Is daar iets pynliker vir ’n ouer as wanneer ’n kind sterf? Hoe leef ’n mens weer?
Deur ANNE MARAIS
“O , die pyngedagte: My kind is dood! … dit brand soos ’n pyl in my. Die mense sien daar niks nie van, en die Here alleen die weet wat ek ly …” Die inleiding van dié gedig deur die digter Totius verwoord die pyn van ’n ouer wat ’n kind aan die dood afgestaan het.
Om ’n kind te verloor, is seker een van die ergste dinge wat met ’n mens kan gebeur. Dit verg byna bomenslike krag om die trauma te verwerk en te bowe te kom. Die skrywer dr Helene de Kock en haar man dr Jos de Kock het hul seun Jaco aan die dood afgestaan. Sy sê om ’n volwasse kind te verloor, is iets geweldig ingrypends. “Natuurlik is dit ook verskriklik erg as die kind jonger is. Die feit bly dat dit jou kind is. Toe ek en Jos verneem dat ons seun, Jaco, op pad werk toe die oggend in ’n motorongeluk dood is, het ek net een ding geweet: Ek en Jos kan net bly staan as ons onsself en ons smart aan God oorgee. Die dood is ’n verwoester. Dit verpletter ’n mens. “Ná die aanvanklike skok en ontsettende seer, het ons besef dat ons ’n keuse moet maak. Ons kan óf in die donker put bly óf aanstap en lewe. Elkeen wat ’n kind verloor, moet hierdie keuse maak. “Jy spring dit nie vry nie. Jou besluit affekteer op die ou einde almal se lewens rondom jou. Nie net joune nie. “Ek en my man het baie met mekaar gepraat, baie gebid en baie gehuil. Gevra dat God ons van binne moet heelmaak. Hy het dit gedoen. Dis nou meer as 12 jaar later en hoewel ’n mens nooit vergeet nie en ons Jaco steeds mis, praat ons spontaan oor hom, haal ou herinneringe op en geniet dit. Die feit dat Jaco ’n gelowige was, is ook vir ons ’n troos.”
Hou aan klim
Dr Ansie Gous is ’n kliniese sielkundige in privaat praktyk. Sy en haar man, dr Henk Gous – ’n predikant – se dogter, Janie, het as tiener gesterf. Op die vraag oor watter impak so iets op iemand het, antwoord Ansie vanuit ’n sielkundige oogpunt soos volg: “So iets raak ’n mens se hele identiteit. Jou hele begrip van hoe die lewe werk en hoe God werk, word ten diepste aangetas. Minstens die eerste twee jaar daarna is daar ’n algehele disorganisasie in ’n mens se lewe. Daar moet ’n hele nuwe integrasie van jou menswees, identiteit en gesinslewe plaasvind.”
Wat is die beste manier om so ’n krisis te hanteer? Ansie sê elke mens is uniek en niemand verwerk pyn op dieselfde manier nie. Sy sê dis ’n berg wat ’n mens moet uitklim. “Dit gaan stadig. Soms gee jy twee tree vorentoe, soms twee tree terug. Die belangrikste is om aan te hou klim totdat jy bo kom.” Sy sê verder dis belangrik om daaroor te praat. “Ek het 18 maande ná my kind se afsterwe self ’n sielkundige besoek.”
LEES OOK: Die dood van ‘n ouer
Nog iets wat kan help, is om daaroor te skryf, soos in ’n joernaal. Ansie sê as ’n mens oor iets praat en daaroor skryf, word ander neurobane in die brein geskep wat jou kan help om die proses te verwerk. “In ’n krisis het ’n mens een van twee keuses: Jy kan kies om ’n beter mens te word of jy kan kies om bitter te word. Die kuns is om op die een of ander manier weer sin in die lewe te vind.” Is daar hoop vir ’n ouer wat ’n kind aan die dood afgestaan het? Ansie sê onomwonde: “Ja.” “Daar is beslis altyd hoop, maar dit verg tyd. Werk sagkens met jouself en wees genadig teenoor jouself. In so iets is die hele gesin drenkelinge en kan mekaar nie help nie. Gee mekaar ruimte om elkeen op sy unieke manier te rou en oorweeg professionele hulp.
“Tydens so ’n traumatiese gebeurtenis word jou immuniteit ook aangetas. Sien dus ook na jou gesondheid om. Neem vitamiene in en kry die nodige oefening. Oorweeg dit om ’n antidepressant te gebruik. Jy sal moontlik sukkel om te slaap en baie gespanne wees. Bly egter weg van kalmeermiddels en slaappille, want dit kan verslawend wees.
“Dis ook belangrik om die regte antidepressant te gebruik. Sommige antidepressante maak ’n mens se emosies dood en jy kan byvoorbeeld nie huil nie. Jy moet die pyn kan ervaar. Dit mag nie onderdruk word nie. Dis ook belangrik om betrokke te raak in sinvolle rituele soos werk of selfs iets eenvoudigs soos om in die tuin te werk. Bly besig. Gee ook aandag aan jou ander kinders. Hulle word ook geraak en dis belangrik dat hulle nie nog ’n ouer ook verloor wat emosioneel nie vir hulle beskikbaar is nie.”
Die fases van rou
Die Amerikaanse skrywer David Kessler het saam met die psigiater Elisabeth Kübler-Ross, die bekende boek On Grief and Grieving geskryf. Hierin word vyf fases van rou beskryf:
Ontkenning Hier ervaar ’n mens dat jy so oorweldig is deur die skok van iemand se dood dat jy in ’n totale ontkenning ingaan. Dit is ’n manier om die eerste ruk ná ’n geliefde se dood staande te bly.
Woede Hier kan jy woede teenoor jou vriende, jou familie, jouself, die dokters, die geliefde wat dood is en selfs God ervaar. Gun jouself tyd om deur die woede te werk. Dit is deel van die genesingsproses.
Onderhandeling In hierdie fase probeer jy met God onderhandel met die hoop dat alles net ’n nare nagmerrie is en dat jy gaan wakker word met jou geliefde steeds deel van jou lewe.
Depressie Dit is waar jy ’n intense hartseer beleef en wonder of dit nog die moeite werd is om aan te gaan. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie tipe depressie ’n normale reaksie op ’n geliefde se dood is en dat dit nie ’n kliniese gemoedsversteuring is nie.
Aanvaarding Dit is die laaste fase waar jy die realiteit van jou geliefde se dood kan aanvaar. Dit is belangrik om daarop te let dat dit nie beteken dat alles in orde is nie. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Dit beteken egter wel dat jy realiteit kan hanteer en kan leer om daarmee saam te leef.
LEES OOK: Ma van die jaar: Om ʼn ouma te verloor
Ansie wys daarop dat die jongste studies daarop dui dat hierdie fases nie altyd chronologies op mekaar volg nie, maar dat dit fasette van rou is wat mekaar enige tyd kan afwissel en soms saam voorkom.
Gekompliseerde rou se kenmerke
Volgens die Amerikaanse kliniese sielkundige dr Deborah Koshaba kan die roufase soms gekompliseerd raak deurdat dit in ’n chroniese, uitmergelende geestesgesondheidstoestand, bekend as gekompliseerde rouversteuring, oorgaan. Vroue is meer vatbaar hiervoor.
LEES OOK: Help, my kinders emigreer!
Tipiese simptome van gekompliseerde rou sluit in:
Slaapversteurings, fisieke siektesimptome, gewigstoename of -verlies, afwesigheid van hartseer, paniekaanvalle, verlengde woede en aggressie, terugreik na die verlede, onttrekking, selfvernietigende gedrag, verlies aan belangstelling en fokus op dinge wat aan die geliefde herinner, depressie, bitterheid, geïrriteerdheid, sukkel om normale take te hervat, wantroue in ander mense en ’n onvermoë om die lewe te geniet.
Oorsake van gekompliseerde rou sluit in:
- Skielike afsterwe van geliefde of selfs ’n gewelddadige dood
- Swak ondersteuningstelsel
- As jy ’n gekompliseerde verhouding met die afgestorwene gehad het, soos iemand aan wie jy buitengewoon ná was of met wie jy ’n stresvolle verhouding gehad het.
- Veelvuldige verliese Gekompliseerde rouversteuring word nie gediagnoseer tensy simptome vir minstens ses maande voorgekom het nie.
Behandeling sluit in:
- Kognitiewe gedragsterapie: Gedagtes wat die rouproses kan kompliseer, word hanteer.
- Blootstellingsterapie: Die persoon word aan verskillende mense en situasies blootgestel om weer deel van die normale alledaagse lewe te word.
- Terapie om te midde van die hartseer weer sin in die lewe te vind.
Bronne: www.grief.com, www.share.com, www.psychologytoday.com