Ongelukkig ervaar kinders ook trauma. Hoe kan ouers dit hanteer?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Zander (6) was by sy skool toe ‘n tornado Krugersdorp getref het. Hy gesels baie oor die voorval, maar is nou vreesbevange as die weer opsteek. Hy weet die laaste tornado het met hael, donderweer en reën gepaardgaan en is bang dat dit weer kan gebeur. ‘n Mens kan nie vir hom sê dat so iets nooit weer sal gebeur nie … Maar hoe moet jy jou kind se trauma hanteer?
Dr Bruce Perry van die Kindertrauma-akademie in Amerika sê wanneer ‘n mens bedreig word, reageer jou kop en liggaam en maak veranderinge in die manier hoe jy dink en in jou liggaam se fisiologie. Wanneer getraumatiseerde kinders ontsteld is omdat hulle byvoorbeeld aan die trauma dink, konsentreer hulle swakker, is meer angstig en skenk veral meer aandag aan nieverbale tekens soos gesigsuitdrukkings en lyftaal. Bruce sê ‘n mens moet onthou dat getraumatiseerde kinders dikwels laevlakvrees ervaar en dan daarop reageer deur óf hiperbewus te wees óf dissosiatief op te tree.
Hier is sy wenke vir ouers:
1. Gesels oor die traumatiese gebeurtenis
Dit help kinders nie om nie daaraan te dink nie. As ‘n kind agterkom dat sy mense daaroor ontsteld raak, sal hy eerder nie daaroor wil praat nie, maar dit maak sy herstel net moeiliker. Moenie die kwessie self ophaal nie, maar as jou kind daaroor wil praat, moenie bespreking vermy nie. Luister, beantwoord vrae en gee ondersteuning. Al het jy nie die antwoorde nie, luister en pasop om nie te oorreageer nie. Stel jou kind gerus.
2. Voorsien ‘n voorspelbare patroon vir die dag
Maak seker dat jou kind weet wat sy dag behels. As daar nuwe aktiwiteite is, vertel jou kind vooraf wat gaan gebeur en verduidelik hoekom dit nou anders is. Dis belangrik vir jou kind om te weet dat Ma en Pa in beheer is. Dit is vreesaanjaend vir ‘n getraumatiseerde kind as sy versorgers ook verward en angstig is. ‘n Mens hoef nie perfek te wees nie, maar as jy angstig is, verduidelik hoekom en dat hierdie reaksie normaal is en ook weer sal verbygaan.
LEES OOK: Kalmeer jou angstige kind
3. Wees vertroostend, versorgend en liefdevol
Drukkies, soentjies en fisieke vertroosting is baie belangrik vir ‘n kind. As ‘n kind vasgehou wil word, doen dit. Moet egter nie spel onderbreek om drukkies te gee en of jou kind beveel om vir jou ‘n drukkie te gee nie. Wees veral versigtig met kinders wat fisiek of seksueel mishandel is.
4. Bespreek jou verwagtinge vir gedrag en jou dissiplinestyl met jou kind
Maak seker dat daar duidelike grense is en dat julle albei weet wat die gevolge van onaanvaarbare gedrag is. Gebruik positiewe versterking en belonings. Vermy fisieke dissipline.
5. Gesels
Gee die kind ouderdomsgeskikte inligting. Hoe meer hy of sy weet wat aangaan, hoe makliker is dit om sin daarvan te maak. Die onbekende en die onvoorspelbare is twee dinge wat ‘n getraumatiseerde kind meer angstig en bang sal maak. Daar sal meer impulsiwiteit, angstigheid en aggressiwiteit wees en meer slaap- en buiprobleme. Wees eerlik en oop om vertroue te bou.
6. Let op die tekens
Wees op die uitkyk vir tekens van herlewing (in spel, teken, gedrag), vermyding (onttrek, dagdroom, vermy ander kinders) en fisiologiese hiperaktiwiteit (angstigheid, slaapprobleme, gedragsimpulsiwiteit). Alle getraumatiseerde kinders toon van of ‘n kombinasie van hierdie simptome in die akute posttraumatiese tydperk. Baie kan nog jare ná die voorval hierdie simptome toon. Wees verdraagsaam en kyk na patrone.
7. Beskerm die kind
Moenie huiwer om aktiwiteite te stop wat die kind ontstel of hertraumatiseer nie. As jy meer simptome na ‘n sekere voorval sien, vermy hierdie aktiwiteite eerder.
8. Gee jou kind keuses en ‘n mate van beheer
As ‘n getraumatiseerde kind voel asof sy of hy geen beheer het nie, sal hulle meer simptome toon. Maar met keuses en beheer, sal hulle veiliger, gemakliker en beter voel, dink en optree. As jou kind byvoorbeeld ongehoorsaam is, sê: Jy het ‘n keuse, jy kan luister of die volgende kan gebeur …
BRON: http://teacher.scholastic.co