Om te vloek kom van ver af
Wanneer ’n jong kind jou skielik in jou spore laat stol met ’n onverwagse vloekwoord wat hy na jou kant toe slinger, kan dit aanvanklik baie vermaaklik wees. Maar die prentjie verander as daar te veel aandag aan gegee word en hy dit later as ’n wapen begin gebruik of aanwend om grense te toets.
Wáár kom my bloedjie aan daardie woord? wonder jy dikwels sonder om te besef dat hy dit dalk juis aan moedersknie geleer het. Kleine muisies, grote ore is blykbaar instinktief daarop ingestel om die verkeerde of die verbode op te vang en dit sy eie te maak.
In die oorgang van kind na volwassene word die gebruik van vloekwoorde graag aangewend om jou nuwe status in die lewe te definieer. Jy is nie meer op die skoolbanke waar jy daarvoor gestraf kan word nie, jy is nou jou eie baas en jy mág maar. Vryheid van spraak en al daardie mooi dinge. Jy gebruik nou grootmenstaal en na die duiwel met die wat dit nie kan vát nie. Die tawwe ouens in die flieke, die wat al die mooi meisies kry, vloek dan hoeka ook dat die dampe staan. En die onderwyser wat jou rugbyspan afrig. En jou pelle. En jou pa, veral wanneer sy span verloor.
En buitendien – vloek is vreeslik ‘cool’.
Dis maar eers later dat jy (dalk) leer om jou meer genuanseerd uit te druk en nie meer drie- of vierletterwoorde daarvoor nodig het nie.
Die donker kant van die vurige bliksemstrale van kragwoorde
Dat ’n gevloek en skel wel swaar dra aan negatiewe konnotasies, kan nie ontken word nie.
- Jy kan jou medemens werklik beledig of seermaak met die woorde wat jy gebruik, selfs al was dit nie jou bedoeling nie.
- Te veel vloekwoorde word beskou as bloot ’n lui manier van praat. Jou brein word nie ingespan om na meer beskrywende woorde as bloot die f-woord te soek nie. Jy ontleed ook nie ’n persoon se gedrag of ’n situasie meer volledig nie, maar maak dit bloot af as ’n spul … wel … ’n spul twak. Jy vat dus die kortpad en verlaag so jou vlak van denke en jou vermoë tot kritieke evaluering.
- Hoewel ’n vloekbek maklik as minder intelligent gesien kan word, ís dit nie altyd die geval nie. ’n Artikel in die tydskrif Language Sciences beweer dat studente wat vloekwoorde in spontane spraak of geskrewe taal gebruik se verbale vermoëns verskil. Die korrelasie van taboe-woorde met ’n bepaalde onderwerp, waar hul betekenisse verstaan en korrek aangewend word, dui dalk selfs op ’n breër woordeskat en meer vloeiende gebruik daarvan. In hierdie gevalle vloek mense omdat hulle verkies om hul gevoelens so uit te druk, nie omdat hulle ’n gebrekkige woordeskat het nie.
- Emosies speel egter altyd ’n rol en jy gaan sukkel om persepsies en veral daardie baie belangrike “eerste indrukke” te verander.
- Daar word dadelik ’n etiket om jou nek gehang wat jy nie noodwendig altyd daar wil hê nie. Hier kan sosiale media jou ook lelik pootjie. Wanneer jy jou opmerkings op Twitter, Facebook en ander webblaaie graag goed peper, kan dit tot jou nadeel strek as jy aansoek doen vir werk en jou voornemende baas jou ‘google’. Hy kan dalk net besluit dat ’n ou wat sy taal so inkleur nie goed gaan wees vir menseverhoudings in die kantoor nie. Taalgebruik kan bepaal of jy respek gaan afdwing of nie. Respek, nie vrees nie.
- Mense wat vloek word maklik gesien as onaangename persoonlikhede, krities en sinies van geaardheid en nie in staat om alledaagse frustrasie en irritasies op ’n volwasse manier te hanteer nie.