Waar kom emosionele etery vandaan? ’n Nuwe studie gee antwoorde
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Anja* (38) sê daar is geen twyfel dat sy ‘n emosionele eter is nie. “As ek ongelukkig is, moet ek die heeltyd aan iets knaag. Selfs as ek gelukkig is, voel ek ek moet dit met iets lekkers vier. Ek bederf myself byvoorbeeld altyd op salarisdae met ‘n ete by ‘n mooi restaurant en as ek en my man baklei, is daar net een pad vir my … Die een yskas toe. Ek was al op soveel verskillende diëte, maar dan gaan dit vir ‘n rukkie goed en as ek weer sien klim die gewig al weer.”
Die Amerikaanse sielkunde-vereniging sê 38% van volwassenes erken dat hulle meer eet as hulle hartseer of gestres is.
Studies het al bevind dat emosionele etery al in jou kinderjare begin. Nou is studies onder kinders in Brittanje en Noorweë gedoen om te sien wat dit beïnvloed.
In die een studie in Brittanje is daar gekyk of emosionele etery deur gene of omgewing beïnvloed word en in die studie in Noorweë is daar gekyk na of ouers ‘n rol speel deur kos as troosmiddel aan te bied.
In die Britse Gemini-studie is meer as 2 400 Britse gesinne ingesluit wie se tweelinge in 2007 gebore is. Ouers moes hul tweelinge se geneigdheid om emosioneel te ooreet aanteken toe hulle 16 maande oud was en weer toe hulle vyf jaar oud was. Daar is gevind dat die omgewing die grootste faktor by ooreet was. Gene was onbelangrik.
Die navorsers Moritz Herle, Alison Fildes, Frühling Rijsdijk, Silje Steinsbekk en Clare Llewellyn, sê dat baie ouers kos gebruik om kinders te troos.
LEES OOK: Het jy geweet dat jou Nespresso-kapsules herwin kan word?
Dit word emosionele voeding genoem, maar dit kan kinders leer om dieselfde taktiek op hulself toe te pas. Kinders wat konstant gevoer word wanneer hulle ontsteld is leer dat kos emosies reguleer.
Hierdie teorie is juis in die Noorweegse studie getoets waaraan byna 1 000 gesinne deelgeneem het. Ouers moes aanteken wanneer hulle hul kinders versnaperings aanbied om hulle te kalmeer of op te kikker sowel as hul kinders se geneigdheid om te ooreet.
Ouers moes oor ‘n paar jaar die vrae beantwoord. Die resultate toon dat emosionele voeding kinders aanmoedig om te ooreet. Kinders wie se ouers kos as troos gebruik, het oor tyd emosioneel ooreet.
Hierdie studies toon dat emosionele ooretery voorkom kan word aangesien dit nie oorgeërf word nie. Ouers moet dus alternatiewe maniere vind om hul kinders te troos.
BRON: www.theconversation.com