Die skrywer van ‘n topverkoperboek oor emosionele intelligensie sê hierdie dinge kan baie vir jou algemene welstand beteken
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Travis Bradberry is die medeskrywer van die topverkoperboek Emotional Intelligence 2.0 en die medestigter van TalentSmart. Hy sê in vandag se gejaagde lewe is dit moeilik om kop te hou en op jou eie menswees en welstand te fokus, maar daar is dinge wat jy kan doen om jou lewe te verbeter.
- Bly weg van energievampiere
Energievampiere is daardie giftige mense wat jou met hul negatiwiteit aftrek. Hulle het net ‘n manier om jou bloed te laat kook. Vermy hulle sover as wat jy kan. As jy aan die persoon dink en voel hoe jy kwaad word, dink aan iemand anders in jou lewe oor wie jy dankbaar is.
- Geen foon, tablet of rekenaar in die bed nie
Mense besef nie hoe sleg dit vir jou slaap en produktiwiteit is nie. Die blou lig en golwe van fone en tegnologiese toestelle speel ‘n belangrike rol om jou bui, energievlak en slaapgehalte te bepaal. Vermy hierdie artikels ná etenstyd vir ‘n beter nagrus.
- Waardeer die hier en die nou
Dankbaarheid is fundamenteel vir vrede en geluk – eenvoudige waardering vir dit wat jy het. Net omdat jy nie sjampanje en kaviaar kan bekostig nie, beteken dit nie dat jy nie ‘n maaltyd kan geniet nie. Moenie dink dat jy iets nodig het om gelukkig te wees nie.
- Besef dat dinge nie altyd is soos wat jy dit sien nie
Die persoon op wie jaloers is met die “perfekte lewe” het dalk nie so ‘n perfekte lewe as wat jy dink nie. Jou werkgewer se besluit om jou na ‘n ander tak te skuif, mag dalk die beste ding wees wat nog met jou gebeur het. Wees oop vir geleenthede.
- Begin, al kan jy misluk
Idees moet ontwikkel. Ons is geneig om te vries as dit tyd is om iets te begin, veral as ons idees nog nie perfek is nie. Maar ‘n mens moet iewers begin.
- Raak georganiseerd
‘n Mens mors jou spaartyd deur nie georganiseerd te wees nie. Jy vat aan vyf dinge tegelyk sonder om iets klaar te kry. Kry ‘n plek vir als in jou huis en kantoor om dinge makliker te maak.
- Kry iets wat jou inspireer
Sien jy ‘n oulike aanhaling of meme en vind inspirasie daarin? Kry ‘n plek waar jy dié dinge kan bêre. ‘n Spesiale lêer op jou rekenaar, notaboek of in jou dagboek.
- Doen iets wat jou herinner wie jy is.
Ons grap altyd oor ektyd, maar wat is dit regtig? As jy aktiwiteite doen wat jy regtig geniet, gee dit vir jou ‘n energie-hupstoot en dit maak jou gelukkig. Of jy nou hou van dans of draf, maak tyd daarvoor.
- Sê nee
As jy dit moeilik vind om nee te sê, ervaar jy moontlik stres, depressiewe gevoelens of uitbranding. Sê nee en voel hoe jy ligter voel.
- Stel realistiese doelwitte
Moenie groot doelwitte stel wat jy nie gaan maak nie. Dink aan iets wat regtig haalbaar is en probeer jou bes om dit te bereik.
BRON: Travis Bradberry: www.entrepreneur.com