Is julle geskei sonder om dit te besef? In hierdie week se Vrouekeur gesels ons oor ‘onsigbare’ egskeidings. Hier is nog inligting
Kobus van der Merwe, huweliksberader, ontsluit die geheim na ’n lang en gelukkige huwelik.
“’n Mens hoor soms dat ’n traumatiese voorval, byvoorbeeld die dood van ’n kind, ’n huwelik laat misluk. Ongelukkig verwerk mense nie altyd hulle trauma nie; hulle huil of praat nie daaroor nie – hulle gaan eenvoudig soos voorheen voort. Indien jy nie jou trauma verwerk nie, gee jy iets prys.
“’n Mens wil jou konneksie met jou lewensmaat tot in jou selle toe voel. Jy ervaar dit wanneer julle saam lag, speel en pret het. Seks, veral ’n orgasme, gee ook daardie sellulêre ervaring. Trauma het dieselfde effek. Wanneer twee mense saam ’n krisis oorleef, is die konneksie tussen hulle ’n sellulêre ervaring. Dit bring mense nader aan mekaar, maar ongelukkig praat mense nie altyd oor hul trauma nie; hulle ‘werk’ nie met hulle seer nie. Jy gee iets van jouself prys indien jy nie met jou trauma in kontak is nie. Jy lag minder, dink minder, jy is minder kreatief en minder sigbaar. Dan raak intimiteit moeilik, op emosionele én seksuele vlak. As twee mense in dialoog met mekaar is, kan trauma hulle selfs nader aan mekaar bring; anders kan trauma hulle verder uitmekaar dryf.”
“Die diepste vlak van pyn in ’n verhouding is diskonneksie; die diepste vlak van herstel is rekonneksie,” sê Kobus verder. “Vergifnis is om – indien een van die twee partye ‘oortree’ het – daardie kontak te herstel. Wanneer ’n egpaar vasklou aan die beskouing dat een party skuldig en die ander ’n slagoffer is, kan daar nie vergifnis wees nie. Hulle probeer die fout herstel, nie die verhouding nie.