Dis nie net matrieks wat nou aan hul toekoms ná skool moet dink nie …
Die jaar is amper op sy rug en matrieks begin na hul lewe ná skool uitsien. Hulle is egter beslis nie die enigstes wat nou op hul toekoms moet fokus nie, sê Peter Kriel, algemene bestuurder van die Onafhanklike Instituut van Opvoeding, ‘n privaat tersiêre instelling.
“Graad 11’s behoort nou al planne te maak vir ná matriek, want as jy eers in graad 12 is, is daar baie min tyd om die regte kursus en instelling te kies. Daar is ‘n hoë werkslading, baie hersiening en eksamens en boonop al die pret en gesellighede wat jou laaste skooljaar kenmerk.”
Volgens hom is baie graad 12-leerders so besig met sosiale en akademiese eise dat hulle nie genoeg tyd het om hul opsies vir postmatriek te ondersoek nie.
“Graad 11’s besef dit nie altyd nie, maar hulle kan met hul graad 11-punte nou reeds by tersiêre instellings aansoek doen.
“Dit beteken dat hulle dan sonder kommer op graad 12 kan fokus. As jy ook reeds aan die begin van die jaar weet waarheen jy gaan en wat jy nodig het, is dit nog beter om na daardie doelwit te werk.”
Peter sê tersiêre onderrig in Suid-Afrika het baie verander, wat beteken dat studente nou baie meer opsies as in die verlede het. Met die vele opsies, is dit egter juis nodig om seker te maak dat jy die regte kursus en instelling kry.
Hy sê hoewel brosjures en webwerwe baie inligting verskaf, is dit nodig om die inrigting self te besoek. Geen universiteit gaan vir jou op hul webwerf sê dat hul sakebestuursklas meer as 500 studente het en dat dit regtig uitdagend is om akademiese ondersteuning op die kampus te kry nie.
Peter sê as voornemende studente tersiêre instellings evalueer, moet hulle ope dae bywoon en die kampus fisiek besoek.
Hy stel die volgende vrae voor wat jy moet vra:
- Hoeveel studente is in die spesifieke program en weet julle hoe jul klasgroottes met dié van ander tersiêre instellings vergelyk?
- Hoe word lesingkontaktyd en selfstudie gebalanseer?
- Hoe ondersteun tegnologie die leerervaring van studente? Is daar bloot ‘n dataprojektor in die lesinglokaal of meer?
- Kry julle terugvoering uit die werksektor oor studente se gereedheid vir werk as hulle klaar studeer het?
- As ‘n student met ‘n taak of projek sukkel, watter hulpbronne is beskikbaar?
Besoek www.theworldofwork.co.za of www.iie.ac.za