Humor is ʼn belangrike deel van die lewe. Dit verlig spanning, lig die gemoed en bring genesing. Tog kan dit ook gebruik word om af te kraak en te verneder sg. vyandige humor.
Dit is dan wanneer die gevaarligte flikker. Is jy ʼn slagoffer van vyandige humor? Beantwoord die onderstaande vraelys om uit te vind:
- Maak jou maat dikwels grappe ten koste van jou?
- Voel jy ongemaklik oor die tipe grappe wat jou maat maak?
- Kraak jou maat jou subtiel af deur middel van grappe?
- Is jou maat se grappe teen jou as persoon gemik?
- Beskuldig jou maat jou van oorsensitiwiteit in terme van die grappe wat hy maak?
- Verontskuldig jou maat homself as hy grappe maak wat daarop gemik is om jou persoonlikheid af te kraak?
- Is daar onopgeloste konflik in julle verhouding?
- Gee jou maat jou dikwels ʼn steek deur middel van ʼn grap?
- Veroorsaak jou maat se grappe ʼn gevoel van minderwaardigheid by jou?
- Ontken jou maat die probleem?
Indien jou antwoorde op bg. vrae meestal “ja” is, is jy moontlik ʼn slagoffer van vyandige humor. Praat eerlik met jou maat en vertel hom hoe jy voel. Indien die probleem bly voortbestaan, gaan spreek ʼn professionele kundige. Die probleem gaan nie vanself weggaan nie.