Hoe vier mense Kersfees op plekke waar hulle noodgedwonge moet wees? Carla van der Spuy stel ondersoek in
Vir gevangenes is Kersdag hul tweede gelukkigste dag agter tralies. Dié dag word met ’n kortkop deur Nuwejaarsdag geklop, want elke nuwe jaar beteken hulle is nog ’n jaar nader aan hul vryheid.
Op Kersdag dink hulle met nostalgie terug aan gelukkiger tye met hul geliefdes en met hoop in hul harte op ’n besoek. Dan lei hierdie dag tot oppervlakkige praatjies en geveinsde vrolikheid. Iets wat hulle glad nie in hul harte ervaar nie.
Hoe bring ons land se gevangenes Kersdag deur? wonder talle. Is dit maar net nog ’n dag soos elke ander dag wat hulle toegesluit is, of maak die departement van korrektiewe dienste (DKD) darem toegewings op hierdie spesiale dag?
Navrae by verskillende gevangenisse landwyd het aan die lig gebring dat dit van die bestuur van daardie spesifieke gevangenis en ook van die erns van die oortreding afhang.
Zachariah Modise, waarnemende nasionale kommissaris van al die provinsies in die land, sê die atmosfeer is dikwels meer ontspanne, maar die roetine is op Kersdag dieselfde as op enige ander dag. In kleiner gevangenisse word wel kerkdienste op Kersdag aangebied.
“Daar is soms vrouegroepe wat geskenke soos teddiebere na die gevangenis toe neem. Geskenke moet egter vir gevangenes geskik wees, soos seep, deodorant en toiletware.”
Hy vertel dat die manlike gevangenes dikwels op Kersdag spesiale maaltye soos twee soorte vleis en slaai kry. Hulle word ook langer besoektye toegelaat.
By sommige gevangenisse word daar weer strenger opgetree.
Andre Mehl, korrektiewe beampte by Obiqua-gevangenis op Tulbagh, wat ook in beheer van die gevangenis se biblioteek is, sê dieselfde streng maatreëls as wat op ander dae geld, is by hierdie gevangenis op Kersfees van toepassing.
Hulle laat egter wel toe dat besoektye, afhangende van die groep waartoe die gevangene behoort, op Kersdag met ’n halfuur verleng word. Gevangenes wat aan die A-groep behoort se kontakbesoeke word tot ’n uur op Kersdag verleng terwyl die gevangenes wat nie kontakbesoeke mag kry nie en tot die B-groep behoort (hulle mag slegs agter glas kuier) tot ’n driekwartier verleng word.
André sê hulle sal ook toelaat dat gevangenes op Kersdag ekstra besoekers kry omdat die besoekertal normaalweg beperk word.
“Ons sit wel ’n spesiale ete op Kersdag voor, maar dit wat die spyskaart behels, hang ook van die verskillende gevangenisse af.
“’n Hoogtepunt vir die gevangenes is dat versoeke na en van gevangenes en hul families op Kersdag deur middel van ’n gemeenskapsradiostasie op die dorp uitgesaai word.”
LEES OOK: Feestyd in die vreemde
In Obiqua, wat daarvoor bekend is dat hulle streng is, maar ook dat min probleme in hierdie gevangenis ervaar word, word egter geen Kersgeskenke toegelaat nie.
Dit het in die verlede probleme veroorsaak soos die insmokkel van dwelms in ’n koekie seep.
Familie en vriende is egter welkom om Kerskaartjies vir gevangenes te stuur.
Rassie Mocke, hoof van die Modimollejeuggevangenis, sê hulle bedien met elke Kersmaal iets ekstra soos ’n aartappel of aartappelskyfies. Dit is iets wat die gevangenes normaalweg nie kry nie, want dit is gewoonlik pap. Hulle kry gewoonlik ook op Kersdag ’n groter porsie vleis. Nagereg word egter glad nie bedien nie.
Rassie sê hulle laat geen geskenke of kos as geskenke toe nie, maar besoekers word wel toegelaat om tydens kontakbesoeke oor die feestydperk die kafeteria te besoek en daar iets vir die gevangenes te koop.
Die gevangenes wat kontakbesoeke kry, word ook toegelaat om saam met hul geliefdes by die gevangenis se kafeteria aan te sit.
Die besoektye, wat tussen 08:00 en 17:00 is, bly egter dieselfde.
Die gevangenes mag ook kontant ontvang en dit kan in die gevangenis se kontantfonds inbetaal word. Hierdie geld kan dan deur die gevangenes gebruik word om van koeldrank tot toiletware op die terrein te koop. Dit is baie goedkoper as by gewone winkels, vertel Rassie.
By Modimolle se jeuggevangenis bied hulle ook op 16 Desember ’n gesinsdag aan en dan word ewe gesellig vleis gebraai. Hierdie gesinsdag mag egter net bygewoon word deur die gevangenes teen wie daar nie verdere klagtes is nie.
Trudie Maneli, hoof van die Middelburg- gevangenis wat ook onder die vroue as “ma Trudie” bekendstaan, sê mense wat iets vir die gevangenes wil beplan, moet ’n versoek aan die streekskommissaris rig.
Hulle het besoekers op 8 Desember, toe hulle gesinsdag gevier het, toegelaat om ’n lekker gekookte maaltyd vir die gevangenes te bring toe daar ook ’n braaidag op die gevangenisterrein gehou is. Slegs gevangenes teen wie daar nie ekstra klagtes is nie, mag dit bywoon.
Familie kon slaaie en ander lekkernye bring, maar dit moes alles deursoek word.
Vir die gevangenes wat nooit besoekers kry nie, is daar geestelike groepe wat hulle oor die mense ontferm.
Past Jonathan Clayton van Hope Prison Ministry wat saam met sy vrou, past Jennifer, veral by die rehabilitasie van vrouegevangenes by Pollsmoor betrokke is, weet hoe dit voel om Kersfees agter tralies te wees.
Hy het self lank gelede ’n vonnis weens bedrog uitgedien, maar werk al dekades lank met gevangenes. Syne is ’n suksesverhaal. (Vrouekeur het in die 15 November 2013-uitgawe oor dié besonderse egpaar berig.)
Jonathan sê veral familievaste oortreders ervaar oor die feestyd skuldgevoelens, berou en skaamte. “Glo dit maar gerus. Selfs geharde misdadigers beleef hierdie emosies.”
Gemengde gevoelens oor Kersfees bring egter ook mee dat onmin in die gevangenis kan uitbreek.
Volgens Jonathan is oortreders baie kwaad en teleurgesteld as hul gesinne hulle nie op Kersdag kom besoek nie. Een het aan hom vertel het dat hy net nog skuldiger gevoel het toe sy ma aan hom gesê het sy gaan hom nie op Kersdag besoek nie omdat sy vyf ander kinders het wat haar nooit weens misdadige bedrywighede teleurgestel het nie. Sy wil Kersdag met hulle deurbring, maar sal hom die volgende dag besoek.
Pogings tot selfdood in gevangenisse neem ook toe.
Wat kan die publiek doen om Kersfees agter tralies draagliker te maak? Jonathan sê mense kan kerkdienste aanbied en boeke, tydskrifte en videos met morele waardes wat op ware verhale gegrond is, skenk. Dit sal hulle laat voel dat daar mense is wat omgee.
LEES OOK: Voorkom konflik dié feestyd
Jonathan sê dis vir gevangenes hartverskeurend as hulle nie daartoe in staat is om vir hul kinders op Kersdag geskenke te gee nie. Babas agter tralies word wel dikwels bederf.
Verlede jaar met Kersfees is geskenke aan vroulike oortreders se 11 babas in Pollsmoor uitgedeel. Kinders word tot op tweejarige ouderdom toegelaat om by hul ma’s in die gevangenis te woon.
Op die webtuiste www.arm.org skryf Joe R Garman in ’n artikel oor Kersdag in die tronk dat Kersdag vir talle gevangenes geen goeie herinnneringe inhou nie aangesien hulle hierdie dag nog altyd in weeshuise, in pleegsorg, verbeteringskole en ander gevangenisse deurgebring het.
Hy skryf ook oor ’n pragtige projek, bekend as die Angel Tree-program, wat weke voor Kersfees in Amerika van stapel gestuur is toe gevangenes gevra is om die name en adresse van hul kinders te verskaf en wat hulle graag op Kersdag vir hul kinders sou wou gee.
Die Angel Trees is toe in winkelsentrums regoor Amerika opgerig. Op die takke het klein engeltjies met die naam, ouderdom en kleregrootte van die kinders gehang. Besoekers aan die winkelsentrums kan ’n engel kies en die begeerde geskenk of ’n alternatiewe geskenk kies en dit aan die vrywilliger gee wat langs die boom sit. Hoewel voorgestel is dat nie meer as 15 dollar aan hierdie geskenke bestee word nie, het party mense so reg in die gees van Kersfees meer as twee keer soveel geld bestee. ’n Paar dae voor Kersfees is hierdie geskenke met die gevangenes se name by die kinders afgelewer.
Wat van: Op ’n vlug, in ’n weeshuis of ouetehuis
Annelize Hansen wat jare lank ’n lugwaardin was, sê Kersfees in die lug kan ’n feestelike ervaring wees. Sy sê een van haar beste Kersdae nog was aan boord van ’n silwer straler wat deur die lug swiep. Dis ook maklik om ’n bespreking op Kersdag te kry.
“By ’n sekere lugredery het ons bemanning vrolike T-hempies en lawwe kopversierings gedra en op ’n ander het passasiers vonkelwyn gekry toe hulle aan boord stap. Daar word moeite gedoen met versierings in die vliegtuig en selfs op die skinkborde.” Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die Abraham Kriel Kinderhuis op Nylstroom, sê by hul kinderhuis vier die meeste kinders die dag met hul geliefdes – partykeer hul eie ouers, ander keer gasouers by wie hulle vakansies deurbring en wat vir hulle soos familie geword het.
Daar is egter ook ’n groepie kinders wat agterbly en niemand het nie, maar vir hulle word daar moeite gedoen om ook spesiaal te voel.
“Ons kinders woon Kersoggend die erediens by waarna hulle dan die res van die dag in die swembad kan baljaar. Engele uit die gemeenskap maak voorsiening vir ’n feesmaal en skenkers maak hul harte oop. Maar ondanks die liefde en omgee, is daar niks wat die behoefte aan eie ouers kan vervang nie,” sê sy. Rina Snyman, bestuurder by Loeriehof- tehuis vir bejaardes op Knysna, sê hul inwoners wil graag Kersdag by familie of vriende deurbring, maar as dit nie moontlik is nie, bly hulle daar. Soms verkies hulle selfs om in Loeriehof te bly, want die gedruis by familie kan nogal uitputtend wees. Baie van hul inwoners is ouer as 90.
“Ons bedien lekker kos met koekstruif en wyn. Die gemeenskap bring geskenkies, sjokolade en koekies. Ons het selfs al ’n gesin gehad wat musiek kom maak het.”
Navrae oor boekskenkings aan DKD: [email protected] / 012 306 2050