Jou egskeiding is nie net vir jou traumaties nie, maar ook vir jou kinders. Dit is van kardinale belang dat jy die nuus van jou egskeiding sonder noodleuens en soetsappighede met jou kind deel
Deur MARETHA BOTES
Jou kinders het die reg om van jul egskeiding te weet. Dit is die hoe, wanneer en wat jy hulle vertel wat die verskil maak of hulle afvlerk anderkant gaan uitkom en of hulle dit met jou ondersteuning sal kan verwerk.
Kenners meen die beste is om te wag totdat jy en jou maat ’n plan het en julle definitiewe antwoorde kan gee vir vrae wat jou kind sal vra. As jy net sê: “Ek en jou pa is van plan om te skei, maar ons sal later vir julle meer inligting gee”, skep jy ongelooflike onsekerheid in jou kind se hart.
Jessica* (26) was ses toe haar ouers geskei is. Sy het jare lank geglo die egskeiding is háár skuld. Sy het skielik snags weer haar bed natgemaak en wou haar ma nie ’n oomblik alleen los nie. Haar ma het haar by die skool afgelaai en ’n halfuur later ’n oproep gekry dat sy liewer vir Jessica moet kom haal, want sy huil en is ontroosbaar. “Dit was vir my een van die moeilikste tye in my lewe,” vertel Jessica. “My ouers het nooit met my gesels oor waarom hulle skei nie. Ek was bang, onseker en het geglo dis my skuld.” Sy vertel dat sy een aand aan tafel haar boetie, wat drie jaar jonger as sy is, met haar elmboog in sy ribbes gestamp het en hy sy melk op die vloer gemors het. “Skielik het my ouers mal tekere gegaan oor wie die gemors gaan opvee. Hulle het mekaar uitgeskel en uiteindelik is die gemors net so gelos en is ons in die bed geboender.
’n Paar dae later is my pa sak en pak die huis uit en het my ma gesê hulle gaan skei. Ek het nie eens geweet wat die woord ‘skei’ beteken nie, maar ek het wel geweet my pa kom nie weer terug nie. Ek het geglo as ek nie my boetie gestamp het nie, sou my ma-hulle nie geskei het nie.” Sy het jare lank met hierdie swaar las geloop totdat sy eendag, toe sy al ver in die laerskool was, vir haar ma gevra het waarom hulle geskei is. “Haar antwoord was dat sy en haar pa nooit oor die weg kon kom nie; dat hulle te veel baklei het en dit beter was dat hulle uitmekaar is. Ek was verbaas. My ma was net so verbaas toe ek haar vra of dit dan nie my skuld was nie.” Eers hierna kon Jessica weer heel word. Sy het vir ’n paar beradingsessies by ’n sielkundige gegaan.
Kommunikasie is kardinaal
Caroll Hermann, sielkundige en dosent aan die Universiteit van Zoeloeland, sê dit is noodsaaklik om jou kind voldoende voor te berei en te ondersteun wanneer ’n egskeiding onvermydelik is.
Sy sê kinders dink in baie gevalle dat ’n egskeiding húl skuld is omdat die ouers nie met hulle daaroor gesels en hulle daarop voorberei nie. Kinders kan voel dit is hul plig om die huwelik te probeer red. “Jy gaan nie noodwendig die seer van die skeiding vir die kinders minder maak nie. Jy gaan wel help dat jou kinders nie skuldgevoelens het nie en dat hulle dit ná die tyd dalk makliker kan verwerk,” verduidelik Caroll. “Daar is ongelukkig nie duidelike riglyne of ’n gids wat ’n mens kan gebruik nie en elke situasie moet op meriete en volgens omstandighede hanteer word.
As kinders reeds weet dat die huwelik verbrokkel het tot die punt wat dit nie gered kan word nie, kan hulle dalk baie verlig wees en die uiteindelike skeiding dalk as gerusstellend ervaar. Luister na jou kinders se vrae en beantwoord net die vrae wat hulle vra op ’n vlak wat hulle verstaan. Moenie die kinders by die argumente betrek of hulle vra om kant te kies nie.
My hart wil breek as ek hoor die ouers het die kinders gevra wie reg of verkeerd is.” ’n Driejarige sal minder inligting as ’n ouer kind nodig hê. “Antwoord jou kinders se vrae op ’n gerusstellende manier. As hulle wil weet waar is Pappa, verduidelik dat hy nie meer by julle sal bly nie; maar dat Pappa steeds baie lief vir hulle is. Dit behoort vir ’n kleuter genoeg te wees,” sê Caroll. ’n Ouer kind sal dalk wil weet waarom. “Hier moet jy jou diskresie gebruik. As daar derde partye betrokke was, is dié soort inligting nie vir die kind bedoel nie. Dit is ook nie jou verantwoordelikheid om dit vir die kind te vertel nie – laat dit van die een kom wat weggebreek het. Moet nooit verskonings maak nie, maar moet ook nie die ander persoon afkraak nie. Bly net koelkop en hou emosie uit jou antwoorde. Kinders pas goed aan, maar hou konflik van hulle af weg – dít is ’n saak tussen jou en jou maat.” C
aroll sê jou kinders moet te alle tye van Ma en Pa se liefde verseker wees. “Jou kind moet die kind in die verhouding bly en nooit in enige stadium ouerlike verantwoordelikhede oorneem nie.” Hou jou kinders vir tekens van depressie en angs dop en maak vroeg werk daarvan om hulle by ’n terapeut te kry, waarsku sy. “’n Mens moet nooit die realiteit van ’n egskeiding uit die oog verloor nie. Mense skei om ’n rede – hulle sou nie geskei het as hulle goed oor die weg gekom het nie. Julle moet egter ná die skeiding ter wille van die kinders jul
Hou dít weg van jou kinders
Die fynere besonderhede soos onderhoud, huwelikskontrakte en toesig moenie voor die kinders bespreek word nie. Geen argumente is vir kinders se ore bedoel nie. “So baie onnodige dinge word gesê. Kinders hoor dit en internaliseer dit, maar het nie die vaardighede om hierdie inligting te verwerk en te verstaan nie,” sê Caroll.
Sy gee nog wenke
Laat jou kinders toe om te reageer en te sê hoe hulle voel en wat in hul koppe aangaan. Hulle sal waarskynlik omgekrap voel of huil. Sommige ouers probeer hul kinders oorreed dat hulle nie hartseer moet voel nie. Dit is nie wys nie en dikwels ’n poging om die ouer se eie skuldgevoelens te verdoof.
Sê die volgende as jy sien jou kind sukkel om die nuus te verwerk: Om van die egskeiding te hoor, maak jou dalk kwaad?; Dit lyk of ons egskeiding jou baie hartseer maak? Jy het tien teen een baie sterk gevoelens oor Ma en Pa op die oomblik? Hierdie stellings kan jou kinders die geleentheid gee om hul denke en emosies uit te druk. Wanneer sulke stellings deur ’n kort stilte gevolg word, is die skoolgaande kind meer geneig om te antwoord.
My ervaring
Ilse Salzwedel, skrywer en joernalis, vertel: “My kinders was agt en vyf jaar oud toe ons geskei het. Ek was van die begin af eerlik oor ons situasie. Dit is belangrik om hulle nie te laat dink dat daar ’n kans op versoening is nie.
Vergeet dus van frases soos ‘Pappa trek net vir ’n rukkie uit sodat ons dinge kan uitwerk’ of ‘Pappa gaan net ’n rukkie weg’. Dit skep vals hoop.
Tweedens dink ek ’n mens moet dit van die begin af vir die kinders duidelik maak dat hulle nie die oorsaak is nie. Wees eerlik tot so ’n mate dat hulle die nuus kan hanteer sonder om persoonlike inligting te deel. Sê byvoorbeeld: ‘Mamma en Pappa baklei te veel en wil eerder hê ons moet vrede in die huis hê’ of ‘Mamma en Pappa is nie meer lief vir mekaar nie, maar ons is nog baie lief vir julle!’
“Vertel van die begin af vir jou kind hoe kuiers gaan werk. Kan Pappa hulle ongehinderd en gereeld sien? Mag Pappa hulle net sekere tye sien? Dit gee verbasend baie vastigheid, want dit verminder die onsekerheid. Moenie hulle met ’n klomp geskenke bederf nie, want dan gaan dit die patroon en norm word en hulle gaan dit elke keer verwag wanneer dinge sleg gaan. Kinders uit geskeide gesinne kan ongelooflik manipulerend wees as jy hulle toelaat!”
*Skuilnaam