Leer jou kind van kleins af hoe om met geld te werk
As ‘n mens kinders van jongs af die waarde van geld leer, sal dit hulle bemagtig om regdeur hul lewe goeie finansiële besluite te maak. Ryan Prozesky, uitvoerende hoof van Value Banking Solutions by FNB, sê dis belangrik vir ouers om hul kinders oor geld te leer en om hulle toe te laat om hul eie finansies te bestuur sodra hulle basiese wiskunde verstaan.
Hy deel die volgende wenke:
- Moedig jou kinders aan om vooruit te beplan en geld te spaar om hul doelwitte te bereik. Sit ook self geld vir hulle weg en laat hulle toe om te sien hoe dit groei.
- Open vir jou kinders ‘n bankrekening wat hulle self kan monitor. Dit leer hulle van jongs af verantwoordelikheid. FNB het byvoorbeeld ‘n rekening FNBy, vir kinders jonger as 25 jaar. Rekeninge vir kinders van 0-18 jaar het geen maandelikse fooi nie. Spaarrekeninge met goeie rentekoerse en geen fooie is ook vir kinders beskikbaar.
- Leer kinders om elke maand ‘n begroting op te stel en hul spandering te beheer. Leer hulle hoe om met hul sakgeld te werk te gaan.
- Beloon jou kind. Kinders kan takies in die huis doen wat ‘n invloed op hul sakgeld kan hê. Dit leer hulle dissipline.
Nog vyf wenke van www.parents.com:
- Leer jou kind dat geld nie aan bome groei nie. ‘n Mens werk hard om geld te maak.
- Leer jou kind dat ‘n mens moet wag om iets te kry. Uitgestelde bevrediging is ‘n moeilike konsep, maar ‘n noodsaaklike een. As jy byvoorbeeld spaar, kan jy dalk daai speelding koop wat jy so graag wil hê.
- Moenie winkels toe hol nie. Geld brand mos ‘n kind en dan wil hulle dadelik winkels toe gaan. As jou kinders wil, help hulle eers om ‘n begroting op te stel en vergelyk pryse van artikels aanlyn.
- Leer hulle die belangrikheid van spaar.
- Leer jou kinders om hul geld na te gaan en te kyk hoeveel hulle spandeer en spaar.