Wietske Boon, ’n spesialisberader in spelterapie en ouerleiding, vertel waarom roetine tydens die inperking so belangrik vir kinders is
Die omstandighede waarin ons onsself bevind, is uniek. Daar is baie veranderings, onsekerheid en bekommernis. In enige omstandighede het kinders in ‘n mindere of meerdere mate roetine en voorspelbaarheid nodig.
Omdat kinders verskil, het sommige kinders baie struktuur en roetine nodig, maar ander funksioneer weer beter met ‘n groter mate van buigsaamheid. Elke gesin se roetine gaan dus anders wees omdat mense se behoeftes uiteenlopend is.
Roetine is die daaglikse proses waarvolgens aktiwiteite plaasvind – gee orde in die gesin.
Roetine is nie noodwendig op die minuut uitvoerbaar nie, maar een aktiwiteit volg op die ander. Dit is baie keer moeiliker om in spanningsvolle tye roetine te handhaaf, maar roetine is juis nou belangrik omdat dit ‘n gevoel van geborgenheid, sekuriteit en voorspelbaarheid in ‘n onsekere tyd skep.
As die bestaande roetine nie heeltemal haalbaar is nie, probeer so ver as moontlik die roetine behou of skep ‘n gepaste roetine wat vir die hele gesin werk.
Tydens inperking kan dit wat van elke gesinslid verwag word en die rolle in die gesin verander.
Kinders wat weet wat van hulle verwag word, kan meer gepas optree as kinders wat nie weet wat van hulle verwag word nie. In situasies waar die hele gesin vir lang tye sonder onderbreking saam is, kan ‘n mate van konflik te wagte wees.
Omdat roetine voorspelbaarheid voorsien, weet elkeen wat van hom of haar verwag word. ’n Roetine verminder chaos en spanning in die gesin, wat konflik verminder.
Struktuur en roetine het ook die volgende voordele:
- Vasgestelde slaaptyd en slaaptydroetines voorkom dat kinders oormoeg word.
- Beplande etenstye voorkom dat hulle etes misloop en honger en moeilik word.
- Roetine verseker dat daar genoeg tyd vir oefeninge en gesinstyd is.
- Roetine kweek onafhanklikheid. Wanneer die roetine vasgelê is, kan veral groter kinders makliker hul roetine volg.
- Dit gee stabiliteit, veral in spanningsvolle tye omdat roetine sekuriteit skep.
- Dit bevorder selfbeheersing. Kinders leer om te wag, want “ons gaan eers bad en dan kan ons storie lees”.
- Met ‘n gesonde roetine leer kinders gesonde gewoontes aan vir later in hul lewe.
Hoewel kinders roetine nodig het, moet ouers aanpasbaar wees in situasies wanneer roetine nie moontlik is nie. Soms is dit lekker om iets buite die normale roetine te doen, soos ‘n pajamadag of spesiale speletjiesaand.
Kinders wat buigsaam is, pas vinnig by verandering aan. As ouers verandering beplan, kan hulle die kinders vooraf daarop voorberei. Praat oor die beplande verandering en sluit hulle by die voorbereiding daarvan in.
Die gesin se roetine moet prakties en haalbaar wees. Gepaste huisreëls skep ‘n verwagting by die gesinslede waarbinne hulle hulself kan uitleef en veilig kan voel.
Roetine en dissipline vul mekaar aan en bevorder ‘n gebalanseerde omgewing.
Wanneer ‘n nuwe roetine in plek gestel word, gaan daar dalk aanvanklik uitdagings wees om aan te pas, maar soos gesinslede daaraan gewoond raak, sal dit makliker uitvoerbaar word.
Wietske Boon is ‘n spesialisberader – spelterapie en ouerleiding. Vir meer inligting besoek haar webwerf www.childtherapist.co.za
Wietske is tydens die inperkingstydperk vir Skype en videokonsultasies beskikbaar