Daar is soveel aspekte wat jy in gedagte moet hou as jy jou groot dag beplan dat jy soms oorweldig mag voel. Ons het kenners in die bedryf vir hul topwenke vir jou groot dag gevra
Blomme
“Daar is nie moets en moenies as dit by die kleurskema en tema vir jou blomme kom nie,” meen Izette Carinus van Leipzig Wedding and Function Design. “Maak seker daar is nie te veel kleure blomme nie, maar eerder ’n fokuspunt waarom jy werk.” Sy gee die volgende wenke:
- Kies blomme wat in seisoen is. Rose, lelies, krisante en gerberas is die staatmakers wat heeljaar beskikbaar is.
- Daar is al hoe meer aanvraag vir kleiner rangskikkings. Die fokus is op fyner blomdetail – party bruide verkies selfs om een blom per houer te gebruik en dan ’n paar verskillende houers blomme saam te groepeer.
- As jou begroting beperk is, gebruik veldblomme of vetplante.
- Vermy hoë rangskikkings as julle ronde tafels in die onthaalsaal het, anders sukkel die gaste om mekaar te sien.
Dekor
“Kies wat by jou styl pas, jou persoonlikheid weerspieël en binne jou begroting is,” meen Cornelia Badenhorst, mede-eienaar van De Liefde. Haar vennoot, Judy Graaff, se dekorwenke is:
- Hou die dekor eenvoudig – less is more! Die dekor moet nooit die tafels oorheers nie.
- Wanneer dit by jou kleurskema kom, kan jy nie ’n fout maak met skitterwit en skakerings van room, sjampanje en ivoor nie.
- ’n Oulike plan is om die sleutelelemente vir jul troue te kies – soos kandelare, blompotte, plekmatjies – en dan gaste te vra om dié bykomstighede reeds voor die groot dag vir julle as trougeskenk te gee.
- Klein ronde en reghoekige tafels is deesdae die norm vir enige deftige geleentheid. Dit laat gaste ook toe om meer gesellig te verkeer.
LEES OOK: Trou: ‘Wie, ek?’
Skoene & juwele
Anina le Roux, eienaar van Lily Blue, sê jy moet gemaklike skoene kies, want jy gaan vir ’n paar uur daarin moet staan en loop. “Kies ’n skoen waarin jy kan dans en wat jou verkieslik nie kop en skouers bo jou bruidegom laat uittroon nie,” stel sy voor.
- Moenie plat skoene dra nie. Selfs met ’n effense hak sal jou postuur beter lyk.
- ’n Skoen in antieke pienk, vuilblou of rooi lyk baie mooi.
- As jy waarde vir geld wil hê, koop ’n skoen wat agterna gekleur kan word. Sodoende kan jy die skoene weer dra. Anina sê jy moenie net na jou rok kyk as jy juwele kies nie. “Dink ook aan jou troufoto’s en wat mooi gaan lyk,” sê sy.
- Niks kan in isolasie gekies word nie. Dit moet perfek by jou trourok pas.
- Waak daarteen om ’n juweelstuk bloot om sentimentele redes te dra as dit nie ook by jou uitrusting as ’n geheel pas nie.
- Dra iets meer uitspattigs as wat jy normaalweg sal. Kies dalk ’n groter kammetjie of haarstuk as gewoonlik.
- Jou oorbelle gaan in meer foto’s as jou rok wees. Kies iets wat by jou persoonlikheid pas en wat jou halslyn en hare komplementeer.
Trourok
Anemike Swart van Crystals and Crème gee dié wenke: n Kyk met ’n objektiewe oog in ’n vollengte spieël na jou lyfvorm. Besluit watter dele van jou lyf jy wil beklemtoon en watter dele jy wil verbloem. Dit sal jou help om die regte rok te kies.
- Meestal kies die rok die bruid. Nege uit tien bruide stap uiteindelik in die paadjie af met ’n rok wat heeltemal verskil van die rok wat sy in gedagte gehad het.
- Neem slegs jou ma, suster of vriendin saam vir die eerste passing. Te veel mense kan die ervaring onaangenaam maak. Elizabeth Stockenström van Elizabeth Wedding Gowns het ook die volgende wenke:
- Die seisoen het ’n groot invloed op die ontwerp asook die materiaal waarvan die rok gemaak word.
- Moenie met ’n vasgestelde prentjie in jou kop vir jou eerste konsultasie gaan nie – wees oop vir nuwe idees.
- Kies ’n klassieke rok sodat jy nie oor 20 jaar sê: “Wat op aarde het ek gedink?” nie.
Hare & grimering
“Die haar- en grimeerstyl hang nie net van jou gesigvorm, haarkleur en gelaat af nie, maar ook van jou persoonlikheid. Laat dus jou hare- en grimeerkunstenaar toe om jou te leer ken voordat julle op ’n styl besluit,” is Sebastine Pepler se raad.
- Wees oopkop. Luister na die kunstenaar se raad en moenie bang wees om style te probeer nie.
- Maak seker jy lyk steeds soos jy wanneer jy opgedollie is. Jy gaan vir seker nie gemaklik voel as jy totaal vreemd vir jouself lyk nie.
- Gebruik ’n goeie vogroom en drink genoeg water. Daar is net soveel wat ’n kunstenaar met ’n droë, gedehidreerde vel kan doen.
- As jy van plan is om jou hare te laat kleur of punte te knip, doen dit voor die proeflopie sodat jou stilis kan sien waarmee sy op die groot dag gaan werk.
- Wend deurgaans poeier aan sodat jou gesig nie op die foto’s blink nie.
- Moenie parfuum op jou nek of borsgedeelte spuit nie – die alkohol blink en lyk spierwit op foto’s.
LEES OOK: Moet jy trou of moet jy wag?
Uitnodigings
“Jou uitnodigings hoef nie slegs in standaardgrootte of selfs uit tradisionele papier gemaak te word nie,” meen Monette Collen, wie se onderneming, Lily Young, kreatiewe trou-uitnodigings ontwerp. “Met ’n moderne tema kan jy hout of selfs perspex gebruik. Sny dit in ’n interessante patroon en graveer die ontwerp dan daarop.” Sy gee nog wenke: n Vind inspirasie vir uitnodigings op troublogs.
- Om jou uitnodigings te maak, kan van ’n paar dae tot ’n paar weke neem. Plaas jou bestelling dus vyf tot ses maande voor die troue.
- As jy nie ’n spesifieke tema het nie, besluit dan op die styl wat julle wil hê (elegant, modern of klassiek). Gebruik dan hierdie tema om al die verskillende elemente, van die uitnodigings tot die tafeldekor, bymekaar te bring.
- Doen dit self. As jy self betrokke wil wees, kan jy ’n paar goed vir die dag self maak, byvoorbeeld ’n swartbordspyskaart, die tafelplan en “confetti cones”. Span jou gevolg in om te help.
Die spyskaart
- Allokeer ongeveer 25-30% van die begroting aan spyseniering.
- Vermy geregte wat ryk is aan knoffel, uie, bloukaas en enigiets met ’n skerp reuk.
- Kies interessante kosse, maar nie vreemde geregte nie.
- Wees kreatief met die nagereg deur ’n lekkergoedtafel te verskaf. Nicola Meyer van La Fete gee wenke vir ’n lekkergoedtafel: n Besluit wat die konsep agter jou lekkergoedtafel gaan wees – lekkers van eenderse kleure, soetgoed uit jul kinderdae, ensovoorts.
- Kies lekkers wat maklik hanteerbaar is.
- Moenie alles tegelykertyd voorsit nie. Stel eerder iemand aan om die lekkergoed gereeld aan te vul sodat almal ietsie te peusel kry.
- Gebruik etikette om aan te dui wat in elke houer is.
- Dui enige allergene soos neute of gelatien op die verskeie etikette aan om noodgevalle te voorkom. As dit by die troukoek kom, stel Kanya Hunt voor dat jy ’n professionele persoon vra om dit te bak. “Ek het al gehoor van koeke wat deur ’n tannie of vriendin gebak is en ’n totale mislukking was,” vertel sy.
- Kies van die koeke wat jou bakker aanbeveel eerder as om vir haar voor te skryf wat om te doen. Dié koeke is om ’n rede op die lys – dit is beproef en werk.
- Plaas jou bestelling minstens drie tot ses maande voor die troue.
- Neem inspirasie vir die koek na die bakker, byvoorbeeld die kant van jou rok, uitnodigings, teksture, linte en kleurvoorbeelde – dit sal help om ’n unieke koek te ontwerp.
Onthaalplek
- Bepaal eers die hoeveelheid gaste.
- ’n Venue moet so vroeg as moontlik bespreek word, verkieslik ’n jaar voor die troue.
- Vind uit of daar ’n kurkfooi betaal moet word as eie drank gebring word.
- Dis belangrik om ’n plan B te hê as julle buite trou en dit reën.
- Doen navraag of stoele, tafels en eetgerei by die prys ingesluit is.
- Probeer om ’n plek te kry met nabygeleë akkommodasie.
- Kies ’n plek waar die kos voorberei kan word of waar die kos by die prys ingesluit word.