Julle is jare gelede geskei, maar nou vlam die liefde weer op. Kan dit die tweede keer werk?
Deur: JB ROUX
Dit gebeur nie dikwels dat twee mense wat skei, weer later met mekaar trou nie, maar dit is ook nie ongekend nie.
“Wanneer twee mense skei, beleef hul familie en vriende ook emosionele trauma en hulle is geneig om kant te kies,” sê Karin en Deon du Toit, huweliksberaders. “Hulle kon tydens die egskeiding iemand selfs aangeraai het om te skei omdat dit vir hulle emosioneel moeilik was om te sien hoe hul vriend of familielid as gevolg van ’n ongelukkige huwelik seerkry. Wanneer ’n paartjie aankondig dat hulle weer met mekaar gaan trou, kan dit gebeur dat hulle (familie en vriende) teen die hertroue gekant sal wees of selfs sal dreig om hul verhouding met dié persoon te beëindig omdat hulle nie kans sien om weer die voormalige eggenoot te aanvaar nie. Oor die algemeen blyk dit egter dat mense vergewensgesind is en daarom weer die ‘nuwe’ huwelik verwelkom.”
LEES OOK: Wenke vir jou groot dag
Volgens Stefan Blom, sielkundige en skrywer van Die waarheid oor verhoudings, is dit moontlik dat ’n traumatiese gebeurtenis wat albei partye raak, soos die dood van ’n kind, ’n geskeide egpaar weer nader aan mekaar bring en daarop uitloop dat hulle weer trou. “Krisisse en die gepaardgaande trauma bring dikwels ’n oomblik van waarheid. Dit verander jou menswees en jou uitkyk op die lewe. As julle dit sáám deurmaak en die hartseer deel, kan dit julle baie nader aan mekaar bring: Net julle twee verstaan die pyn van die ervaring.
“As julle egter so ’n pynlike ervaring vermy en onder die mat probeer vee, kan dit juis afstand bring, maar elke krisis is ’n geleentheid vir nabyheid.”