Sit jy in die verkeer, sien jy mense koponderstebo besig met hul selfone, in die winkel staan hulle daarmee in die rye. Selfs as hulle ontspan, is die slimfoon in die hand. Maar wat is die impak op ons gesondheid?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Nomofobie noem die geleerdes dit: die vrees om nie toegang tot jou selfoon te hê nie. As jy ‘n tiener het, weet jy nou ten minste wat ‘n mens jou kind se groot vrees noem!
Almal het deesdae slimfone en ja, dit het ons lewe op verskeie vlakke verbeter en ons toegang tot ‘n magdom inligting gegee, maar die negatiewe impak kan ook gesien word.
Mense en kinders wat nie by die skool of werk kan konsentreer nie en nie genoeg slaap nie. Mense sit tot ounag met hul slimfone en voel die effek daarvan op hul liggaam en lewe.
Volgens dr Yolanda Reid Chassiakos, ‘n kliniese assistent-professor in pediatrie aan die David Geffen Skool van Medisyne by die Universiteit van Kalifornië, erken tot 50% van tieners dat hulle aan hul selfone verslaaf is. Hul kan eenvoudig nie hul lewe daarsonder voorstel nie.
In 2015 het vier uit tien tieners minder as sewe uur per nag geslaap. Dit is 5% meer as in 1991 en 17% meer as in 2009 toe gebruik van slimfone toegeneem het.
Is jy aan jou foon verslaaf?
- Jy voel jy moet meer en meer jou foon gebruik.
- Jy weet jy het ‘n probleem, maar kan jouself nie help nie.
- As jy angstig of terneergedruk voel, tel jy dadelik jou foon op.
- Jy besef dikwels nie hoe die tyd vlieg terwyl jy met die foon besig is nie.
- Jou verhoudings of werk ly onder die gebruik daarvan.
- Jy raak angstig, gespanne, depressief, geïrriteerd of rusteloos as jy nie jou selfoon kan gebruik nie.
Fisieke gevolge van verslawing
- Oë wat brand, jeukerig of moeg voel. Digitale oogstremming kan ook hoofpyne veroorsaak.
- Nekpyn omdat jy te lank na ‘n tablet of selfoon afkyk.
- Motorongelukke omdat mense se aandag deur hul selfone afgelei word.
- Swak slaapgehalte, wat ‘n invloed op jou immuunstelsel het.
Sielkundige effek
Verhoudingsprobleme, angstigheid, gevoelens van depressie.
Wat kan jy daaraan doen?
Moenie dadelik jou selfoon gryp as jy wakker word nie. Gebruik die eerste halfuur van jou dag positiewer. Klim uit die bed, maak koffie, spoel jou gesig af, hou stiltetyd of dink oor die dag wat voorlê, strek jouself en begin ontbyt maak.
1. Kry geen-foon-tye
Sit jou foonkennisgewings af sodat jy nie die heeldag gepla word deur Facebook of Twitter wat jou iets wil vertel nie. Kry ook tye wat jy nie aan jou foon raak nie. Dalk die eerste twee uur van jou dag, as jy net by die huis kom of die laaste twee uur van jou dag.
2. Sit jou foon in die motor af
As ‘n mens bestuur, moet jou aandag op die pad wees. Sit jou foon in jou handsak of iewers waar jy dit nie sien nie en konsentreer op die pad en jou omgewing. Jy mag dalk net dinge raaksien wat jy nog nooit gesien het nie.
3. Doen iets met regte mense
‘n Mens het dikwels ‘n regte egte mens by jou, maar jy sal steeds eerder met iemand in ‘n virtuele wêreld gesels of kyk wat hulle aanvang. Dit kan verhoudings vernietig. Fokus op die persoon wat saam met jou is en nie op jou selfoon nie.
4. Slaap
Besef wat jou basiese behoeftes is en moenie dat jou foon jou welstand en gesondheid beïnvloed nie. Bêre eerder jou foon ‘n uur voor slaaptyd sodat jy die tyd betekenisvol kan deurbring.
BRONNE: www.nypost.com, www.psychguides.com, www.lifehack.org