Linette Retief, ’n joernalis, en self ’n voormalige koopverslaafde, sê: “Na my mening, en ervaring, is koopmanie dikwels ’n leemte in ’n mens se siel wat jy dink jy kan vol ‘koop’.
Daar is ook baie navorsing gedoen oor die verband tussen oorbesteding en geestestoestande soos depressie.
“As jy bedruk voel is die vinnigste en maklikste manier om verligting te kry, om iets te koop. Wat baie, baie belangrik is, is om die neurochemiese agtergrond te verstaan. Wanneer jy koop, word ’n breinhormoon, dopamien, afgeskei – dit is dieselfde hormoon wat afgeskei word as jy iets by ’n dobbeltafel of -masjien wen. Die euforie duur natuurlik nie lank nie en die na-effek is amper letterlik soos ’n babelas ná ’n lekker partytjie.
“Ek dink nie koopverslaafdes kan hulself sonder professionele hulp en ondersteuning rehabiliteer nie. Omdat die oorsake van koopverslawing so emosioneel is, is ’n simpatieke maar ferm ondersteuningsnetwerk baie, baie belangrik.
“Die media het my as ‘koopslaaf’ geëtiketteer, maar terugskouend was my kernprobleem nie soseer dat ek aan koop verslaaf was nie. Ek het daarvan gehou om te koop, maar my eintlike probleem was dat ek nie my finansies bestuur het nie; dit het mý bestuur. Wat dinge verder bemoeilik het, was dat ek vir myself gewerk het en my maandelikse inkomste het soms radikaal gefluktueer. Die keerpunt was toe ek een maand R4 000 se fakture uitgestuur het – my verband alleen was meer as R17 000.”
“Ek voel partykeer angstig as ek dink aan die moontlikheid dat ek kan ‘terugval’ en dat alles van voor af kan begin, maar ek dink ek het groot genoeg geskrik!”