Dis Sondag 18 Junie Vadersdag en ons het ’n klompie bekende pa’s uitgevra oor hoe hulle oor hierdie belangrike rol voel
Deur: ZERELDA ESTERHUIZEN
Foto’s: Verskaf en Instagram
Hul drie seuns, Simeon, Reuben en Lian, hou die sanger Heinz Winckler en sy vrou, Aletté-Johanni, besig, maar Heinz sê pawees is vir hom ‘n wonderlike voorreg.
“Pawees is harde werk, maar dit gee ons groot vreugde. Ek glo my rol as pa is om hoofsaaklik identiteit aan my seuns te gee en om vir hulle te wys hoe en wie God die Vader is deur hoe ek met hulle werk. Ek is uiters dankbaar vir ’n wonderlike spanmaat in my vrou, Aletté.”
Die7de Laan-akteur en sanger Hennie Jacobs en sy vrou, Marissa, is gek na hul twee dogtertjies, Nua (7) en Tali (4). Hennie beskryf pawees as een van die grootste voorregte in die wêreld. “Om elke dag te kan sien hoe jou kinders ontwikkel en hoe hulle individue raak, is die mooiste iets om te aanskou, want jy is deel daarvan. Dit maak dit nog meer besonders om dit te kan deel met die persoon vir wie jy die liefste op aarde is,” sê Hennie.
Rocker Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties en sy vrou, Nelia, het ‘n skattige dogtertjie, Maria.
“Ek dink my job as pa is om my beste te probeer om ‘n kind groot te maak wat ‘n aanwins vir die samelewing is.”
Wynand Jonker van die rockgroep Nagligte se hart se punt is sy drie kinders, Ella (7), Lisa (5) en Daniël (4).
“Vadersdag herinner my dat ‘n pa sy kinders se hande net vir ‘n kort tyd vashou, maar hul harte vir ewig vashou,” sê Wynand.
Skrywer Jaco Jacobs het al meer as 120 boeke vir kinders en jong volwassenes geskryf. Hy en sy vrou, Elize, is die ouers van twee meisiekinders, Mia (5) en Emma (3).
“Dis vir my ’n reuse-voorreg, uitdaging en avontuur om Mia en Emma se pa te wees,” gesels hy. “’n Mens kan maklik so verstrengel raak in die sleur en roetine van die alledaagse dat jy vergeet hoe kosbaar en opwindend die tyd saam met jou kinders regtig is. Daarom probeer ek genoeg tyd maak om na hulle te luister, en met hulle te gesels en te speel. Ek hoop regtig dat hulle altyd met bewondering en verwondering na die wêreld sal kyk, daarom speel ons graag verbeeldingspeletjies en vertel stories en lees boeke en maak rympies op.”
Die sanger Joshua na die Reën is die trotse pa van ‘n klein dogtertjie, Anán. “As ek pawees in een sin kan opsom … Om vir ‘n ander mens die ruimte en geleentheid te skep in die lewe om te kan wees wie hy of sy moet wees.”
Sanger Arno Jordaan is gewoond aan reis vir sy musiek, maar is op sy gelukkigste in Pretoria saam met sy vrou, Lizanie, en hul twee seuntjies, Milan en Luka.
“Pawees het my hele lewe handomkeer verander, maar beslis net vir die beste. Dis ‘n liefde wat jy nooit sal kan beskryf tot jy dit self ervaar het nie. My hart loop oor van liefde en ek wil bars van trots. Ons is met die mooiste twee seuntjies gesëënd!”
Die gewilde sanger Jakkie Louw se twee pikkewyne weet al hoe om Pa om die pinkie te draai en hy sê pawees is een groot sëëning.
“Linke en Kara is my alles en dis vir my so lekker dat hulle so baie lag.” Hulle het soveel pret saam dat hul pappa dat hulle hom al skoon hul “Silly” gedoop het.
Raymond Oberholzer van die groep RymStoff is nog ‘n musikantpa wie se hart week word as hy tyd saam met sy meisiekind, Mikayla, deurbring.
“Vaderskap is vir my die beste gevoel in die wêreld! Die dag toe my dogtertjie gebore is, het my hele lewe verander. Ek het nooit gedink ek sou iets of iemand so kan liefhê nie. Ek het byvoorbeeld nooit gedink om ‘n Smurfie movie te kyk sou my soveel plesier verskaf het nie, maar dis omdat haar oë so blink van geluk!”