Dit maak nie saak hoe lief of dierbaar jou gesin is nie, dit gaan nie maklik wees om vir drie weke saam met hulle ’n ruimte te deel sonder enige blaaskans van mekaar nie. Hier is 20 wenke
- Ontwikkel ‘n roetine wat vir almal in die huis werk. Moet egter nie ‘n pyn daaroor wees nie. Wees akkommoderend en gee vir almal insae in die nuwe roetine. Hou ‘n balans tussen eietyd en gesinstyd.
- Verdeel takies tussen almal. Een mens hoef beslis nie als in die huis te doen nie. Maak beurte met kosmaak en gee vir kinders ook ouderdomstoepaslike take.
- Mens kan nie nou kitskos koop nie en jy kan gou uitgekuier raak met die gewone gesinsdisse. Loer aanlyn vir interessante resepte en probeer om ‘n voedsame eetplan te volg.
- Afsondering in vandag se tegno-era is baie anders as wat dit 30 jaar gelede sou wees. Gesels met jou mense via Skype of Video Call. Klets op Facebook of skep WhatsApp-groepe en deel jou ervaring met ander.
- Almal is in hierdie tyd gestres en baie mense is veral oor hul finansies bekommerd. Probeer dat dit jou nie van slaap beroof nie, want ‘n gesonde nagrus is goed vir jou gesondheid en gemoed.
- ‘n Pajamadag nou en dan is nie die dood van Katryn nie, maar as mens steeds elke dag aantrek en mooimaak, dan voel jy ook beter.
- Laai toeps af om steeds by die huis te oefen en maak sommer die kinders betrokke. Daar is byvoorbeeld ‘n swetterjoel jogatoeps en YouTube-video’s en dis goed vir jou algemene welstand.
- Verwag dat dit erg gaan wees. Die nuwigheid van die inperking gaan gou verbygaan en jy en jou mense gaan met mekaar opgeskeep raak. Maan almal om kalm te bly en om te dink voor hulle praat. Niemand is perfek nie. Moenie ‘n drama van als maak nie – aanvaar daar gaan irritasies wees, maar probeer om dit vir mekaar makliker te maak.
- Dis terapie om in ‘n joernaal te skryf. Skryf elke dag jou frustrasies en gevoelens daaroor neer of skryf iets neer wat jou nog dankbaar maak.
- As jy by die huis moet werk, maak seker daar is genoeg tyd om aandag aan die kinders te gee. As hulle nie aandag kry nie, raak hulle moeilik. Hanteer dit soos ‘n gewone werksdag en moenie later as die gewone tyd werk nie, want dit gaan net jou gesin omkrap.
- Mense se gemoedere gaan wissel en dis maklik om in neerslagtigheid te verval. Wees daar vir mekaar en gesels oor wat jy ervaar.
- As kinders skoolwerk moet doen, probeer om dit prettig te maak sodat dit nie ‘n straf is nie. In ons groot klaskamers kry kinders nie altyd individuele aandag nie, maar jy kan nou persoonlike aandag gee. Kyk saam met hulle interessante video’s aanlyn of laai opvoedkundige toeps af. Stel ‘n skedule op sodat hulle genoeg eietyd en speeltyd kan hê. As daar te veel leertyd is, gaan dit vir julle almal onaangenaam wees.
- Gee vir kinders ook nou en dag ‘n pajamadag of iets soortgelyks waar hulle kan doen net wat hulle wil.
- Ons het vitamien D nodig en as die son skyn, voel mens al klaar beter. Bestee tyd buite as jy kan – hou ‘n piekniek op die gras of stap in die kompleks rond as jy in een bly.
- Gebruik die tyd om iets te leer of te doen wat jy altyd wou. Die internet het vrek baie idees. As jy nog nie kan brei nie, leer hoe om dit via die internet te doen. Doen ‘n aanlyn kursus. Gaan op virtuele museumtoere. “Besoek” ander lande op die internet. Daar is baie opsies.
- Maak tyd vir stilwees. Daar is nou baie tyd om te bepeins, om aan die geestelike aandag te gee, jou geloof te beoefen en om te mediteer. Gebruik die tyd vir ‘n bewuswording van wat belangrik in jou lewe is.
- Tuisblytyd is ook ‘n goeie tyd om nuwe gesinsdoelwitte te stel en saam te droom. Ons gaan weer kan reis, begin planne beraam. Kry iets vir julle om na uit te sien as die staat van inperking verby is.
- Wees goed vir jou geliefde. Doen iets om sy of haar gemoed op te kikker. Dis nou die kans om jul verhouding te verdiep. Wees gaaf met mekaar en pasop dat klein jakkalsies nie die wingerd verwoes nie.
- Ek dink die een ding wat korona ons weer laat besef het, is hoe belangrik ons gesondheid is. Probeer om jou liggaam en gees so gesond as moontlik te hou.
- Probeer om positief te bly. Drie weke is lank, maar dit gaan ook verbygaan.
Bykomende bronne: www.theguardian.com, www.theregister.co.uk
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.