Jou kind is anders as jou ander sibbe, maar hoe hanteer en help jy hom in ’n ongenaakbare wêreld? vra Kristel Loots
Daar is min dinge wat ’n seun so vrees as om ’n mamma se seuntjie of ’n “sissie” genoem te word. Daar skuil soveel spot in dié benamings dat dit hom vir die res van sy lewe kan skaad omdat hy alles in die stryd gaan werp om die samelewing verkeerd te bewys. Boys will be boys en daarom is wangedrag blykbaar meer aanvaarbaar vir seuns en later vir mans.
’n Sensitiewe seun is nie sommer tuis in die ramkamp nie en sal dikwels as randfiguur ’n eensame lewe tegemoetgaan. Daarom is daar ma’s wat met die beste moontlike bedoelings hul seuns vir die wêreld probeer voorberei en hul só van die koestering ontneem waaraan hulle heimlik ’n intense behoefte het.
Hoe lyk die sensitiewe kind?
Volgens dr Ted Zeff, skrywer van The Strong, Sensitive Boy is hoogs sensitiewe kinders dikwels ook besonder intelligent en kreatief, maar dis nie altyd maklik om hulle groot te maak nie. Van hulle kan aan jou roksoom vasklou lank nadat hulle nie meer daar hoort nie en kan kleintyd ’n vloermoer gooi asof dit ’n nasionale sport is.
’n Sensitiewe kind is gewoonlik verbaal besonder goed ontwikkel en kan met verstommende logika jou ore van jou kop af redeneer. Om hom te oortuig dat hy verkeerd is, kan ’n uitputtende erva- ring wees. Volgens Johan van Lill, skrywer van ouerskapboeke en aanbieder van die program Groeipyne op RSG, ervaar elke mens deur sy sintuie die omgewing op ’n unieke manier.
Jou hipersensitiewe seun beleef die omgewing dus heeltemal anders as ander – wat verklaar waarom hy soms vreemd optree. Sommige floreer in ’n besige omgewing. Alles moet helderder, harder en vinniger wees. Hulle ervaar dit as opwindend en stimulerend. Ander hou weer nie van raserige omgewings nie, maar soek kalmte, rus en orde.
Hulle raak verbouereerd en gespanne as daar te veel van ’n gewerskaf rondom hulle is. Sulke kinders pas moeilik aan in die skool. Die gedruis en die gedrom van baie ander kan hulle angstig maak. Hulle staan dikwels eenkant en kyk hoe die ander speel. In die tienerjare is dit makliker om jou eerder van die buitewêreld af te sluit as om te probeer om daarmee saam te smelt.
Die gebruik van drank en dwelms word soms beproef om die sensitiwiteit te beheer of om by die ander in te pas.
Enkele kenmerke
- Hy word maklik deur stimuli oorweldig.
- ’n Oormatige geraas, skares en ’n gejaag teen tyd kry hom onder.
- Te helder ligte, sterk reuke, gewelddadige tonele, fiktief of andersins, en radikale veranderings in sy lewe, word nie goed hanteer nie.
- Hy is sensitief vir sy omgewing en die gevoelens van mense om hom.
- Jou kind het simpatie en empatie met ander, veral die underdog.
- Hy huil maklik, maar leer gou om gevoelens op te krop.
- Hy leen hom daartoe om geboelie te word.
- Hy hou van sy eie geselskap en het geen probleem om alleen te wees nie.
- Hy hou nie van sekere kossoorte nie en kla oor klere en teksture.
- Hy is ’n moeilike slaper.
Nie ‘stout’ nie
Johan van Lill wys daarop dat sommige kinders baie min stimulasie uit hul omgewing kan verduur. Sensitiewe seuns val dikwels in dié groep. Ons het elkeen ’n ander drempelwaarde. Wat vir jou normaal mag voel, kan vir jou kind onuithoubaar wees. Om hipersensitief te wees, is al beskryf as om soos ’n skilpad sonder sy dop te leef.
Daar is geen beskerming tussen jou senustelsel en die aanslae van die buitewêreld nie. Dit voel asof jy geen beheer het oor die dinge wat met jou gebeur nie. Jou sintuie is opgeskerp, soos wanneer jy ’n seerplek het wat met die geringste stampie daarteen jou opnuut van pyn laat krul. Jy ervaar elke sensasie intens en afsonderlik, wat dit moeilik maak om ’n geheelbeeld van die werklikheid te vorm.
Wat seuns weet
Daar word dikwels van seuns verwag om “oor dinge te kom” … en hulle doen dit gewoonlik ook. ’n Seuntjie val hom disnis van sy fiets af, maar staan weer op. Hy skop dalk na die fiets, swets selfs en ry dan verder. Selfs al is sy knieë nerfaf, wil hy nie wys dat hy seergekry het nie. Dis tog ’n teken van “swakheid”. En huil is buite die kwessie. Dis mos wat meisies doen.
As jy dan later in jou lewe dieper seerkry, hanteer jy dit op dieselfde manier. So beskerm jy jouself nie alleen teen spot nie, maar wys jy ook nie jou Achilleshiel nie.
Dis nie noodwendig aangeleerde gedrag nie, dit kan inherent wees hoe jy daaroor redeneer. Jy het dit by jou pa gesien en jy voel gemaklik daarmee. Die sensitiewe seun leer hierdie norm gou genoeg aan en aap dit na.
Die gevaar is dat hy dan altyd ’n front moet voorhou en aanvaarbare gedrag moet openbaar wat teen sy karakter indruis, maar sy ware self word begrawe. Volgens dr Ted is dit beslis moeiliker vir ’n sensitiewe seun as ’n sensitiewe dogter om in ’n wêreld te oorleef waar daar van mans verwag word om aggressief te wees.
Emosies soos vrees, bekommernis of droewigheid word as “abnormaal” beskou. Dit mag die sosiale norm wees, maar volgens dr Ted huil seuntjies inderdaad meer as dogtertjies wanneer hulle tydens hul babastadium gefrustreer voel. Teen vyfjarige ouderdom het hulle egter reeds geleer om alle gevoelens behalwe woede te onderdruk.
Voordele daarvan om ’n sensitiewe seun te wees
Ouers, wat net die beste vir hul kinders wil hê, raak soms moedeloos wanneer hul ander kinders oënskynlik maklik deur die lewe gaan terwyl die sensitiewe seun kortkort in trane of dikbek by die huis kom. Maar dr Ted is daarvan oortuig dat sensitiwiteit in ’n seun tot groot voordeel vir homself en ander kan wees.
Hulle is gewoonlik meer verantwoordelik, deernisvol, vredemakers en daartoe in staat om mense met hul probleme by te staan. Hy wys op die sukses van sensitiewe mans soos Abraham Lincoln, Carl Jung en Mozart. Ook is sensitiewe seuns geneig om meer spiritueel te wees en help dit hulle om vrede en stabiliteit te bekom.
Wanneer volwassenheid in die psige bereik word, is hulle meer bewus van hul waarde as mens en doel op aarde. In die regte omgewing, waar daar respek vir hul uniekheid en hoë standaarde is, lewer hierdie konsensieuse mense werk van hoogstaande gehalte.
Doen dit as ouer
Johan beveel aan dat ouers ’n veilige ruimte vir hul kinders moet skep waar hulle die vrymoedigheid sal hê om hul probleme te bespreek. Dis vir ’n hipersensitiewe seun baie moeilik om oor situasies te praat waar hy gespot word.
Vrae soos: “Hoekom het jy nie teruggeslaan nie?” ervaar hy as ’n beskuldiging en sal hom laat toeslaan. Probeer om sulke situasies te gebruik om ’n oplossing-georiënteerde manier van dink aan te leer sodat jou sensitiewe seun eienaarskap vir sy lewe en keuses aanvaar en nie net op jou steun nie.
Help hom om geleenthede in probleme te sien en deur ’n positiewe bril na die wêreld te kyk. Moenie namens hom optree nie, hy moet leer om dit korrek te hanteer.
Om jou sensitiewe seun alles toe te laat omdat jy nie sy gevoelens wil seermaak nie, is om hom ’n vreeslike onguns aan te doen. Reëls en dissipline wat konsekwent toegepas word, sal hom juis laat veilig voel. Daarmee gee jy struktuur aan sy lewe, wat net so belangrik soos buigsaamheid en aanpasbaarheid is. Maar onthou dat hy nie uitbarstings mag gebruik bloot om jou te manipuleer nie.
Hy ervaar die situasie meer intens as jy of dalk verskil sy sensoriese drempelwaarde totaal van joune. Probeer self kalm en rustig wees en help hom om die dramas in sy lewe te evalueer sodat alles hom nie oorweldig nie. Help hom ook om verskillende emosies te identifiseer en te verstaan. Wanneer ’n onlogiese vrees so ’n mens byvoorbeeld aanval, sal hy nie realisties redeneer nie. Moenie sy optrede kritiseer of as abnormaal beskryf nie. Johan beveel aan dat jy die volgende aspekte moet evalueer en hulp moet kry as dit nodig is:
Intensiteit Onthou, alle kinders is van tyd tot tyd moeilik en geïrriteerd.
Frekwensie Hoe gereeld vind die plaas?
Impak Word jou kind se funksie en ontwikkeling op ’n daaglikse basis beïnvloed? Maak daarmee vrede dat jy nie altyd jou sensitiewe seun teen die wreedheid van die wêreld kan beskerm nie. Sensitiwiteit lei tot ’n beter persepsie van verhoudings. Die sensitiewe seun ontpop dalk later in die simpatieke volwassene wat ’n sukses van soveel beroepe kan maak.