Het jy ook al oor jou drome gewonder? Dalk moet jy probeer uitvind wat dit vir jou wil sê
Deur ANSJA FERREIRA
“Dit is ’n eg menslike behoefte om te soek na die moontlike sin en betekenis van drome wat oënskynlik niks beteken nie en om ’n verband te probeer kry tussen jou droom se inhoud en alledaagse gebeurtenisse, al lyk dit soms of daar geen verband bestaan nie.”
Só sê prof Kobus Maree, ’n dosent van die departement opvoedkundige sielkunde by die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria en die skrywer van drie droomboeke en die boek Jakkalsvoël. “By droomuitleg is dit belangrik om te probeer peil wat ’n persoon se unieke verwysingsraamwerk is.”
Volgens prof Kobus kan drome as ’n psigiese vingerafdruk beskryf word. Dit is ’n vorm van denke; ’n spesiale soort geestestoestand tydens die slaapproses. “Een van drome se primêre funksies is om ’n mens te help om beter by jou omstandighede aan te pas en om verskillende soorte krisisse te hanteer. Drome reageer soms op ’n kreatiewe, maar direkte wyse op elke vorm van menslike trauma soos siekte, sterfte, rampspoed, hartseer, die verlies van werksekuriteit en mislukking.
“Dikwels weier ’n mens om iets bewustelik te erken en ‘dwing’ jou droom jou as ‘t ware om die werklikheid onder oë te sien. Drome is dalk die sentrum van ’n mens se vermoë om groot veranderinge in jou lewe by jou persoonstruktuur te integreer.
“Die emosie wat met die droom gepaardgaan, is baie belangrik,” sê prof Kobus. Geen twee mense se drome is dieselfde en beteken dieselfde nie. Jy kán ’n droomwoordeboek as breë riglyn gebruik, maar net as jy voortdurend jou eie gevoel oor ’n sekere simbool in ag neem.
LEES OOK: Kan nagmerries in ‘n nagmerrie ontaard?
’n Paar algemene drome
Prof Kobus wys op betekenisse:
JY IS KAAL ’n Kulturele taboe keer jou dalk om die mens te wees wat jy wil en kan wees. Of mense het ’n kant van jou gesien wat jy nie graag wou wys nie en jy is bekommerd wat hulle van jou dink.
JY SWEEF Jy wil graag van jou seksuele inhibisies en frustrasies bevry word.
GEBOU ’n Kelder kan dui op jou diepste emosies, ’n hysbak op emosies wat erg wipplank ry en ’n dak wat lek dat jou verdedigingsmeganismes om dinge in jou onbewuste te begrawe, nie meer behoorlik werk soos dit moet nie.
MOTORS As jý bestuur, kan dit beteken jy is in beheer van jou lewe. Kyk wie bestuur as jy die passasier is. Dié mens het waarskynlik baie beheer oor jou lewe. As jou bene nie die pedale bykom nie of die stuurwiel of remme werk nie, is daar dalk aspekte in jou lewe waaroor jy beheer verloor het. Loop ’n motor met jou daarin agteruit, is jou onbewuste se boodskap: Jy voel dat jy besig is om agter te raak, te stagneer of agteruit te gaan.
STERK EMOSIES Drome waarin sterk emosies soos liefde, haat en veral skuldgevoelens na vore kom, verteenwoordig gewoonlik die dromer se onbewuste pogings om onafgehandelde sake te probeer verwerk. Mense voel dikwels verontreg, of dat sake tussen hulself en ander nie afgehandel is nie. Onverwerkte gevoelens van aggressie, verwerping en hartseer kan in ons drome manifesteer.
’n ENGEL Dit verbeeld normaalweg jou behoefte aan raad en leiding, of die stem van die goeie in jou.
DIE HEMEL Jy voel waarskynlik dat jy eendag vir jou moeite of lyding op aarde vergoed sal word of behoort te word.
EKSAMEN Wie het nog nie gedroom van ’n eksamen wat weer afgelê word nie, dikwels van ’n eksamen wat suksesvol afgelê is, terwyl die uitslag in die droom minder suksesvol is? In tye van stres (’n komende toets of eksamen, nuwe werk, verhuising) neem hierdie drome jou waarskynlik terug na ’n tyd in jou lewe toe jy aan heelwat spanning en stres onderhewig was. Noudat jy weer stres en spanning beleef, gebruik jou onbewuste ’n bekende beeld om iets mee te illustreer. Jy voel waarskynlik dat jy ’n taak (’n naderende krisissituasie) op hande het waarvoor jy moontlik nie heeltemal opgewasse of gereed is nie. Die onbewuste se boodskap is waarskynlik die volgende: Jy was voorheen bang vir mislukking, maar het tog geslaag. Hou nou op om oordrewe bang te wees vir die toetssituasie wat voorlê, want jy behoort ook hier sukses te behaal.
JY VIND JUWELE OF GELD Daar lê soms soveel geld dat jy nie alles kan optel nie. Jy word deurgaans al hoe meer bekommerd dat jy nie al die geld in die hande sal kry nie. Die angstigheid in drome soos hierdie is moontlik aan die algemeen menslike vrees vir die dood te wyte. Die dromer is bang die lewe verstryk sonder dat hy of sy dit “behoorlik” geniet het. Hy of sy wil derhalwe elke moontlikheid benut om tydens die aardse lewe plesier te hê. Die geld wat opgetel word (en wat verskuil lê), simboliseer die dinge waaraan die dromer waarde heg, potensiaal, krag of vermoëns (wat moontlik onontgin is).
JOU MAAT IS ONTROU Hierdie is een van die algemeenste temas. Die redes sluit gewoonlik een of meer van die volgende in: Die geliefde is werklik ontrou en jy ontken dit bewustelik; jy is van nature ’n jaloerse en onseker mens en jy wantrou mense maklik; jou geliefde het jou een of ander tyd verneuk en jy kan dit net nie vergeet nie; jy het iets gesien wat jou ontstel (jou geliefde het vir jou net te vriendelik gelyk toe hy iemand ’n drukkie gegee het, maar jy kan of wil nie jou gedagtes onder woorde bring nie); of jou geliefde het op ’n dag ’n onskuldige opmerking gemaak wat jou ontstel of gekwets het en jy het dit wel vergeet, maar nooit vergewe nie.
NAGMERRIES Nagmerries kan ’n waarskuwing van te veel onverwerkte trauma wees. Praat met iemand oor jou angs, pyn en hartseer. Wie het nog nie ’n nagmerrie gehad en huilend, beangs en natgesweet wakker geskrik nie? ’n Nagmerrie is moontlik ’n noodkreet uit jou onbewuste, ’n teken dat jy dringend aandag aan iets moet skenk. Dit is in ’n sekere sin die onbewuste se skokterapie vir jou.
JY VAL Drome dat jy val, dui daarop dat jy hulpeloos voel. óf jy het ’n te hoë dunk van jouself óf jy glo dat jy besig is om jou houvas op die lewe te verloor óf jy koester onrealistiese ideale of fantaseer te veel daaroor. Jou droom is as ’t ware ’n skokbotsing met die werklikheid. Dit kan dui op ’n onbewustelike begeerte om op te gee, of op te hou om jou so hard in te span.
WATER Drome oor water kan op jou gemoedstoestand en emosies dui. Die verband tussen jou en die water in jou droom is onthullend. As jy byvoorbeeld die water binnegaan, gaan jy ’n situasie tegemoet waar sterk gevoelens by jou gewek word. Duik jy in, neem jy die sprong na iets nuuts. Golwe in ons drome dui op sterk emosies wat ons oorweldig. As die golf weg van jou beweeg, is dit moontlik dat sterk emosies jou weer verlaat. ’n Tsunami kan dui op oorweldigende emosies wat jou wil oorweldig. Natuurlik is dit belangrik om (soos altyd wanneer ’n mens drome verklaar) die dromer se agtergrond by die ontleding van so ’n droom in ag te neem. Die tsunami in jou drome behoort te verdwyn wanneer probleme gehanteer en die sterk emosies in jou lewe onder beheer gebring is.
DOOD OF ’n BEGRAFNIS Dit kan dui op die onderdrukking van jou ware gevoelens. Dit is ook moontlik dat jy oor sekere persoonseienskappe en/of gewoontes beskik wat vir jouself of ander mense onaanvaarbaar is en heimlik wens om van hierdie eienskappe ontslae te raak.
AFGESTORWE GELIEFDES As ’n geliefde sterf, gaan ’n mens deur verskillende stadia van rou. Jy beleef ook ’n tyd van verandering, waartydens jy gewoond raak aan die idee dat jou geliefde nie meer ’n konkrete werklikheid is nie, maar nogtans aanhou om in jou gedagtewêreld, gemoed en herinneringe te lewe. Drome waarin hierdie geliefdes weer aan ’n mens verskyn, verteenwoordig die onbewuste se pogings om ’n mens se gevoelens van rou, hartseer, woede, verlange en skuld te hanteer. As die geliefdes wit dra, dui dit op reinheid, volmaaktheid, suiwerheid en loutering. Met ander woorde, die dromer glo (of wil graag glo) dat die oorledene in die hemel is.
TROUE Dit kan op die versoening tussen twee uiteenlopende aspekte van jou persoonlikheid, soos gevoel en rede, dui. ’n Huwelik kan ook dui op ’n poging deur jou onbewuste om die kloof tussen die bewuste en onbewuste te oorbrug. As daar tydens so ’n droom kinders uit die huwelik spruit, verbeeld dit gewoonlik jou eie verwagtings ten opsigte van dit wat uit die verbintenis mag voortspruit. In sekere kulture word daar geglo dat ’n droom van ’n huwelik op die naderende dood van iemand kan dui. Normaalweg dui ’n huwelik egter meer spesifiek daarop dat uiteenlopende aspekte van die dromer se persoonlikheid versoen (behoort te) word.
LEES OOK: Pille vir prestasie
Interpreteer dit self
Helen Randal-Smith, ’n intuïtiewe energiegeneser, gee wenke vir interpretasie:
- Skryf jou droom neer so gou moontlik nadat jy wakker geword het
- Maak seker dat jy neerskryf hoe jy in jou droom gevoel het, nie hoe jy gevoel het toe jy wakker geword het nie.
- Skryf alle objekte, persone of diere neer wat in jou droom was.
Nou kan jy begin interpreteer
- Dink altyd aan wat ’n objek of dier vir jou persoonlik beteken.
- Wanneer jy van ’n persoon droom wat jy ken, is dit gewoonlik ’n aspek van jouself wat jy waarneem. Probeer verstaan watter eienskap daardie persoon besit wat jou inspireer of ontstel en weet dat dit daardie eienskap is waarvoor jyself erkenning soek.
- Volgens Helen is voorspellende drome ’n realiteit, maar dit kom in werklikheid baie selde voor. In ’n voorspellende droom neem die dromer nie eintlik deel aan die droom nie, maar is eerder ’n waarnemer, soos iemand wat besig is om ’n fliek te kyk.
- Drome kan jou waarsku sowel as in ’n sekere rigting stuur. Wanneer ons slaap, is ons bewuste verstand (ego) stil en dan kan ons onderbewussyn en superbewussyn op die voorgrond tree.
Besoek www.kobusmaree.org en www.helenrandal-smith.co.za