Dis net natuurlik dat jou kind nie altyd lus is om vir ’n eksamen of toets te leer nie. Dis immers nie naastenby so interessant soos hul gunsteling-TV-program of speletjies nie. Maar hoe hou jy hulle gefokus en geïnspireer?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Kyk, ouers wie se kinders eksamens skryf, ken van soebat, smeek, afdreig, gil, pleit en dies meer. Maar soms help dit nie eens nie …
Ek onthou nog hoe my ma met my gesukkel het om die vervelige vakke te leer. Ek het my leesboek netjies in my boek gesit en as my ma kom inloer, sit ek verdiep in die werk ,.. tot ek so lekker verdiep in die boek geraak het en haar nie voor my sien staan het nie!
Hier is ’n paar wenke:
Probeer positief bly
As ouers het jy ‘n groot invloed op jou kind. Negatiewe maniere soos straf en manipulasie gaan nie so goed soos ‘n positiewe gesprek werk nie. Gesels met jou kind en laat hom of haar toe om bekommernisse of vrese te bespreek.
Inspireer jou kind
Gebruik woorde soos “ek is trots op jou dat jy so mooi leer” en “dankie dat jy altyd jou bes doen”. Bou jou kind op en skep só ‘n vertrouensverhouding.
Stel ’n studieplan op
Sit ‘n groot kalender teen die muur op. Organiseer die datums en werk daarvolgens. Vra jou kind se terugvoering en merk elke dag af.
Bied belonings aan
“As jy klaar geleer het, kan jy gou ‘n TV-program kyk.” Gee jou kind ook die opsie om belonings self te kies.
Wees op die uitkyk na tekens van frustrasie
Dis somer en jou kind sal tien teen een veel eerder buite wil wees as om te leer. As jy tekens van frustrasie sien, gee jou kind ‘n blaaskans en hervat die studies later. Gesels oor dit waarmee jou kind sukkel en help hom of haar om die moeilike dinge baas te raak.
Kry ’n studieroetine
Laat jou kind elke dag op dieselfde tyd leer en gesels oor hoe lank die studiesessies moet wees. Hou jou kind se ouderdom in gedagte.
Hou die huis so rustig en stresvry as moontlik
Ouers moet daarteen waak dat hul stres hul kinders se stres word. Onthou, jou kind is nou onder druk – moenie daartoe bydra nie. Sorg vir gesonde, voedsame happies en etes.
Wees onvoorwaardelik lief
Jou kind moet weet dat hy of sy onvoorwaardelike liefde by die huis kan verwag – en dit hang nie van goeie punte af nie. Jou kind moet weet dat jy in hom of haar glo.
Leer saam
As jou kind sukkel om gefokus te bly, is dit dalk belangrik om saam te sit en deur die werk te gaan. Help ook met hersiening deur vir jou kind toetse te gee.
Laat jou kind doelwitte stel
Help jou kind om ‘n lys van kort- en langtermyndoelwitte te stel. Maak seker die doelwitte is bereikbaar.
Wees positief
‘n Positiewe en optimistiese uitkyk beteken baie vir kinders. As hulle sien dat hul ouers bang is of in hul vermoëns twyfel, is dit nie goed vir hul selfbeeld nie. Verlig die druk met grappies en bied positiewe inspirasie. Dalk ‘n nota in ‘n kosblik of tas of ‘n kaartjie by die ontbyttafel.
Help jou kind om ’n passie te ontdek
Help jou kind om belangstelling in iets te kry en na doelwitte toe te werk. Wys dat jy ook opgewonde is oor sy of haar planne. Dit help as hulle weet wat hulle eendag wil doen en nou hard daarvoor kan werk.
BRONNE: www.smiletutor.sg, www.empoweringparents.com