’n Studie waarsku teen ouers wat daar is, maar ook nie daar is nie. Hulle word ‘afwesig’ as hulle ‘n foon by hulle het …
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ons almal ken dit, was al self daar of het dit al gesien. ‘n Kind wat teem en ‘n ouer wat met sy foon voor hom sit – salig onbewus van die kind wat al op en af spring.
‘n Studie wat in die joernaal Child Development gepubliseer is, het gekyk na hoe ouers se gebruik van tegnologie hul kinders se gedrag affekteer. Daar is bevind dat tegnologiese inmenging in ouer-kind-interaksies met ‘n toename in swak gedrag by kinders geassosieer kan word.
Ongeveer die helfte (48%) van die ouers in die studie het erken dat tegnologie tot drie keer per dag met hul interaksie met hul kinders inmeng. Dit lei daartoe dat veral jong kinders dan rusteloos, gefrustreerd en huilerig raak en uitbarstings het.
Die studieleiers praat van “afwesige teenwoordigheid”. Ouers is daar, maar ook nie daar nie. Hulle luister nie en is permanent aan hul slimfone of tablette vasgegom.
Dr Michael Rich, stigter van die Sentrum van Media en Kindergesondheid aan die Boston-kinderhospitaal, sê slimfone het ‘n nuwe era van afwesige ouerskap ingelui.
“Ek het al so baie ouers gesien wat hul kinders by ‘n speelgrond neersit en dan dadelik met hul foon op die bank gaan sit. Ons kan egter net op een ding op ‘n slag konsentreer …”
Ouers wat te besig met tegnologie is, kan kinders laat voel dat hulle vir aandag moet meeding en dit kan selfs kinders se sosiale ontwikkeling benadeel. Slimfone is self al vir ‘n toename van 10% in kinderbeserings geblameer …
Wat kan jy doen?
- Een van die belangrikste gesinsrituele, is etenstyd saans. Hou dit tegnologievry en gesels saam as gesin.
- Staan eerder ‘n halfuur vroeër op in die oggend, lees jou e-posse, gaan sosiale media na en maak dan jou kinders wakker sodat hulle nie vir jou aandag hoef mee te ding nie.
- Sluit jou kinders in. Gesels met hulle oor wat jy nou op jou slimfoon doen sodat hulle nie geïsoleer word nie. “Mamma, stuur net gou vinnig vir Ouma foto’s op WhatsApp, ek gaan nou na jou leesles luister.”
- Probeer om gereeld ‘n tegnologievrye gesinsdag of -aand te hou. Speel speletjies en doen iets lekkers saam as gesin.
- As julle in die aand by die huis kom, gesels eers met jou mense voor jy die TV of enige ander toestelle aanskakel.
- As jou kind met jou wil gesels, bêre die toestelle en luister.
BRONNE: www.guardian.com, www.apa.org