Jy dink jou kind is die wonderlikste, dierbaarste mens op die planeet, maar wat as sy of haar maats dit nie raaksien nie? Kan jy haar help om vriendskappe te vorm?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Monja* is sewe jaar oud en in graad 2. Sy geniet skool en hou van haar juffrou, maar daar is net een probleem: Monja sit pouses alleen op ‘n bankie en dit breek haar ma se hart.
LEES OOK: My kind haat skool
‘n Mens kan tog nie kinders stormloop en vra: Hoekom wil julle nie met my kind maats maak nie?
Dit is of party kinders net makliker as ander vriende maak, terwyl jou sosiale kind dalk baie maats het, sukkel jou introvert-kind om net een maatjie te maak.
Hier is ’n paar wenke wat kan help:
Luister
Vra jou kinders uit oor hul dag en luister en probeer uitvind wat presies die probleem is en waarom die maats nie wil saamspeel nie.
Stel hulle bloot aan aktiwiteite
As jou kinders ekstra aktiwiteite doen, is die kans groter dat hulle ander vriende kan ontmoet. As hulle ook in iets spesifieks soos skaak belangstel, behoort hulle maats daar te kry wat dieselfde belangstellings deel.
Reël ’n kuiertyd
Partykeer moet ‘n mens kinders help om vriende te maak. As jy ‘n ma in die klas ken, vra dat haar kind op ‘n Saterdag kom speel.
Wees pro-aktief
Soms is dit nodig om in te gryp as jou kinders byvoorbeeld huilerig is of geboelie word. Gaan sien die onderwyser en gesels oor ‘n oplossing.
Help met sosiale vaardighede
As jou kinders nog klein is, vra hoe hulle ‘n maatjie sa vra om te speel en oefen die situasie in.
LEES OOK: Is jou kind ‘n boelie?
Werk aan hul selfbeeld
Kinders moet geliefd is en veilig by die huis voel. Hulle moet weet hulle word aanvaar. Help jou kinders om hul positiewe eienskappe raak te sien en prys hulle.
Verduidelik wat vriendskap is
Leer jou kinders dat goeie vriende mekaar help, gaaf is met mekaar, betroubaar is, graag tyd saam deurbring, daar vir mekaar is en saam pret het.
BRONNE: www.koriathome.com, www.thesoccermomblog.com