Sukkel jy om gehaltetyd saam met jou gesin deur te bring? Oorweeg die volgende:
Skep gehaltetyd
- Een gesinsaand per week: Met klein kindertjies is gesinaktiwiteite saam maklik om te reël, maar sodra jou kinders die tienerfase betree, kan jy vind dat jou kinders liewer naweke aktiwiteite saam met hul vriende wil aanpak as saam met julle. Moenie teen die prikkels skop nie, maar besluit as gesin op een aand van die week wanneer niemand enige ander afsprake mag maak nie. Gebruik hierdie tyd om iets lekkers saam te doen.
- Skeduleer gesinstye op die kalender. Gesinstyd behoort net so belangrik soos enige ander verpligting te wees, indien nie meer so nie. Net soos jy belangrike vergaderings sal skeduleer, kan jy gesinsaktiwiteite doelbewus skeduleer, hetsy groot avonture of kleiner goed soos ‘n Sondagmiddagbraai op die strand.
- Stel ‘n voorbeeld. Wys dat gesinstyd vir jou ‘n prioriteit is deur altyd jul afsprake na te kom, al is dit soms moeilik. Soms moet jy sê: “Tannie Petro het my genooi om vandag saam met haar ‘n vertoning te gaan kyk, maar ons het mos besluit om vanoggend dieretuin toe te gaan, so ek het nee gesê.”
- Beperk tegnologie. So wonderlik as wat tegnologie is, kan dit die tyd laat verbyvlieg en die gehalte van gesinstyd drasties laat daal as almal op hul selfone vasgevang sit of na ‘n TV-skerm staar. Maak sekere tye tegnologievry (ook vir pa en ma) en kuier bietjie saam oor bordspeletjies. Jy kan altyd weer die rekenaar aansit as die kinders eers slaap.
- Kitsvermaak: Pret bind gesinne saam, so dink aan maniere om saam pret te hê al het julle net ‘n paar minute beskikbaar. Maak dit deel van jul roetine. Speel byvoorbeeld saans voor aandete 30 Seconds, maar net een kaartjie per aand. Môreaand is dit weer ‘n ander gesinslid se beurt.
- As jy by jou kinders is, wees ten volle by hulle. Dis moeilik as jy ná ‘n lang werksdag by die huis kom en jou kinders eis jou aandag terwyl jy eintlik net jou skoene wil uitskop en ontspan, maar leef in die oomblik en fokus op die wonderlike wesens wat jou kinders is en op die nuus wat hulle so graag met jou wil deel.
Prioritiseer
Soms het ‘n mens nodig om net weer ‘n bietjie jou prioriteite in die lewe reg te kry en ‘n paar noodsaaklike aanpassings te maak. Kry ‘n bietjie stil tyd, deurdink die volgende vrae deeglik en skryf dan jou antwoorde neer. Vra jouself af …
- Wat is vir my werklik belangrik in my lewe?
- Reflekteer my lewe en dit wat ek elke dag doen dit?
- Het ek (en my kinders) regtig nodig om al die goed te doen wat ek (ons) op die oomblik in ‘n dag probeer inpas? (Sê nee vir goed wat nie by jou lewensdoelwitte inpas nie. Jy hoef nie by alles en almal betrokke te wees nie.)
- Hoe kan ek dit wat ek elke dag moet doen meer effektief doen sodat ek meer tyd in my dag los het vir my gesin?
- Wat geniet ons gesin werklik om te doen? En wat keer dat ons dit doen? Hoe kan ons dit verander sodat ons meer kan doen van wat ons saam geniet?