Die laaste kwartaal van die jaar is op ons en dis nou die tyd wat graad R-ouers aan die grootskool begin dink. Maar is jou kind reg daarvoor?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dit voel vir jou asof jou kind net nou die dag vir die eerste keer kleuterskool toe gegaan het, maar binnekort is dit tyd vir inkopies vir graad 1. Is hy of sy gereed en wat kan jy doen as hy nie is nie?
Monique Pieterse is ‘n gekwalifiseerde skoolgereedheidassessor van Roodepoort. “Om seker te maak dat skooltoetrede ‘n positiewe ervaring is, is dit belangrik dat al die nodige vaardighede ontwikkel is. Daar is verskeie redes hoekom kinders nie gereed vir graad 1 is nie. Die woord ‘skoolgereedheid’ beteken presies wat dit sê, gereed vir skool wat beteken minder speel en meer werk.
“Dit is ‘n groot sprong van graad R na graad 1 en dus is dit baie belangrik dat kinders gereed daarvoor is.”
Theresa van den Berg, ‘n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê ’n kind moet emosioneel, sosiaal, fisiek-motories, perseptueel en kognitief gereed wees om met selfvertroue graad 1 toe te gaan.
Theresa sê ouers kan na hierdie punte oplet:
Sosiale en emosionele ontwikkeling
- Kan jou kind gemaklik van julle skei?
- Maak jou kind maklik maatjies, gehoorsaam die skoolreëls en neem aktief aan aktiwiteite deel?
- Het jou kind tydens die graad R-jaar sosiaal ontwikkel?
Perseptuele en motoriese ontwikkeling
- Is jou kind se groot en fyn motoriese ontwikkeling op peil?
- Hoe balanseer jou kind?
- Werk die arms en hande gekoördineerd saam?
- Het jou kind al ‘n dominante hand?
- Kan jou kind gefokus sit en werk?
Visuele persepsie en integrasie
Goeie visuele persepsie is ‘n belangrike vaardigheid wat met lees en skryf geassosieer word. Kan jou kind tussen vorm, kleur en ruimte onderskei, asook basiese vorms nateken?
Wiskundige vermoë
‘n Skoolgaande kind moet ‘n getal kan identifiseer en beskryf, basiese probleme oplos, tel, vergelyk en ook basiese wiskundige konsepte verstaan.
Selfkennis en menstekeninge
Hoe lyk jou kind se tekeninge? Is daar orde? Het jou kind se tekening detail?
Kognitiewe denke en ouditiewe persepsie
Kan jou kind herroep wat jy sê? Luister jou kind met begrip en kan opdragte uitvoer? Kan jou kind meer as een instruksie uitvoer?
Hoe kan ek my kind nou help?
Monique stel ‘n skoolgereedheidstoets voor sodat daar vasgestel kan word of daar rede vir kommer is.
“Die uitslae sal moontlike struikelblokke uitwys en ouers kan dan daarop fokus en hul kind help om dit in die laaste kwartaal te ontwikkel sodat die oorgaan na graad 1 vir ouer en kind ‘n plesier is.
“Dis nooit te laat of te min tyd om ‘n onontwikkelde vaardigheid te ontwikkel nie. Die regte tuisprogramme en herhaling daarvan op ‘n daaglikse basis kan ‘n ongelooflike groot verskil maak. Al voel die laaste kwartaal soos ‘n kort rukkie is daar nog genoeg tyd.”
Wat behels ‘n skoolgereedheidstoets?
Monique noem twee tipes toetse.
“Die eerste toets is die “Speel-Speel, Slim, Leergereedheids”-toets oftewel die siftingstoets, wat ‘n praktiese en informele toets is. Mamma of Pappa kan tydens die assessering teenwoordig wees. Hierdie toets vind gewoonlik van Mei tot Julie plaas. Daar word na fisieke, motoriese, kognitiewe, emosionele en sosiale ontwikkeling gekyk. Die tweede toets is die RGN-skoolgereedheitstoets, ‘n formele toets, waarby ouers nie teenwoordig mag wees nie. Dit vind gewoonlik in Oktober/November plaas. Daar word na waarneming, ruimtelik, redenering, numeries, postuur, koördinasie, geheue en verbale begrip gekyk.”
Kontakte
Monique Pieterse: [email protected], besoek “Gereed vir Graad-Een-Parabeen” op Facebook of bel 072 141 0640
Theresa van den Berg: [email protected], www.theresas.co.za
Help jou kind speel-speel
In die vakansietyd is kinders beslis nie lus vir skoolwerk nie, sê die ouerskapskenner Nikki Bush, maar die brein funksioneer baie beter as dit aan aktiwiteite soos breinknopers, speletjies en legkaarte blootgestel word.
Hierdie speletjies is baie belangrik vir kognitiewe ontwikkeling, dit stimuleer die brein op vele maniere en dis belangrik om die kinders aan speletjies bloot te stel wat die brein uitdaag en logiese denke stimuleer, sê sy.
Volgens Nikki kan sogenaamde slim speletjies konsentrasie en geheue verbeter en sistematiese denke aanmoedig. Nikki beveel speletjies soos skaak, blokraaie, Sudoku en legkaarte vir kinders aan.
Die speelgoedwinkel Toy Kingdom gaan van 29 September tot 7 Oktober 2017 “slim speletjies” aan kinders demonstreer. Dit sluit speletjies soos Color Code; Quadrillion en Parking Puzzler in.
Besoek www.toykingdom.co.za