Kan jy iemand se persoonlikheid op sy gesig lees? Shanda Luyt het gaan uitvind
Hulle noem dit fisionomie of gelaatskunde: die vaardigheid om na iemand se gesig te kyk en sy persoonlikheid daar in te lees. ’n Mens doen dit dikwels instinktief.
Fisionoom Marthie Maré van Face Profile SA vertel sy was aanvanklik self baie skepties oor fisionomie, maar haar belangstelling is geprikkel nadat iemand haar gesig “gelees” het. “Ek het alles gelees wat ek kon en agter gekom hoe jy dit kan gebruik om jou selfkennis, verhoudings en kommunikasie te bevorder. Dis ongelooflik en jy kan dit uitstekend in die sakewêreld gebruik.” Sy het drie jaar lank navorsing gedoen voor sy oortuig was, vertel Marthie. Sy beklemtoon dat jou gesig nie “slegte” en “goeie” eienskappe het nie. “Jy kan byvoorbeeld ’n sterk wil positief of negatief toepas. Wat vir een ou ’n talent is, is dalk vir ’n ander ’n uitdaging.”
Maar hoe dan as jou gesig verander? Marthie verduidelik dat enigiets wat op jou gesig verander, ’n invloed het op die aspek van jou persoonlikheid wat daardeur verteenwoordig word. Net so sal enigiets wat in jou persoonlikheid verander, weer op jou gesig wys. “Dit werk van binne na buite en van buite na binne. Kyk ’n bietjie hoe mense wat jare saam is na mekaar begin lyk. Dis omdat hul denkprosesse en optrede al meer dieselfde begin raak. Jou persoonlikheid pas later by jou maat s’n aan en jou gelaatstrekke gaan dit wys.”
LEES OOK: Wat sê jou geboortemaand van jou loopbaan?
’n Fisionoom kyk nie net na een gelaatstrek nie, maar na die hele gesig. Geen mens se gesig is ook simmetries nie, sê Marthie, daarom deel ’n fisionoom jou gesig in twee helftes: jou linkerkant van jou gesig dui op jou privaat persona (hoe jy by die huis tussen jou vriende en familie optree), en die regterkant op jou openbare persona (hoe jy by die werk en tussen vreemdes optree). Hier is ’n paar interessante riglyne:
Voorkop
’n Baie reguit voorkop “Dit behoort aan mense wat baie logies dink en hul gedagtes chronologies wil vorm. Hulle werk dinge in stappe uit,” verduidelik Marthie. As so ’n vrou byvoorbeeld ’n sjokoladekoek bak, sal sy die resep tot op ’n letter navolg en die koek sal presies soos op die prentjie lyk.
Skuins voorkop (waar die voor kop by die haarlyn verder terug is as by die wenkbroue is): “Dis baie visuele denkers. Hulle dink in prentjies en hou van praktiese voorbeelde. Sy sal beter vaar as jy haar prakties wys hoe om die koek te bak.”
Geronde voorkop “Hierdie mense is baie kreatief en kan glad nie in stappe werk nie. Hulle hou van lukrake prosedures en vat hier en los daar as hulle iets doen.
Wenkbroue
Hoe dig/dik of dun wenkbroue is, dui aan hoeveel inligting ’n persoon verkies om te hoor, verduidelik Marthie. “As iemand baie dik wenkbroue het, soek hy baie detail voor hy ’n besluit neem. Iemand met dun wenkbroue verkies minder inligting en sal op een taak op ’n slag fokus en dit afhandel voor hy met die volgen de begin. Mense met baie dun wenkbroue, amper soos ’n potloodstrepie, is ook baie sensitief en geneig om dinge baie persoonlik op te neem. As ’n vrou met dik wenkbroue dit pluk, kan sy verward voel en sal baie take vir haar oorweldigend raak. Sy gaan voel sy het ’n ruskans nodig.”
Haarverspreiding “As jy digte wenkbroue het by jou neus wat skielik uitdun na die kant toe, noem ons dit beginnerwenkbroue. Dit beteken jy is baie entoesiasties as jy met ’n taak begin, maar raak later verveeld en vind dit moeilik om die projek te voltooi. As jou wenkbroue dunner begin en dan dikker word, is jy ’n stadige beginner en begin eers na die einde van die projek toe momentum kry en opgewonde raak daaroor.”
Wenkbroue se hoogte As daar ’n groot spasie tussen die wenkbrou en ooglid is, is jy iemand wat jou mening versigtig lug, sê Marthie. “Jy sal eers luister en nadink oor wat mense gesê het. As jy min ruimte daar het, sal jy maklik ander mense se sinne votooi, hulle aanjaag of geïrriteerd raak met hoe lank hulle praat.”
Vorm Mense met ronde wenkbroue is op mense en hul gevoelens ingestel, sê Marthie. “Dis mense wat gaan weet wat die atmosfeer is sodra hulle by ’n vertrek instap en wat sal agterkom as jou glimlag vals is. Mense met reguit wenkbroue is weer op feite gesteld – hulle soek nie lang stories nie. Mense met hoekige wenkbroue (waar die wenkbrou ’n skerperige hoekie maak) hou daarvan om in beheer van hul situasie te wees en sal sommer die onderwerp van ’n gesprek verander as dit hulle nie pas nie. Hulle is gewoonlik goeie bestuurders en kan delegeer.”
Oë
Jou onderste ooglid As die onderste ooglid baie reguit is, beteken dit jy is ’n baie skeptiese mens, sê Marthie. “Jy vertrou mense nie maklik nie en maak nie maklik vriende nie. Jy wil eers bewyse hê dat iemand jou vertroue werd is, maar jy is ’n baie lojale vriend en jou vriendskappe hou lank.” Iemand met baie geronde onderste ooglede is weer geneig om mense blindelings te vertrou, sê Marthie. “Hulle word baie keer misbruik omdat hulle so maklik vertrou en sal ook maklik verlief raak.”
Jou boonste ooglid Die boonste ooglid (van die wimpers tot die oogvou) dui die behoefte aan intimiteit aan en is baie belangrik in verhoudings, sê Marthie. “As jy ’n baie smal ooglid het, is jy iemand wat nie mense na aan jou wil hê nie en in verhoudings is dit belangrik dat jy genoeg ruimte het. Iemand met groot ooglede het weer behoefte aan intimiteit en soek iemand naby hom. Iemand met dun ooglede kan iemand met groot ooglede as klouerig ervaar, terwyl dié persoon weer sal dink eersgenoemde is ongevoelig.”
Jou wimpers Kort, yl wimpers beteken dat jy baie sensitief is vir enige kommentaar en dit baie persoonlik opneem, vertel Marthie. Digte, lang wimpers beteken dat jy nogal verdraagsaam is.
LEES OOK: Wat sê jou ringvinger van jou?
Neus
Jou neus verteenwoordig jou werkstyl.
Die breedte ’n Breë neus beteken jy werk gemaklik in groepsverband, terwyl ’n smal neus op ’n meer onafhanklike werkstyl dui – jy hou nie daarvan as iemand oor jou skouer loer nie.
Die lengte As jy ’n baie lang neus het, beteken dit jy kan op langtermynprojekte fokus en werk slim eerder as hard. Mense met kort neuse is harde werkers.
Die neuspunt Dit dui jou ingesteldheid op geld aan. ’n Geronde knopneus is die mens wat voel hy moet vir die dag van môre sorg. Dis ook dikwels opgaarders, want hulle kry emosionele bevrediging deur te weet daar is genoeg van alles. Mense met ’n fyn neuspunt glo in oorvloed. Baie welaf mense het spits neuspunte – hulle weet geld is net ’n middel tot ’n doel en nie alles in die lewe nie.
Vorm As jy na die profiel kyk en die neus is baie reguit, dui dit op ’n logiese werkstyl, sê Marthie. “Dis die ou wat lysies maak en alles afmerk. Hy werk sistematies.” Mense met krom neuse (wat na buite uit rond) dele geer, maar het ook ’n baie kreatiewe werkstyl. “As daar ’n probleem by die werk ontstaan, sal hulle ’n kreatiewe oplossing daarvoor kan vind.” Diegene wie se neus ’n kurwe na binne maak is mense wat intuïsie gebruik om probleme by die werk op te los.
Mond
Die mond verteenwoordig jou kommunikasiestyl, verduidelik Marthie.
Dun of dik As jy ’n baie dun bolip het, beteken dit jy wil nie graag oor jouself praat nie. Jou dominante onderlip beteken jy het ongelooflike goeie oorredingsvermoë en kan enigiets aan enigiemand verkoop. As jou bolip net so groot soos jou onderlip of selfs groter is, kan jy net iets aan iemand verkoop as jy werklik self in die produk glo. Mense met ’n dominante bolip kan baie uitgesproke wees en dink nie altyd voor hulle praat nie, veral oor dinge wat hulle na aan die hart lê.
Die mondwydte As jou mond wyer as die middel van jou oë strek wanneer jy glimlag, beteken dit jy is gemaklik om voor baie mense te praat. Iemand met ’n smal mond verkies persoonlike gesprekke.
Die kupidoboog Mense met ’n dieper kupidobogie en ’n ronder bolip het baie sjarme en word onweerstaanbaar gevind.
Ken
Breedte As jy ’n baie smal ken het, be teken dit jy hou nie van konflik nie en sal dit vermy. Daarenteen kan iemand met ’n breë ken konflik baie goed hanteer.
Vorm Iemand met ’n ronde ken sal sy besluite op mense en hul gevoelens grond. Daarenteen sal iemand met ’n baie reguit ken besluite neem gegrond op feite. Die gene met spits kenne neem besluite op grond van wat eerstens goed is vir hulself en dan vir ander – hulle weet wat hulle wil hê.
Laat dit vir jou werk
Of jy nou in die werksplek of in ’n verhouding staan, as jy iemand se gesig kan lees, kan jy hierdie vaardigheid aanwend om jul verhouding te verbeter en die persoon slim te hanteer, sê Marthie.