
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Of dit ‘n vrees vir swaar weer, monsters of ‘n kwaai juffrou is, kinders raak bang en dan is dit ouers se taak om hulle rustig te kry en te help. Nicole Schwarz, ‘n ouerskapsafrigter van www.imperfectfamilies.com, gee die volgende wenke vir ouers:
Ek is hier en jy is veilig
Angstigheid het ‘n manier om dinge erger te laat lyk. Hierdie woorde kan vertroostend vir jou kind wees as dinge buite beheer voel.
Vertel my wat pla
Gee jou kind kans om oor sy of haar vrese te gesels. Kinders het tyd nodig om hul gedagtes te orden. “Kom ons gesels ‘n bietjie vir tien minute oor als wat jou pla.”
Hoe groot is jou vrees?
Dit help ‘n klein kind om die grootte van sy bekommernis te verwoord en dit gee jou ook ‘n akkurate prentjie van hoe dit vir jou kind voel.
Wat wil jy vir jou vrees vertel?
Verduidelik aan jou kind dat sy vrees soos ‘n gogga is. Vertel jou vreesgogga nou om weg te gaan of dat jy nie na hom gaan luister nie.
Kan jy dit teken?
Baie kinders sukkel om hul emosies te verwoord. Moedig ‘n klein kind aan hom hul vrese en kommer te teken of te verf. Gee hulle ook die kans om dit te verduidelik.
Kom ons verander die slot
Help angstige kinders deur hul storie te met ‘n ander slot vertel. Vertel vir jou kind ‘n storie, maar gee dan ‘n paar opsies vir die slot. Jou kind is dalk bang vir die skool, maar die slot kan wees ‘n baie gelukkige seuntjie met baie maatjies. Help jou kind om sy vrese met selfvertroue te oorwin.
Bemagtig jou kind met kennis
As jou kind vir iets spesifieks bang is, gee feite. Jou kind is dalk bang vir donderstorms. Lees daaroor op die internet. Hoeveel keer kom die storms voor, hoe gevaarlik is dit vir mense en hoe bly mense veilig tydens die storms?
Help jou kind om te kalmeer
Kry ‘n lysie van kalmeringstrategieë en oefen dit wanneer jou kind kalm is. Dit kan iets wees soos om ‘n boek te lees, na rustige musiek te luister of te teken.
‘Ek gaan nou diep asemhaal’
Soms is kinders so gestres dat hulle nie iets wil doen om te kalmeer nie. Jy kan dan die voorbeeld stel en vir jou kind sê: Kom ons haal diep asem! Vertel wat jy doen en hoe dit jou laat voel.
Dit maak ‘n mens bang en …
Erken jou kind se vrees, maar voeg ook frases by soos “jy is veilig”, of “jy het al hierdie vrees oorwin” of “jy het ‘n plan”.
Ek kan nie wag om te hoor …
Bemoedig jou kind deur te praat oor wat julle later gaan doen. As jou kind bang is vir skool, kan jy sê: “Ek kan nie wag om jou vanmiddag te sien en te hoor hoe lekker dit was en hoe jy jou vrees oorwin het nie.”
Wat kan ek doen?
Gee jou kind kans om te sê hoe jy kan help. Ouer kinders sal dalk kan vra dat jy help om ‘n oplossing te vind en ‘n kleiner kind sal dalk vasgehou wil word.
Fokus op die toekoms
Vertel vir jou kind dat die omstandighede weer sal verbygaan en dat dinge weer beter sal gaan. Dis oukei om bang te wees, maar fokus op die toekoms.