Voel dit soms of jou kind net wil hê en hê en niks waardeer nie? Hier is ‘n paar maniere om dankbare kinders groot te maak
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
“Ek het arm grootgeword en dis vir my belangrik dat my kinders alles het wat hulle nodig het. Ek probeer om hulle nie te bederf nie, maar dit voel soms vir my asof hulle nie waardeer wat hulle het nie. As ek dit sien, ontplof ek en dan ontaard dit in ‘n stryery. Kan ‘n mens jou kind dankbaarheid leer?” vra Marinda* (38).
Volgens kenners is daar wel maniere wat kan help. Hier is ‘n paar:
1. Leer jou kinders om te gee
Kinders leer deur die voorbeeld wat hul ouers stel. As jy gereeld met ‘n positiewe houding gee, sal jou kinders leer om dieselfde te doen. Gee byvoorbeeld hul ou klere, boeke en speelgoed weg en kry hulle daarby betrokke. Gesels oor hoe gelukkig hulle is om alles te hê en hoe lekker dit nou is om weer ander mense te help.
2. Hulle moet maniere gebruik
Ons weet ons moet ons kinders maniere leer, maar verwag ook van hulle om dit in elke situasie te gebruik. Deur slegs “asseblief” en “dankie” te gebruik, sal kinders sien wat ander mense vir hulle doen.
3. Laat hulle tuinmaak
Wys jou kinders hoe lekker dit is om blomme en groente te sien groei en hoe afhanklik ons van die natuur vir ons kos is. Julle kan ook ‘n plaas besoek en so waardering by hulle vir kos skep.
4. Laat jou kinders takies vir hul sakgeld verrig
Kinders moet van kleins af geleer word om hul kamers en persoon netjies te hou en hul takies kan uitgebrei word vir sakgeld. Jy kan ook ‘n sterkaart maak – hulle sal só hul geldjies baie meer waardeer.
5. Moet hulle nie oorbeskerm nie
Ons leef nie in ‘n sprokieswêreld nie. ‘n Mens wil graag jou kind teen al die ongeluk in die wêreld beskerm, maar jy kan nie. As jou kinders bewus word van kwessies, vertel hulle meer daarvan en lig hulle in van mense wat swaarkry en dinge wat verkeerd is.
6. Stuur dankiesêkaartjies
As jou kinders geskenke kry, laat hulle ‘n dankiesêkaartjie maak of ‘n SMS stuur. As hulle klein is, kan hulle ‘n prentjie teken.
7. Fokus op die klein dingetjies
Leer jou kinders om die klein dingetjies te waardeer. As julle byvoorbeeld gaan stap, wys dinge uit soos die mooi blomme langs die pad, die pragtige sonsondergang en die voëls.
8. Leer hulle om te deel
Om te deel, skep ‘n bewustheid van die wêreld en almal om ons.
9. Skep gesinstradisies
Gesinstradisies en ‘n gelukkige gesinslewe skep ‘n vaste grondslag vir kinders.
10. Pay it forward
Hierdie konsep kan vir seker geïmplementeer word. Leer jou kinders as daar iets goeds met hulle gebeur, kan hulle weer vir iemand anders goed wees.
11. Dink aan ander mense
Wees ‘n voorbeeld vir jou kinders deur vriendelik met die kassiere te wees, ‘n deur vir iemand oop te maak of ‘n lekkerny met iemand te deel.
12. Gesels oor dankbaarheid
Wys jou dankbaarheid as jou kinders iets vir jou doen en laat hulle sien as jy byvoorbeeld dankbaar is vir iets wat jou man vir jou gedoen het.
BRON: https://premeditatedleftovers.com/naturally-frugal-mom/12-ways-raise-grateful-kids/