Dis nie net groot kwessies wat die liefde versuur nie, dit kan bloot hierdie vier gewoontes wees …
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As ‘n mens hoor dat paartjies skei, soek ‘n mens gewoonlik verklarings daarvoor: O, dis seker omdat Ben rondgeloop het of dalk is dit omdat sy so onversorgd is. Of Jan kan ‘n regte boelie wees, sy vrou kon dit seker nie meer uithou nie of dalk is dit omdat Klara nie wou kinders hê nie …
Maar soms is dit nie sulke groot kwessies wat ‘n verhouding verwoes nie, sê verhoudingskenners, dit kan die klein jakkalsies wees wat die wingerd verniel. Dis daai klein gedragspatrone wat in ‘n verhouding insluip …
Die verhoudingskenner John Gottman het die volgende vier dinge geïdentifiseer wat ‘n verhouding se einde kan beteken.
LEES OOK: 6 wenke om jou verhouding te beskerm
Geen reaksie nie
As ‘n mens jou geliefde ignoreer, laat jy hom of haar onbelangrik en ongewaardeerd voel. Paartjies moet aktief na mekaar luister en mekaar se behoeftes erken. Reageer as jou maat met jou gesels sodat hy of sy nie onttrek nie. Maak dit ‘n prioriteit om jou geliefde op te bou.
Geen toegeneentheid nie
Die meeste paartjies begin hul verhouding deur liefdevol met mekaar te wees. Hulle hou hande vas, soen en druk mekaar en seks is ‘n prioriteit. Hulle flankeer met mekaar en albei kan hul geluk nie glo nie, maar ongelukkig neem die vreugde en entoesiasme oor ‘n tydperk af. In vandag se gejaagde lewe, kan liefdevolheid heel laaste op jou doenlysie wees, maar dit is noodsaaklik vir die geluk van ‘n verhouding. Wys jul liefde en komplimenteer mekaar.
LEES OOK: Die moets en moenies van skei
Meer negatief as positief
Natuurlik moet ‘n mens jou negatiewe gevoelens ook met jou geliefde deel, maar as jy slegs negatiewe dinge vir jou geliefde sê, word dit ‘n gewoonte. ‘n Mens moet dit met dankbaarheid en mooi woorde balanseer, waarsku John. As jy jou maat kritiseer, balanseer dit met twee mooi dinge wat jy sê. Bedank jou maat warm en opreg. ‘n Verhouding moet ondersteunend voel.
Geen kommunikasie nie
Kommunikasie bly belangrik in ‘n verhouding, ook in tye van konflik. As een party heeltyd konflik vermy en nie oor probleme wil praat nie, kan dit die spanning vererger. Paartjies moet albei veilig genoeg in die verhouding voel om oor kwessies te praat.
John Gottman sê as jy hierdie faktore in jou verhouding raaksien, is dit nog nie te laat nie. Nes dit twee mense vat om ‘n verhouding te beëindig, is twee mense nodig om ‘n verhouding te red. Gesels met jou maat en met ‘n verhoudingsberader indien nodig.
Bronne: www.gottman.com, www.iheartintelligence.com