Dit was jou Nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor en gesonder te leef, maar nou gaan die maande verby en die winter met sy bredies is sterk op pad. Hier is ʼn paar wenke om gesonder te leef
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1 Drink meer water
Dit klink so eenvoudig, maar dit werk. Daar is al bevind dat as jy genoeg water drink, kan dit jou help om gewig te verloor. Water hou jou ook langer vol sodat jy minder sal eet en dit raak van gifstowwe ontslae.
2 Maak ontbyt ‘n prioriteit
Verskeie studies het al bevind dat ontbyt ‘n mens help om ‘n gesonder lewenstyl te handhaaf. As jy nie baie tyd het vir ontbyt nie, hou dit eenvoudig met ‘n bakkie volgraanontbytpap en vrugte of volgraanroosterbrood met laevetkaas en jogurt.
3 Werk aan jou slaappatrone
Genoeg slaap help jou liggaam om siektes soos verkoue of griep te beveg en kan selfs jou risiko vir hartsiektes en diabetes verminder. Vir ‘n gesonder jy, mik vir sewe tot agt uur slaap per nag.
4 Hou ‘n kosjoernaal
As jy neerskryf wat jy eet, kan dit jou gewigsverlies verdubbel, sê navorsers. Dit help jou om jou kospatroon te identifiseer en te sien waar jy verkeerd eet. Dit kan jou help om gesonde veranderinge te maak.
5 Gaan stap
Kom ons wees maar eerlik: Ons is nie almal vir gim gebou nie, maar die feit van die saak is dat ‘n mens oefening moet inkry. Gelukkig is daar ‘n oefening wat lekker en gratis is. Probeer om minstens drie keer per week vir ‘n halfuur lank te gaan stap.
6 Eet vrugte en groente
‘n Mens kan nie fout maak met groente en vrugte nie, veral nie as jy gewig wil verloor nie.
7 Kry ‘n maatjie
As jy gewig probeer verloor, vra ‘n vriendin om die pad saam met jou te stap. Julle kan saam gaan oefen en sy kan jou motiveer op die dae wat jy hulp nodig het.
8 Eet aandagtig
Probeer om stadiger te eet en jou kos regtig te geniet. Dit vat tyd vir jou liggaam om seine te stuur dat jy vol is.