Ouers is gewoonlik supertrots as hul kind ’n instrument leer speel, maar min besef hoe goed dit eintlik vir hul kind se brein is
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Van my beste kindertydherinneringe was in ‘n musiekklas saam met my gunstelingonderwyseres. Sy het vir my deure oopgemaak en my wêreld verruim.
Ek wonder of my ouers toe besef het hoeveel die musiekklasse vir my en my menswees beteken het. Of dit my nou slimmer gemaak het, sal ek nie kan sê nie, maar dat dit verskeie voordele vir ‘n skaam boekwurm- dogtertjie gehad het, is gewis.
Baie ouers hou van die idee dat hul kinders ‘n musiekinstrument bespeel, maar nie almal weet hoe baie dit eintlik vir daardie kind beteken nie.
Daar word al jare lank na die verband tussen intelligensie en musikaliteit gekyk.
Reeds in 1974 het die musieknavorsers Desmond Sergeant en Gillian Thatcher gesê: “Alle hoogs intelligente mense is nie noodwendig musikaal nie, maar alle hoogs musikale mense is blykbaar hoogs intelligent.”
Navorsingresultate verskil egter oor die presiese impak van musiek op kognitiewe vermoëns.
Daar is al gesê dat die luister van musiek ‘n verbetering in sekere soorte kognitiewe take tot gevolg het, maar dit is meer korttermynverbeterings.
Daar is egter baie groter voordele as jy self leer hoe om die instrument te speel en nie net na musiek te luister nie.
Studies kyk veral na hoe die aanleer van musiek tot die verbetering in ander aspekte van die brein kan lei – dit word die “oordra-effek” genoem.
Daar is al bewys dat musiekopleiding breinontwikkeling kan vorm, algemene intelligensie kan verhoog en motoriese vaardighede kan verbeter.
Daar is ‘n magdom bewyse wat toon dat musikale opleiding voordelig vir kinders is.
In ‘n artikel op www.theconversation.com word genoem dat kinders wat musieklesse neem, ‘n beter bewustheid van hul doel sowel as ‘n verbetering in hul vloeibare intelligensie getoon het, wat die vermoë is om nuwe probleme op te los, logika te gebruik en patrone te identifiseer. Dieselfde studie toon ook dat kinders se sosio-ekonomiese welstand verbeter.
‘n Studie wat aan die Northwestern University in Amerika gedoen is, toon om die volle kognitiewe voordele van ‘n musiekklas te geniet, kan kinders nie net daar sit en luister nie. Hulle moet aktief aan die musiek deelneem.
Selfs in ‘n groep van hoogs gemotiveerde studente, het klein verskille in betrokkenheid soos klasdeelname die krag van neurale prosessering beïnvloed.
Die studie toon ook dat studente wat instrumente in die klas bespeel, verbeterde neurale prosessering gehad het as die kinders wat slegs ‘n musiekwaarderingsgroep bygewoon het. Om musiek te maak, maak dus ‘n groot verskil.
BRONNE: www.theconversation.com, www.time.com