Ons wil graag ons kinders gelukkig sien. Hierdie lysie is baie belangrik om ‘n gelukkige en goed aangepaste kind te vorm
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1 Jul verhouding
Die verhouding wat jy met jou kinders het, het die grootste invloed op hulle. Dit stel ‘n voorbeeld vir hul verhoudings vorentoe. As jul verhouding gesond en op respek, empatie en omgee gegrond is, het jy ‘n goeie standaard gestel. As jy van kleins af vertroue en oop kommunikasie bou, sal jou kinders na jou toe kom met hul probleme.
2 Hoe jy jou kinders sien
Wat sien jy as jy na jou kinders kyk? Sien jy die positiewe of die negatiewe? Die manier hoe jy oor hulle dink, beïnvloed die manier hoe jy hulle behandel. Jou gedagtes beïnvloed ook die manier hoe jy oor hulle voel. Onthou die mag van woorde. Wat van “My kind is nou in ‘n opwindende lewensfase” in plaas van: “Hy gaan nou deur ‘n moeilike stadium.” Let op na hoe jy oor jou kinders praat en watter etikette jy om hul nek hang.
3 Jou verhouding met jou geliefde
Jou kinders kyk en luister en sien meer dinge raak as wat jy dink. Die manier hoe jy en jou maat mekaar behandel, stel ‘n standaard vir hulle. Jou huwelik beïnvloed jou kinders. Die manier hoe julle konflik hanteer, stel ‘n voorbeeld. Die grondslag vir ‘n gelukkige gesin is ‘n sterk en liefdevolle verhouding tussen Ma en Pa.
4 Die atmosfeer in jul huis
As daar liefdevolle verhoudings in jul gesin is, sal julle ‘n warm atmosfeer in jul huis hê, maar as daar gereeld onmin is, sal die atmosfeer dit weerspieël. ‘n Huis moet ‘n hawe wees, ‘n plek waar jy en jou kinders veilig en geliefd voel.
5 Hoe jy ander mense hanteer
Jou kinders hoor hoe jy van ander mense praat en sien hoe jy die kassiere of die karwag hanteer. Hoe praat jy byvoorbeeld met en oor jou ouers en skoonouers?
6 Of jy goed vir ander is
Wys jy empatie aan ander? Is jy in die gemeenskap betrokke en doen goeie dinge vir ander mense? Dit beïnvloed jou kinders en hul verhoudings met ander. Skep ‘n omgeehart in jou kinders.
7 Jou lewe
Kyk jy na jouself of is jy mense se vloerlap? Is jy geduldig, empaties, energiek? As jy jouself respekteer, leer jou kind ook selfrespek aan.
8 Die media
Die media (insluitende sosiale media) stuur boodskappe aan jou kinders. Wees bewus van wat jou kind kyk en watter speletjies hy speel.
9 Basiese behoeftes
Genoeg slaap, oefening, voedingstowwe is belangrik vir die welstand van jou kind.
10 Jul keuse van skool
Jou keuse van skool het ‘n groot invloed op jou kind. Kies met sorg, want onthou watter impak ‘n portuurgroep op jou kind sal hê.
BRON: www.mother.ly