Maak jy onwetend hierdie foute? Dit kan jou kinders nog meer laat stry
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jy hulle sien, baklei hulle en dit voel asof hulle oor net mooi niks saamstem nie. Is jou kinders altyd aan die stry? Volgens Amy McCready, die ouerskapskrywer en stigter van PositiveParentingSolutions.com is ouers dikwels die direkte oorsaak daarvan. Dis nie asof dit doelbewus is nie, sê Amy, dis vir ouers niks lekker om hul kinders te sien stry nie, maar daar is dinge wat ouers doen wat die mededinging tussen kinders aanwakker. Gelukkig is dit nooit te laat om hierdie “foute in die kiem te smoor nie en kan jy ‘n atmosfeer in die huis skep waar kinders nie baklei nie.”
Waak teen dié ses foute, sê Amy
- ALMAL WORD ALTYD BY ALS INGESLUIT
Hoe kan daar fout daarmee wees, dink jy. Ons weet mos gesinstyd is baie belangrik, maar elke kind het wel die behoefte aan individuele tyd met hul ouers. Ouers maak dikwels die fout om met speeltyd of ‘n uitstappie almal te wil daarby te wil insluit, maar as almal altyd alles saam doen, skep dit natuurlike mededinging vir jou aandag. Probeer om gereeld individuele tyd met elke kind deur te bring. Gesels of speel vir so 10-15 minute per dag met elke kind. As jou kind klein is, doen iets wat hulle geniet soos om Lego te bou of inkleur.
- JY VOLG DIE “WAT DIE EEN DOEN, MOET DIE ANDER DOEN”-BELEID
Dis gewoonlik net makliker om jou kinders as ‘n eenheid te hanteer en hulle dieselfde aktiwiteite te laat doen. Maar dit laat nie jou kinders toe om hul individuele talente te ontwikkel nie en dit kan veral mededinging tussen sibbe laat ontstaan. Vind uit waarin jou kinders regtig belangstel en vind dan geleenthede en hulpbronne om hul talente en belangstellings te ontwikkel. Kyk na hul individuele sterk punte.
- JY ETIKETTEER JOU KINDERS
Ja, die samelewing hou daarvan om etikette om kinders se nekke te hang. Skaam, hiperaktief, ‘n bleeksiel? Die meeste ouers weet darem om nie hul kinders negatief te etiketteer nie. Maar hulle gebruik wel “mooi” etikette soos die “soet kind”, die “snaakse kind”, die “talentvolle kind”. Hierdie etikette skep vergelyking tussen kinders. As die een die slim kind is, kan die ander maar net aanneem dat hy of sy nie so slim is nie. Los die etikette en fokus op wat jou kind besonders maak.
- JY SKEP ONNODIGE MEDEDINGING
Dit mag skadeloos klink, maar klein kompetisies soos “wie kan die kamer die vinnigste skoonmaak”, “kom ons kyk wie trek vandag die gouste aan” skep ‘n geleentheid vir ‘n wenner en verloorder. Daar is genoeg mededinging in die wêreld en dis nie nodig om dit by die huis ook te skep nie. Kyk eerder na maniere hoe jou kinders kan saamwerk om iets te vermag. Prys hulle as hulle saamwerk.
- JY VRA JOU ALLES-DOEN-KIND ALS
Ja, daar is gewoonlik die een kind in die huis wat die leier is, sal doen wat gedoen moet word en nie moeilikheid veroorsaak nie. As jy iets belangriks gedoen wil hê, weet jy wie om te vra. As jy so ‘n kind het, kan die ander kinders uitgesluit voel of voel dat dit nie saak maak wat hulle doen nie, hulle sal nooit aan jou verwagtinge kan voldoen nie. Wees regverdig met jou verwagtinge en die uitdeel van verantwoordelikhede. Gee almal ‘n gelyke kans en laat jou kinders weet dat jy hul bydraes waardeer.
- AS JY POSISIES TOEKEN AS HULLE STRY
As kinders baklei, sal ouers gou besluit wie die slagoffer of die aggressor was. Gewoonlik word die slagoffer dan vertroos en die aggressor gestraf. Maar jou kinders sal hierdie rolle dan konstant inneem en nie aan oplossings werk nie. Fokus daarop om jou kinders te leer om konflik positief op te los en saam na oplossings vir dispute te soek. Vra: Wat kan julle doen om hierdie kwessie op te los? Sibbebakleiery is normaal en die manier hoe jy daarop reageer, is baie belangrik. Leer jou kinders om die verhouding met hul sibbe op ‘n liefdevolle en respekvolle manier te ontwikkel.
http://community.today.com