Dis dalk jou beste vriendin, jou swaer of jou eie man. Of is dit jy? Die een wat altyd laat vir alles is. Ons vra hoekom?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ons ken almal so iemand. Daardie persoon wat altyd laat is. As jy sê die braai begin om 15:00 is hy of sy op die vroegste 15:30 daar. Daarom leer ‘n mens later om vir sekere mense te sê om so ‘n halfuur vroeër by okkasies te wees.
Maar hoekom is party mense altyd laat? Het hulle te veel hooi op hul vurk of is hulle net nie oor tyd en ander mense gepla nie?
Die sielkundiges Emily Waldun en Mark McDaniel van Washington-universiteit het gekyk of laatkommers sekere eienskappe deel. In ‘n eksperiment het hulle mense ‘n sekere tyd gegee om ‘n taak te voltooi en party mense kon hul tyd veel beter as ander bestuur.
Dr Susan Krauss Whitbourne, professor aan die Universiteit van Massachusetts, sê mense wat goed met take is wat hulle teen ‘n sekere tyd moet afhandel, kan gewoonlik ook hul eie tyd goed bestuur.
Dr Linda Sapadin, ‘n Amerikaanse sielkundige en skrywer van How to Beat Procrastination in the Digital Age, sê mense wat permanent laat kom, het dalk ‘n obsessiewe gedagtegang.
Sy sê daar is dikwels vrees wat aan ‘n spertyd gekoppel word en dan word dié vrees ‘n verskoning vir mense om laat te kom. “Ek is byvoorbeeld so skrikkerig vir my doktersafspraak dat ek eerder laat kom.”
Ron Helpman, ‘n terapeut wat met hierdie tipe gedrag werk, sê mense wat chronies laat kom, het eintlik verskillende motiewe en patrone wat daartoe lei. Een van die probleme is dat hulle sukkel om te fokus. Dis vir hulle byvoorbeeld vervelig om reg te maak vir werk en dan fokus hulle op iets anders en siedaar, hulle is laat. Hul aandag word gou deur ander dinge, wat opwindender is, afgelei.
Ron sê dit kan ook aangeleerde gedrag wees. Hulle is al so gewoond daaraan om laat te wees dat hulle dink dis oukei.
Is jy altyd laat? Hier is wenke
- Hou vir twee weke dagboek en kyk vir wat en hoekom jy laat is? Begin dan met ‘n strategie en kyk of jy dalk ‘n halfuur vroeër kan ry of van selfoonkennisgewings gebruik maak om jou aan te jaag.
- As jy te laat is omdat jy te veel hooi op jou vurk het, is dit dalk tyd om te leer hoe om nee te sê. Delegeer.
- As jy letterlik altyd tien minute laat is, is dit dalk sielkundig. Jy arriveer wanneer jy wil. Hoekom? Ondersoek jouself en maak ‘n kopskuif.
- As jy altyd laat kom omdat jy dit haat om te wag, moet jy beplan wat jy met jou wagtyd kan doen. Probeer om minstens 10 minute te vroeg vir ‘n afspraak te wees en gebruik die tyd vir iets produktiefs. Skryf ‘n e-pos, lees of gesels met ‘n vriendin aanlyn.
- Skryf neer watter tyd jy waar moet wees en hoe laat jy by die deur moet uitloop. Loop dan eenvoudig daardie tyd, gryp jou sak en keer jouself voor jy weer iets anders wil doen.
BRONNE: www.bbc.com, https://psmag.com, http://www.webmd.com