Laat afslag op sekere kosse jou juis meer eet? Sekere kenners meen winskopies het wel ‘n invloed op jou gewig
Ons almal ken dit. Koop twee en kry die derde gratis. Wat is dan nou lekkerder as ‘n winskopie en juis in ‘n tyd wanneer alles styg? Mens moet mos bespaar.
Maar het jy al opgelet dat ongesonde kos dikwels afgemerk word?
Die Britse regering oorweeg nou ernstige beperkings op die spesiale aanbiedinge op kos wat hoog in vet, suiker en sout is. Dit is omdat die Britte, wel, gewigtiger raak.
Cancer Research UK se nuwe verslag sê mense koop dikwels juis kos net omdat dit op ‘n spesiale aanbieding is en koop dan minder groente en vrugte.
Hierdie tipe aanbiedinge druk mense in die verkeerde rigting in, want daar is minder aanbiedinge op gesonde kosse, glo hierdie organisasie.
Vorige navorsing het ook al gewys as ongesonde versnaperings by die betaalpunte weggeneem word, koop mense 17% minder.
Obesiteit in Brittanje is ‘n groot probleem en dit hou met verskeie ernstige gesondheidsrisiko’s verband. Hulle glo dat die doelwit eerder moet wees dat meer vars, gesonde en onverwerkte kosse beskikbaar en bekostigbaar moet wees. Dit sal die land se gesondheid net tot voordeel kan strek.
Dalk ‘n idee vir Suid-Afrika ook?
Volledige artikel op www.theguardian.com